2015 Kgalagadi – Dag 4

Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!

Sondag – 2015/09/27

Vandag was een van daardie dae wat mens nooit sal vergeet nie… Maar voor ek daarby kom…

Ons het die oggend eers ‘n koffie gedrink en weer rustig na die sonsopkoms oor die kamp gekyk… en toe die groot oppak met geesdrif aangedurf, want watse ervarings sou daar vandag vir ons voorlê?

Duikertjie langs die pad

Met alles opgeslaan en in die bakkie gelaai, spring ons deur die stort en vat die pad Mata Mata toe… Dis 120km weg, maar anderkant moes ons weer tent opslaan en ons wou natuurlik nie so haastig ry dat ons enige gebeure langs die pad mis nie… So die kamera was weer op die skoot en die ogies aan die uitkyk vir enige vorm van dierelewe of natuurtonele wat verewig moes word.

Na die eerste paar duine gewaar ons duikertjies en ‘n draffende jakkals… en net oorkant die pad van Houmoed se watergat, kom lê ‘n leeuwyfie langs die pad onder ‘n boom… Lekker lui, dikpens gesuip.

Lui leeuwyfie by Houmoed

‘n Entjie verder was ‘n klein skilpadjie in die pad, ‘n arend in die boomtoppe en ‘n paar ander voëls wat die nuwe kamera en lens laat werk het…

En toe ry ons om ‘n draai en sien drie voertuie staan… Die oë was gedraai na iets in die droë rivierloop. Eers het dit net gelyk na ‘n jongerige gemsbokkie, wat by ‘n boom staan, maar toe besef ons daar is ‘n slang in die gras… Figuurlik gesproke.

Leeu in die gras

Christoff het die bakkie geskuif vir ‘n beter observasie-hoek en ons het skaars Escapé se dreuning stilgemaak, toe draai die bokkie om en leeu se kind vat haar kans…

Stormende leeu
Geel oë vasgenael op die bokkie – perfek vasgevang deur Christoff

Dit was geluidloos en blits vinnig en voor die bokkie geweet het wat tref hom/haar, toe is die leeu daar…

En die bokkie skrik te laat wakker…

Terwyl die bokkie se hartseer gebalk nog duidelik hoorbaar was, het die leeuwyfie se jagmaat opgedaag en het beide leeus aan die bokkie begin lek en byt, totdat dit later begin stil raak het… My hart trek elke keer saam as ek die bitter einde van die bokkie herleef, maar wat ‘n belewenis om die leeus in aksie te sien… En dit te kon vasvang op fotos… Alles voor halftien in die oggend…

Volstruis geêts teen die blou lug
Valkie langs die pad

Maar anders as die leeus, het ons nog nie ontbyt gehad nie en na die opwindende oomblikke naby Kamfersboom se watergat, is besluit om aanstaltes te maak.

Die oggend het ons verder beloon met ‘n valkie, met sy vangs, op ‘n stomp… ‘n Indrukwekkende volstruis op die rant van die droë rivierloop…

Wilde kat in die boom
Sekretarisvoëls by Rooibrak

‘n Lui wilde kat gemaklik in ‘n boom se mik en ‘n paar windmakerige sekretarisvoëls by Rooibrak se watergat.

By Kamqua se piekniekplek is daar heerlik ontbyt gemaak en stories uitgeruil met die ander voertuie se mense wat ook die vangs beleef het… En die vangs-vertelling is natuurlik ook graag gedeel met die wat dit gemis het.

Kamqua piekniekplek

Een van die voertuie wat ook gestop het, het vertel dat hulle seker 40 minute langs die pad gestaan het, waar die bokkie platgetrek is. Die leeuwyfie wat later bygekom het, was blykbaar uit om die bokke se aandag af te trek deur op die rivierloop se rantjies te loop en brul… So, daar was beslis met ‘n plan gewerk om te sorg dat hulle die oggend iets te ete kon kry.

Herstellende gespikkelde hiëna

Die res van die pad was daar ‘n valkie in ‘n boom, wat aan iets gesmul het en ‘n slapende gespikkelde hiëna onder ‘n boom. ‘n Verbygaande voertuig het ons attent gemaak op die hiëna wat net langs die pad onder ‘n boom gelê het. Hulle het verduidelik dat dit blykbaar in ‘n onderonsie betrokke was tussen twee gespikkelde hiënas en ‘n bruin hiëna ‘n dag of wat gelede.

Koelte-soekende kameelperde

Ons het ook ‘n gompou gesien – ons eerste blootstelling aan ‘n gompou – en ‘n groep kameelperde. Ons het onlangs kameelperde in die bosveld te siene gekry, maar hierdie menere was aansienlik groter as die bosveld se langnekke… In die Kalahari hitte soek selfs die kameelperde so lê-lê die koelte van die bome op.

Uil oppad na Mata Mata

Die Kgalagadi besoekers is nie almal net op groot-wild-kyk uit nie. Daar is ‘n paar kranige voëlkykers ook en hulle het ons ‘n keer of wat aan die kopkrap gehad oor wat die verkykers besig was om te besigtig… Maar te danke aan hulle, kon ons wel ‘n pragtige uil te siene kry wat groot-oog, helder oordag, vir die mense sit en kyk het, wat hom sit en bekyk het.

Naby die Veertiende Boorgat se watergat het ons in die verte twee jagluiperds te siene gekry, wat besig was om aan hulle vangs van die dag te smul. Ons is later vertel dit was ‘n jongerige springbokke wat daar gevang was… Maar hulle was egter te ver om hulle behoorlik op kamera vas te vang.

Pasgebore springbokkie

Nog ‘n hoogtepunt van die dag was die redelik-pasgebore springbokkie waarop ons afgekom het. Hulle was basies reg langs die pad en die outjie was in proses om sy eerste wankelrige treetjies te gee.

Mata Mata se hek

En toe is dit in by Mata Mata se hek…

Daar is weer papierwerk afgehandel, voor ons ‘n staanplek onder ‘n boom gaan soek het en sommer dadelik tent opgeslaan het. Met daai werk afgehandel, het ons ons warm lywe in die swembadjie gaan afkoel. Dit was ‘n heerlike lafenis na ‘n baie warm dag.

Staanplek 6 in Mata Mata
Potjie tyd

Terwyl Oupa Ampie die potjie begin, het Fanie van Vryburg (amptelik van Bray se kontrei) kom geselsies maak en kon ons met smaak vertel en fotos wys van die dag se ervaring.

Elke keer as ons na die fotos gekyk het, was ek maar net te dankbaar dit was Christoff agter die kamera se lens en nie ek nie… Ek sou verseker nie fokus gehou het nie.

Mata Mata het ‘n spreilig wat op die watergat in die rivierloop skyn. Daar is ‘n skuiling in die heining gebou waar mens rustig kan gaan sit en na die gebeure by die watergat kyk. Na ons potjie en pot-nagereg met oorgawe verorber is, het ons bietjie in die skuiling gaan sit.

Eers was daar net een gemsbok wat skugter nader gekom het, maar later het daar nog ‘n paar nader gekom. Hulle het ‘n bietjie wisselwerking gehad, deur een gemsbok wat deur die ander weggestoot was as hy naby die water gekom het. Maar verder was dit ‘n rustige waterdrink…

Daar het selfs ‘n jakkalsie reg voor ons verbygedraf agter die braaivleis-reuke aan, maar ongelukkig vir hom was daar nêrens deurkruipplek deur die draad nie. Hy’t so jakkalsdraai gemaak en in die duister verdwyn.

Ons kon ons ook verlustig aan die blou maan wat oor die Kgalagadi opgekom het, maar toe die windjie begin koud raak, het ons besluit om bed se kant toe te staan… Ons heerlike nagrus was egter “versteur” rondom halfvier, toe die leeus in die omgewing al brullende begin gesels het… En so aangehou gesels het, tot kort voor sonsopkoms.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *