2016 Kgalagadi – Dag 10

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Maandag – 2016/09/26

Maandagoggend het ons half teleurgesteld wakker geword. Daar was geen leeus wat ons deur die nag wakker gebrul het nie. Bitterpan het geen ervarings met roofdiere opgelewer nie, maar die stilte, rustigheid en afgesonderdheid was ongelooflik genoeg dat ons weer wil teruggaan.

Ons het ‘n koppie koffie op die stoep gesit en nuttig toe die bure ons net betyds attent gemaak het op die lieflike sonsopkoms agter ons…

Sonsopkoms in Bitterpan

…En toe kruip die son oor die huisies en verlig die pan.

Sonsopkoms oor Bitterpan

Ons het ons goedjies in die kombuis gaan opruim en afgekom op Jo wat vertel het van die uil wat die vorige nag op hulle dak se nok kom lawaai maak het… Eers was dit “wow”, maar later was dit “enough already”… Met haar Britse aksent het dit omtrent gevoel of ons uit ‘n Bridget Jones fliek gestap het.

Met ons goedjies gepak het ons ons Wildernis bure omtrent soos ou vriende gegroet, voor hulle ‘n draai gaan ry het… en ons alles van die beste toegewens het vir ons nuwe toekoms saam en al ons groot planne.

Die pad van Bitterpan af Craig Lockhart toe, was omtrent ‘n 4×4 ondervinding. Die omgewing was asemrowend, veral so in die vroegoggend lug… en die gebrek aan dierelewe het ons vir geen oomblik gepla nie… Dit was ons en die rooi sandpad… of spore…

Rooi sandspore

Ons het by Strathmore se watergat ingery en was beloon met ‘n kranklike windpomp wat duidelik nie meer sy werk gedoen het nie… Maar dit was ‘n groot windpomp-oomblik!

Strathmore se verwoeste windpomp

Met die duine uitdagings het Christoff homself goed van sy taak gekwyt, maar dit was wel so ‘n geskud, dat die een sak hout op die dak sommer uitmekaar geskeur het… en ons genoodsaak was om weer skelm-skelm uit te klim uit die bakkie uit… Teen die tyd het ons glad nie meer so skuldig daaroor gevoel nie.

Escapé in sy element

Daar was ‘n Pietertjie en ‘n paar ander voëls op die roete, met een Pietertjie wat kort voor die bakkie ‘n akkedis of ‘n ding gevang het, so in sy vlug.

En skielik was ons oor die duin en terug in die Auob-rivier se loop.

Pad terug na die grootpad

By die grootpad het ons opgedraai Mata Mata toe, hoofsaaklik om ‘n draai te gaan loop, maar ook vir die nostalgie. Ons het vir Oupa Ampie iets in die winkeltjie gaan koop en toe gaan middagete eet in die skuiling… Die watergat was op ‘n ander plek as laasjaar… en ons het vir ‘n oomblik herleef hoe die leeus ons die aand by die watergat intimideer het.

Langs die pad is ons seker by een van die grootste troppe springbokke verby wat ons nog so bymekaar gesien het…

Honderde springbokke naby Rooibrak

…en by Rooibrak het ons ‘n dejavu oomblik gehad met 2 sekretarisvoëls en kon ‘n foto (baie soortgelyk aan 2015 se besoek) neem.

Rooibrak sekretarisvoëls

By Gemsbokplein was daar ‘n voertuig in die uitkykpunt se pad en soos ons nader kom sien ons die rede… Daar was twee jongerige leeumannetjies wat heerlik in ‘n koelteboom aan die dut was…

Jong leeumannetjies aan die dut in die koelte

Ons het net lank genoeg vertoef om ‘n foto of twee te neem en weer teruggery hoofpad toe… Net anderkant die uitkykpunt se pad, was daar toe ‘n wyfie en ouer mannetjie wat ook vir hulle dagslapie skuiling teen die son gesoek het. Hulle was egter meer beskut en verder van die pad af.

Ouer leeus in die koelte oorkant die pad

By Kamfersboom se watergat was daar ‘n yl waterstroompie. Daar was ‘n Bateleur besig om water te drink… Ons kon weer heerlik ons roofvoël fotografie oefen en het selfs die wegvlieg vasgevang… Maar ons sal nog moet oefen, want die wegvlieg-fotos was nie een behoorlik in fokus nie.

Iewers na Monroe se watergat sit daar toe ‘n pragtige blouvalkie in ‘n boom. Ons moes natuurlik stop om hom af te neem, want dit was darem nie net nog ‘n Pietertjie nie.

Blouvalkie

En skaars ‘n paar meter verder, sit daar toe so ewe aasvoëls in die boom…. Naby genoeg om hulle beter af te neem, met die lang lens.

Aasvoëls naby Monroe watergat

En toe ons ons kom kry, toe begin ons uit die Auob rivierloop uitry… Op en af oor die duine…

So tussen die duine deur, voor mens in die Nossob-loop beland, kry ons toe ‘n witvlerkkorhaan langs die pad. Die outjie het geloop en roep na ‘n maat en hierdie keer kon ons ‘n mooi foto neem. Nie soos die een wat ons op afgekom het op die Bitterpan pad nie.

Kort voor Twee Rivieren se hek, het Christoff vir die eerste keer die bakkie uit 4×4 gehaal, sedert ons by Twee Rivieren uit is… Escapé het hande viervoet gehol die hele week… soos hy (en ons) daarvan hou!

Daar was ‘n paar gemsbokke naby die kamp se hek, maar verder nie veel nie… Ons wildkykery was op ‘n einde…

Ons permit het sy laaste inskrywing gekry, so met die inklok by Twee Rivieren. Ons het gaan nesskrop by nommer 29 hierdie keer (laas was 26) en het half hartseer besef hoe min het ons nodig om uit te pak en in die yskas te sit, in vergelyking met die aankoms… Ons Kgalagadi kuier was op ‘n einde.

Maar, met selfoon-opvangs in die kamp, moes ons die Moeders laat weet van die gebeure by Union’s End… en toe die res van die families en vriende. Met al die geselsies afgehandel, het ons ‘n vuurtjie aangesteek, maar hierdie keer het ons braai weggewaai. Daar was ‘n warm wind wat oor die veld aangekom het en ons het volstaan op pap en warmgemaakte oorskiet braaivleis van Bitterpan.

Na ’n lekker warm stort het ons een-een verkas droomland toe… Dit was ‘n opwindende paar dae.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *