2016 Kgalagadi – Dag 4

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Dinsdag – 2016/09/20

Twee uur Dinsdagoggend, word ons deur ‘n leeu wakker gebrul. Dit was so dreunend die meneer kon net buite die kampdraad gewees het… Ons het haastig ons sweetpakke aangetrek en is vol afwagting watergat toe… In die uur wat ons daar gesit het, het ons geluister na ‘n jakkalsie wat vreeslik gekla het, afgewissel deur die leeu se gebrul… Dit het al nader en nader gekom… en toe weer al verder en verder…

Tussen die gebrul en getjank deur, het drie hiënas kom water suip en weer druipstert weggeslink… en later ‘n jakkalsie. Moontlik dieselfde een wat so getjank het, want toe was die tjankery stil… maar nie die gebrul nie… Al was dit net nog verder… So ons is toe ook maar druipstert terug tent toe vir ‘n paar uur se verdere rus… so tussen die gebrul deur.

Ons eerste koppie koffie was rustig op die kampbedjies genuttig, met komplimente van Christoff, maar toe is dit ‘n geskarrel om onsself skoon en vars te kry vir die dag, ‘n koelboks te laai en die kameras in die bakkie te kry… Kort na 8h kies ons toe koers in ‘n noordelike rigting… net om ‘n kilometer of 3 verder weer om te draai… Ons het nooit ons permit by die kantoor gaan afhaal nie.

Die omdraai het ons paaie laat kruis met Mosselbaaiers wat net by die Nossob noordelike hek uitgery het en eers wou weet of ons al iets gewaar het. Ons het maar net grootoog verduidelik van die geheue-blaps… Kort na ons weer amptelik begin noord ry het, kry ons hulle so 10km uit die kamp uit van voor af en hulle deel toe graag die nuus dat ‘n veldwagter hulle vertel het van ‘n leeu wat net af van die pad af lê en slaap.

Ons het omgedraai en hulle gevolg en toe wel die leeu gekry… Ons kon egter nie die mannetjie regtig in ‘n foto vasvang waar hy onder ‘n struik gaan slaap het nie. Ons klim toe maar weer terug in die grootpad noord. Kort voor Cubitje Quap sien ons kudus (vir ons ‘n eerste vir die park) en oorkant die watergat betrap ons ‘n kransvalkie waar hy besig was om sy vangs se vere uit te pluk.

Die kransvalkie was bietjie verskuil agter die lang gras, so ons het maar oorgery na die oopte van die watergat. Aan Christoff se kant van die bakkie, het ‘n rooibors laksman op die grond rondgepeuter… En terwyl Christoff die rooibors laksman onder kamera-korrel gekry het…

Rooibors laksman – ewe kordaat

…het ek die vlae van duikende-drinkende voëls by die watergat probeer vasvang.

Vlae voës kom drink by Cubitje Quap se watergat

Net anderkant Cubitje Quap het ons weer die kudu ooie gekry, waar hulle die grondpad gekruis het. Ons kon hulle mooi van naderby beskou en afneem, voor hulle in die lang gras verdwyn het.

‘n Entjie verder het ons die kudu bulle in die rivierloop gewaar. Die twee wat so saam gestaan het, het vir interessante fotos gesorg.

Om een of ander rede het ons Kwang se watergat so bietjie misgery, maar by Bedinkt was daar ‘n troppie gemsbokke, met ‘n kalfie, omtrent so oud soos die een wat laasjaar deur die leeu gevang is. Ons kon lekker kyk hoe die jongetjie staan en water suip, sonder enige gevaar in die omgewing… Maar helaas, dis nie so boeiend soos om ‘n leeu een te sien vang nie, so ons het na ‘n rukkie weer in die pad geval.

Ons het mense van voor gekry wat ons vertel het daar is leeus, besig om te paar, by Polentswa. Blykbaar is dit ‘n dag se storie, so ons was nie te haastig om daar uit te kom nie.

Ons het dus nie Langklaas misgery nie, al kon ons eintlik, want daar was niks te sien nie… en so is ons toe deur Polentswa toe, waar die twee leeus hulleself vermaak het… en bietjie gerus het… en dan was dit weer sulke tyd…

Hulle was bietjie vêr van die staanplek en pad af, so ons moes maar mooi korrel om enige iets te kry wat die moeite werd was om te wys…

Ons het hulle ‘n rukkie dopgehou, maar dit het warm geraak en die blase het begin kla… so toe rits ons maar eers verder na Lijersdraai se piekniekplek toe.

Terwyl Christoff die high-lift jack vasgemaak het (dit het bietjie geraas gemaak op die sinkplaatpad), het ek ‘n spul fotos van die For-The-Birds voëltjies geneem. Hulle lyk dalk nie soos daardie animasie voëltjies nie, maar hulle klink net so…

Familie voëltjie

Met alles vasgemaak wat moes vas en leeg-gemaak was moes leeg, stel Christoff voor ons ry sommer Union’s End toe. Dit was eintlik op die volgende dag se skedule, maar dit was nog vroeg genoeg in die dag om daar uit te kom en die 130km weer terug Nossob toe te maak.

Kannaguass was die volgende watergat en daar het ‘n Bateleur in die boom gesit.

Christoff het die 600mm op die arend aangewend, terwyl ek die aankomende buffels… ag, blou wildebeeste… afgeneem het.

Daar was ook ‘n troppie koelte-soekende springbokkies, wat maar naby moes staan om die skrapse koelte van die amper-dooie boom te benut. Dis nou vir die wat nie saam met die groter trop onder die groter koelte wou saamdrom nie.

Blou wildebeeste skop stof op oppad watergat toe
Springbokkies soek die koelte op

Die volgende watergat was Union’s End s’n. Daar was daar ‘n massiewe aasvoël aan die drink, maar soos ons nader gekom het, het die ou met lang treë, en toe ‘n spring of twee, momentum opgebou voor dit met moeite weggevlieg het… Daar was ‘n windpomp by die watergat, maar Mnr Gouws het nie eers ‘n poging aangewend om te stop nie. Hy wou hoekie toe…

Die amptelike Union’s End het gewag! Daar waar Suid-Afrika se puntjie tussen Botswana en Namibia lê… En al wat daar is om die plekkie te merk, is ‘n kennisgewing bord en ‘n rigting aanwyser, so paar meter van die Namibiese grensdraad af. Na Botswana toe is dit net die droë loop van die Nossob.

Die einde van die Unie

Ons het ‘n paar fotos geneem – selfs ek moes by die rigting aanwyser staan – en gaan staan toe en bewonder die vlaktes wat eindeloos voor ons uitstrek… en skielik klop Christoff se hart heel onstuimig hier teen my oor… Daar sak hy langs my af op sy een knie, met die woorde: “Hier is nou die einde van ‘n Union, maar dis ook die begin van ‘n Union, as jy ja sê… Meraai, sal jy met my trou?” … Op daardie oomblik het my woorde my verlaat en al wat ek kon doen was om hom te soen en soen en soen…

Unions End se eindelose vlaktes na Botswana se kant toe

Die oomblik was so groot, dat ons nie eers daaraan gedink het om die driepoot (wat in die bakkie was) en die afstandbeheer vir die kamera (wat OOK in die bakkie was) in te span nie. Ons sal maar eendag moet teruggaan om ‘n saam-kiekie te gaan neem… Union’s End sal nou een van my gunsteling plekke wees!

Oppad terug het ons darem by Union’s End se watergat gestop, sodat ek my windpomp foto kon kry…

Die terugrit van Union’s End af was die fokus nie heeltemal op die goed in die park nie, maar ons het wel ‘n dwarrelwind, aasvoëls en miershope gesien en afgeneem.

By Polentswa was die leeus nog doenig, maar daar het intussen vier roofarende in die boom kom sit. Hulle het lank gesit met hulle vlerke oopgesprei in die son.

Roofarende by Polentswa

Ons was nie heeltemal seker of hulle die tyd van die dag nog vlerke warm sou maak nie, maar kort voor lank het nog ‘n dwarrelwind verbygekom en die arende het een vir een in die draai van die dwarrel begin opsweef.

Van Polentswa af is ons heel onsuksesvol by elke watergat in… Maar ons het onthou van die leeu kort voor Nossob se kamp. Ons het dus weer op die dienspad ingedraai en gekyk of die leeu mannetjie nog daar is… en inderdaad! So het hom nog daar gekry… aan die slaap…

Ons het die bakkie geskuif en die geluid van die enjin het hom so bietjie laat lewe kry…

Maar ook net lank genoeg om van posisie te verander en weer in die koeler kolletjie te gaan verder slaap.

… Dan soek ek maar nuwe koelte op…
… dan slaap ons verder…

Terug by die kamp het oom Fires van Mosselbaai (die oggend se paaie-kruiser) kom vertel daar was ‘n cheetah-vangs by die Nossob watergat, met leeus wat die cheetah toe verjaag het… Kyk, ons het ‘n opwindende dag gehad, maar om so iets te mis, was nog steeds sleg om aan te hoor…

Dit het egter gelei tot ‘n herlewing van ons leeuvangs van laasjaar en Christoff kon oom Fires, en Brian van Bloubergstrand (die ander buur-kampeerder), beïndruk met die fototjie, sommer so op my foon.

En toe sak die son oor Nossob… en ons tweetjies, pas-verloof, sit en gesels oor die toekoms wat voor ons lê, terwyl ons vleisie op die kole sus en ek kort-kort aan die spinasie, in ons rooi pot, roer.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *