2017 Paternoster – Dag 2

Wellington hou partytjie!

Sondag – 2017/08/13

Met die waterbeperkings in die Kaap, was die volgende oggend se stortery ‘n storie… en as dit nie vir die Kaapse winterweer was nie, kon dit baie naby gekom het aan ‘n bos-stort.

Oom Frank het ‘n groterige emmer in sy stort. Dit het nogal eksperimentering gevat om seker te maak mens laat meeste water in die emmer beland. As jy wydsbeen oor die emmer staan, dan gaan heelwat water teen jou bene af verlore… As jy met een been in die emmer kan staan, is dit beter… maar gelukkig het ek klein voetjies, so ek het met beide voete in die emmer opgeëindig as die kraan oop was.

Maar deel van die waterbesparing het ook maar gesorg dat ons net hare was as dit REGTIG nodig was… en dit was daardie oggend nog nie heeltemal nodig nie… soos dit duidelik uit ons Gouws-foto blyk…

Ons het in die nuwe Party Bus geklim en ‘n draai in die Strand gaan maak om tannie Rita (Oom Jan se skoonsus) op te laai… en so tussen die gebabbel deur ry ons die Kaapse binneland in Wellington toe. Oom Jan se kinders het sy verjaardag-ontbyt gereël by Val Du Charron en ons het so amper 90 minute se ry gehad om daar uit te kom.

Die uitsig vanaf Val Du Charron se stoep

Soos wat die familie arriveer het, het die kuier sommer al in die parkeerarea begin… en so stelselmatig in die restaurant in beweeg, sodat oom Jan verras kon word, wanneer hulle daar aankom.

Dit was vir oom Jan ‘n groot oomblik toe hy daar aankom en die emosie het sommer oorgeloop oor die wange… Ek het self lekker saam gehuil. My trane was ‘n mengsel van vreugde vir die familie wat die 80-mylpaal kon vier… en hartseer vir my pa wat ‘n paar weke voor dit weggeval het.

Dis altyd lekker om as nuweling (of buitestaander) ‘n familie dop te hou… veral ‘n familie wat mekaar lanklaas gesien het. Die grappies en stories wat gedeel word, van vorige ervarings of gebeure in die tye wat hulle uit mekaar was. Die drie generasies se interaksie met mekaar en onderling…

En soos met enige groot familie aangeleentheid, het die instruksie vir fotos neem gebeur en was almal uitgemarsjeer om te gaan fotos neem.

La, Pa Ampie, oom Jan, tannie Elma, oom Frank en tannie Rita

Die Gouws-verteenwoordigers (links)

Dit was my eerste blootstelling aan daardie deel van die Bester-familie. Wat ‘n gesellige en aangename klomp mense!

Maar soos wat almal aanstaltes begin maak het om te ry, wou ‘n klomp nog kuier en het die Party Bus ook maar pad gevat Wellington toe om by die ouetehuis te gaan verder kuier.

Tannie Elma het uitgehang met eetgoed en ons het omtrent hulle sitkamer oorgeneem. Die storietjies en delery het met vuur voortgeduur en tannie Rita het ons almal laat sleg lyk toe sy sommer van haar hurke af kon regkop kom, sonder om haarself op te trek of stoot.

Maar so het die kuier ook tot ‘n einde gekom en moes ons koers kies terug Strand toe om tannie Rita terug te besorg, voor ons gaan rustig raak het by oom Frank se huis.

Dit was ‘n voorreg om oom Jan se verjaardag met hom en sy familie te kon deel!

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *