2017 Paternoster – Dag 4

Kaggel en kaarte!

Dinsdag – 2017/08/15

Ons het heerlik geslaap, tot so om en by 7h, maar toe begin die blase en koffielus die oorhand kry. Met die ketel oppad kook toe, het Pa en oom Frank hulle verskyning gemaak en kort voor lank was Moekie ook uit haar kamer. Pa Ampie se beskuit is nadergetrek en ons het aan die kuier geraak… ten aanskoue van ‘n mooi sonsopkoms.

Sonsopkoms van die stoep af

Buite was dit koelerig, maar Christoff het tekkies gaan aantrek om te gaan draf. Ek was ook lus om bene te rek, maar het nie drafklere ingepak nie, so ek het sommer net die vorige dag se klere aangetrek en kaalvoet die strand aangedurf.

Dis ‘n lekker lang strand om op te gaan stap, maar daar is heelwat dele wat die skulpe geen ruskans vir ‘n kaal voet oplewer nie… Maar die stap was lekker en ek was kort na Christoff terug op die stoep. Ons het nie ons eie badkamer gehad nie, so Tannie Elza het aangebied dat ons hulle badkamer kon gebruik. Sy en Pa Ampie was reeds in die kombuis doenig om ontbyt aanmekaar te slaan.

Smullery in die sitkamer

Paternoster is ook onderhewig aan dieselfde waterbeperkings, so die stortery was ‘n kort storie. Ten minste was ons lywe weer vars, warm en in skoon klere.

Na ‘n heerlike ontbyt, het die ouer garde in die sitkamer vasgehak met ‘n vars koppie koffie en ‘n stuk buurvrou-vrugtekoek vir nagereg. Pa Ampie en La se buurvrou bak die heerlikste vrugtekoeke en hulle het een saamgery – al die pad van Pretoria af.

Met die vorige dag se mossel-geselsies met die locals, het oom Philip ook genoem dat hy moontlik in die mark is vir mooi groot perlemoen skulpe… So daag die manne toe deur die loop van die oggend op, met ‘n paar skulpe en oom Philip het met graagte sy belofte gestand gedoen en die grootstes van hulle hande af geneem.

Trotse kopers

Die weer het meer triestig begin raak en toe ons besef ons gaan ons maar in die huis moet besig hou, het die pak kaarte verskyn.

Ek en Christoff het op die bank gaan stelling in neem en ons verlustig in die kaartspelers. Die nuwelinge is onder die veterane se vlerke geneem… En elke kort-kort het ‘n “Waar is dit lekker?” gevolg deur ‘n “Hier is dit lekker!” opgeklink.

Kaartspelery by die eetkamertafel

Christoff het die kaggeltjie aan die gang probeer kry, maar dit het ‘n gerokery van ‘n ander aard opgelewer.

Ons het uitgedraf na die woonstelletjie se afdak toe om die skoorsteen te gaan beloer van buite en dadelik besef dit werk nie soos dit moet nie. Dit draai nie saam met die wind, soos die ander skoorstene nie… Die gevolg was dat die wind al die rook weer teruggewaai het deur die skoorsteen.

Na ‘n soektog vir ‘n leer, het ek maar op Nora se knoppie gedruk… en sy het weer op Janion, haar man, se knoppie gedruk.

Op daardie stadium het die kaartspelers in die eetkamer al soos ‘n toneel uit ‘n Godfather-tipe fliek gelyk. Tussen die bolle rook deur, was dit net die sigare wat gekort het om die prentjie Hollywood-status te gee.

Janion het tot ons redding gekom, die leer uit die garage gaan haal en die glibberige grasdak beklouter. Hy het ‘n paar keer teruggegly, maar het darm sonder voorval by die nok uitgekom, van waar hy na die skoorsteen geskuifel het.

Die oomblik toe die skoorsteen gedraai is, het die rook bo begin uitborrel en kon ons die deure bietjie oop laat staan om die vertrek terug na normaal te laat keer.

Ek en Christoff het ‘n lysie by die aand se kokke gekry en weer dorpwaarts gery om in Vredenburg se winkels te gaan aankope doen.

Met een van oom Frank se “blaaskansies” het die manne sommer bietjie op die stoep vasgehak vir ‘n kuiertjie, terwyl die vrouens ander sake in die huis kon bespreek… Tannie Elza het begin met voorbereidings vir aandete en ek het gesorg dat almal se glase en bekers vol bly.

Stoep praatjies

Met sononder het die misreëntjie bietjie opgeklaar en kon ek die strand storm om ‘n paar fotos te neem, voor ek weer by die gesellighede in Zula aangesluit het.

Sonsondergang oor die see
Vertellers
Luisteraars

Aandete was weereens ‘n fees uit Pa Ampie en Tannie Elza se kundige kookhande en ons het sommer so om die tafel bly sit en kuier, terwyl die opruimspan aan die werk gespring het. Hierdie keer was dit La en die Oompies se beurt. “Flippie, ek verlang na jou” of “Flippie, ek’s alleen” het opgeklink van die opwas af, as oom Philip te lank in die geselskap vasgehak het en oompie Frank eensaam geraak het by die wasbak.

Dit was nie lank daarna nie, toe begin almal aanstaltes maak vir tande borsel en beddegoed opsoek.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *