2017 Paternoster – Dag 5

Party op Paternoster!

Woensdag – 2017/08/16

Woensdagoggend was ons weer vroegerig uit die vere, maar toe ons afgaan kombuis toe, sit die verjaardag maatjie reeds alleen voor die TV in die donker en oggendnuus kyk. Dit was Pa Ampie se verjaardag!

So tussen die koffie en beskuit deur is hy geluk gewens en het ‘n geskenk of twee in sy hande beland, soos die ander ontwaak en by ons aangesluit het.

Na die eerste koppie koffie, het Christoff weer tekkies aangetrek en ek het weer kaalvoet pad gevat oor die strand. Christoff het dorp se kant toe gedraf, maar ek het weer dieselfde skulp-besaaide roete aangedurf… Net om halfpad weg met groot druppels natgespat te word… Soos ek omkyk om te besluit of ek moet terugdraai, is ek beloon met die mooiste reënboog, wat ek in ‘n lang tyd gesien het.

Vol reënboog met ‘n gedeeltelike dubbelboog

Dis nie totdat mens daardie kant toe kyk, wat jy die komende weer sou opmerk nie.

Reënboog oor Paternoster

Sopnat, maar trots op my vangs, het ek weer kort op Christoff se hakke teruggedrup by die huis. My nat en koue lyf het Moekie se simpatie uitgelok en is daar dadelik vir my water in haar bad getap… ek was skaars in die badkamer met my badkamersakkie en droë klere, of ‘n beker koffie het ook sy pad na my hande toe gevind.

Terwyl ek besig was om klaar te maak, het die geure van die ontbyt voorbereidings in die huis begin rondhang. Aan tafel, was daar vir elkeen ‘n klein bakkie op sy bord, met ‘n bietjie water in… Waarvoor sou dit wees?

Toe ons later aansit, was daar ‘n gekleurde papiersirkel by elkeen se bord… Die instruksie was om die gevoude papier in die bakkie water te sit… Stelselmatig het die papier oopgevou in ‘n blom met ‘n boodskap. Elkeen se boodskappie was anders en het sommer meer kleur verleen aan die oggend se ontbyt.

Daar was net een ding op my uitstappie-versoeklysie, vir ons besoek aan Paternoster… en dit was om die ligtoring te gaan besoek… Die weer was nou nie van die beste nie, maar gelukkig was almal sports genoeg om die uitstappie mee te maak.

So het ons na ontbyt die Party Bus gelaai en deur die dorpie gery ligtoring toe… Die Cape Columbine Ligtoring, is die laaste bemande ligtoring in die Weskus… Met die ry soontoe, was dit bewolk en het die blommetjies se koppies laag gehang. By die ligtoring aangekom, was dit winderig en triestig. La het in die bussie agtergebly, terwyl die res van ons rondom die toring gaan verken het.

Met Pa Ampie se aankoms, het die Steenkamps en Moekie hom eers voorgekeer en ons het weer ‘n verjaardagliedjie laat opklink!

Oom Philip was gaaf genoeg om bietjie die kamera by my te vat en ‘n foto van my en Christoff voor die ligtoring te neem.

Oom Frank het ook ‘n pose of twee gegee tydens die geklikkery van die kamera.

Terug by die Party Bus moes almal eers mooi staan, sodat ek ‘n groepfoto kon neem, waar La darm ook by was.

Party Nosters by die Party Bus

Maar ek was natuurlik nie deel van die foto nie en dit was nie aanvaarbaar nie. In stede dat ek en Christoff mekaar afwissel as fotograaf, hark Pa toe sommer ‘n ander besoeker nader en vra of hy vir ons ‘n foto sal neem. Die man het begin beduie dat hy nie verstaan nie en so kom ons agter hy is ‘n buitelander op besoek. Dit het ook tot geselsies gelei om bietjie meer van hom uit te vind, maar hy was darm gaaf genoeg om ons hele spul op een foto te kry.

Party Nosters voor die ligtoring

Met die ry ligtoring toe, het ons deur Tietiesbaai gery, maar as gevolg van die weer het ons nie veel opgemerk nie. In die kort rukkie wat ons by die ligtoring was, het die wolke genoeg weggetrek, dat ons beloon was met ‘n beter uitsig van die bekende rotse van Tietiesbaai… Wat natuurlik gesorg het vir ‘n paar grappietjies agter uit die bus uit.

Terug in die dorpie, het ons by Oep ve Koep gestop om te kyk of daar nog enige van die beroemde brood oor was… Ons was gelukkig om nog een te kry!

Nadat ons deur die winkeltjie gestap het, het ons so vinnig by van die ander winkeltjies ingeloer… En ‘n paar stuitige kiekies geneem, voor ons weer die bussie beklim het.

Terug by die huis het ons die ou garde afgelaai en weer padgevat Vredenburg toe vir kruideniers aankope… En hierdie keer was die kamera in die bussie…

Moertoegepomp

Na ons inkopies het ons teruggery na ‘n effense warmer Paternoster. Daar aangekom wou ‘n paar bietjie bene rek en het ons hulle gevolg strand toe.

Strandlopers

Kort voor lank het die Steenkamps begin skulpe uitsoek en Pa Ampie en oom Frank het sommer net strandlangs hulle eie koers ingeslaan, terwyl ek en Christoff aanstaltes terug huistoe begin maak het.

So met die naderstap, kon ons die 300mm ook inspan om die twee dames op die stoep vas te vang… onwetend… of dalk nie…

Ons het self weer koffie gaan ingooi en toe dopgehou hoe die strandlopers eers verby stap om die hoek van die strand en toe weer teruggekom.

Storietjies op die strand

Daar was weer ‘n onderhandeling met een van die locals. Oom Philip het ‘n nuuskierigheid ontwikkel oor die verskil in smaak tussen swart mossels en wit mossels en iemand gekry om vir hom te kry, dat hy kan proe.

So daag Sean op met ‘n sak mossels. Die man het so koud gekry, na hy die water trotseer het om die mossels te kry, dat hy skaars kon stilstaan… maar ek het hom gestraf vir ‘n sekonde of twee, sodat ek hom in ons storie kon verewig vir sy bereidwilligheid om die mossels uit te duik.

Ons het nog ‘n ruk op die stoep gekuier terwyl tannie Elza weer die mossels gaargemaak het. Maar vanaand was dit hoofsaaklik oom Philip wat dit uitgetoets het. Die res van ons het gewag vir aandete.

Terwyl oom Philip aan die mossels gesmul het en verhale met Pa Ampie gedeel het, het Christoff vir oom Frank die interessanthede van hedendaagse selfone verduidelik.

Maar soos die son begin sak het, het dit al koeler op die stoep geraak en die vrouens het binnetoe geskuif. Moekie het haar breiwerk nadergetrek en sy en La het weer lekker gekuier, terwyl tannie Elza saam met my in die kombuis doenig geraak het.

En toe ons ons oë uitvee, is dit tyd vir aansit en ons laaste aandete in die huis op Paternoster. Dit was ‘n lekker kuier en die tafel was oorlaai met oorskiet van vorige etes en vars disse.

En so met die smullery en storietjies het die laaste aand ook tot ‘n einde gekom.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *