2017 Paternoster – Dag 6

Dit was kort maar lekker!

Donderdag – 2017/08/17

So breek ons laaste dag in Paternoster aan!

Die oggend het soos die voriges begin, met ‘n oggend koffietjie en ‘n stappie op die strand vir my en ‘n draf deur die dorpie vir Christoff. Die laaste oggend het La en Pa Ampie hulle badkamer vir ons opgeoffer dat ons kon klaarmaak… en ek kon weer net uit die badkamer stap in ‘n huis gevul met reuke ryp vir ontbyt.

Die oompies het ook gaan stap en oom Frank het heel opgewonde kom vertel dat hy ‘n bootjie gekry het, waar ons ‘n groepfoto kon neem… Kort na ons aankoms by Paternoster het ek opgemerk hoeveel ou visserbootjies as versierings gebruik word by huise en het dadelik my wens uitgespreek om hulle almal in ‘n bootjie te boender vir ‘n foto… So met die hulp van oom Frank se soektog, sou ons oppad uit die dorp uit, by die bootjie gaan stop.

Die laaste maal het aangebreek, maar daar was geen teken van oom Philip nie… Tannie Elza het gesê ons kan maar eet, want die kos gaan koud word… Maar ek kry toe ‘n gier om ‘n groepfoto te wil neem… en kort na ek die tafel, sonder myself en oom Philip, afgeneem het, kom oom Philip toe om die hoek gestap… en kon ons ‘n meer voltallige foto by die eetkamer tafel kry.

Laaste maaltyd in Zula

Na ete was almal maar lui-lui aan die oppak… Ons het gelukkig nie nodig gehad om teen 10h te ontruim nie, want daar was nie ander gaste wat die dag sou inkom nie… So tussen die oppak deur, het party nog weer draaie gaan stap en ander het hulleself gaan uitstrek vir ‘n laat-oggend-uiltjie-knip, as gevolg van die klein-hondjie-sindroom na die heerlike ontbyt.

Nora het arriveer om te begin beddegoed bymekaar maak en ons het besef ons moet seker maar ons goedjies in die Party Bus begin laai… Skielik was die klimmery in die bussie nie met soveel opgewondenheid soos die vorige paar dae nie.

Ons het Zula Beach House agter gelos en deur Paternoster se straatjies gekronkel, met oom Frank se aanwysings, om by die bootjie uit te kom… Die bootjie was toe Paddy wat in die sand voor die Voorstrandt Restaurant gestrand was.

Voorstrandt Restaurant se Paddy 1

Almal het die hobbelrige voetpaadjie van die bussie af versigtig aangepak, tot ons op die restaurant se stoep uitgekom het… en daar, ten aanskoue van al die restaurant-gangers, klim ‘n spul van ons in die bootjie.

Daar was weer ‘n barmhartige Samaritaan nadergevra, sodat almal van ons se gesiggies op die foto kon pryk… En as jy so mooi gevra word deur iemand wat jou oupa kan wees, dan sit jy met liefde jou mes en vurk neer en leen ‘n helpende hand… Dankie aan die vriendelike vreemdeling wat ons herinnering met ‘n foto kon verewig!

Groepfoto in Paternoster se vissersbootjie

Met die uitklimslag, was daar darm helpende hande vir die kort beentjies wat oor die rant van die bootjie moes klim… En terwyl hulle so besig was om die bootjie te ontruim, merk ek vir die eerste keer op dat Tietiesbaai se rotse ‘n lieflike agtergrond vir ons foto geskets het…

Die terugstap bussie toe is met die teerpad langs aangedurf en huisies is bekyk met al die versierings en snaaksighede wat elkeen uniek maak. Grawe en pikke wat omskakel is in visse en allerhande ander interessanthede.

Soos ons uit die dorpie uitry, laat oom Frank skielik ‘n “Waar was dit lekker?” hoor… en die koor antwoord met “Hier was dit lekker!

Soos ons nader aan die snelweg gekom het, besluit ons om die pad so bietjie uit te rek. Ek het voorgestel dat ons deur die Weskus Nasionale Park ry… Buiten vir die toegang, was dit blykbaar ‘n goeie voorstel. Oom Philip het beduie dat ons na die uitkyk-rots moet ry, want van daar af het mens die mooiste uitsig oor die meer en park… En dit was so!

Weskus natuurreservaat

Ons was skielik omring deur ‘n stukkie Namakwaland in blomtyd, met ‘n uitsig oor die mooiste blou meer, net duskant die see…

Die wind daar bo was maar ‘n dwarrelende besigheid en ons het nie te lank daar rondgekyk nie. La het weer vir ons in die bussie gewag. Oom Frank het ‘n ander paadjie aangepak en ek was nuuskierig om te sien wat sy aandag getrek het… Dit het die boonste foto opgelewer… En met die terugdraai, staan ons getroue Party Bus en wag om afgeneem te word… met die lieflike meer in die agtergrond.

Paternoster Party Bus in die Weskus Natuurreservaat

Die park het nie veel dierelewe opgelewer nie, maar ons was tevrede om die terugkeer na die grootpad net so met ‘n wyle uit te stel… En toe ons weer kyk, begin Tafelberg in die verte naderkom… en ry ons in Kaapstad in.

Google is weer geraadpleeg wat die beste pad Vishoek toe sou wees, want dit was kort voor spitstyd sou optel… Christoff het ons veilig by oom Kobus-hulle uitgekry en ons het stywe bene afgeklim vir ons derde kuiertjie saam met hulle. Hierdie keer het ons oom Philip en Tannie Elza by hulle afgelaai vir ‘n kuier.

Die res van die groep het omtrent soos ou bekendes gegroet en daar is met groot smaak vertel van die afgelope paar dae se aktiwiteite en uitgevra oor gebeure in die van der Walt huishouding.

Maar daar moes gegroet word, sodat ons die laaste stuk Gordonsbaai toe kon aanpak… Dit was met swaar harte wat ons gegroet het, want soos wat ons die Party Nosters begin groet het, het dit die einde van ons wegloop aangedui…

In Gordonsbaai het oom Frank sy kamer vir Moekie afgestaan vir die nag… Ek het baie hard probeer om hom te oorreed om een van ons op die matras in die garage te laat slaap, maar hy wou niks weet nie… Sy garage het matte en die deur na die huis staan altyd oop… En La het verduidelik hy kon ook by een van sy bure gaan slaap het, maar hy wou nie… Dalk was dit so bietjie herlewing van die ramme kampe wat in sy garage lewe gekry het in vakansies.

Toe ons daardie nag gaan inkruip, kon ons ons verlustig in die herinneringe wat ons gemaak het in Paternoster en die nuwe vriendskappe wat gevorm is… Dit was die doel van die oefening!

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *