2018 Kgalagadi – Dag 1

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Saterdag – 2018/10/13

Toe die wekker se deuntjie 3h vanoggend deur die kamer weergalm was ons nog glad nie reg vir opstaan nie… Veral nie toe ek deur die gordyne loer en sien hoe die reën op die bure se dak afkom nie.

My eerste reaksie was om terug te klim in die bed en die ryery met ‘n uur of wat uit te stel, maar Christoff het deurgedruk. Hy is deur die stort en uit buitentoe om die laaste goed te gaan pak, terwyl ek nog in my nagklere die kos uit die yskas in die koelers ingedruk het.

Voor ek egter nog die slaap behoorlik uit my oë kon kry, het ek links voor gesit en het ons onder begeleiding van donderweer en sagte druppels op die ruit, uitgery vulstasie toe om die band druk na te gaan.

Ek het dapper pogings aangewend om wakker te bly, terwyl Christoff ‘n podcast opgesit het, maar geen geselsies uit ander se monde, sou my weg-dommellary kon kniehalter nie.

Tussen Biesiesvlei en Sannieshof het ek ‘n paar wakker oomblikke gehad en in die stilte van die kajuit hoor ek toe iets wapper op die dak. Die volgende oomblik gly dit by die bakkie se agter venster verby en beland onder ‘n aankomende kar se wiele… Dit was die kombuisrak wat road kill geraak het…

Christoff het remme aangeslaan en omgedraai om die wapperende rak te gaan red. Toe ons uitklim het ‘n vieslike vlakte-wind ons ysig verwelkom in Noordwes. Christoff het die kombuisrak gaan optel en die vertrapte besigheid nader gebring. Dit wou voorkom asof dit darem net uitwendige skade was. Die sak was kapoet, maar die kombuisrak self sou nog diens kon doen, as ons die band merke afgewas het.

Op Sannieshof draf ek by die Spar in op soek na tissues en ‘n besem. Toe ek betaal, vra ek die Tannie agter die kasregister of daar ‘n Wimpy of iets op die dorp is. Met die koue saam het ons koffie-lus nog hoog geloop… Nee jong, kom ons maak gou vir jou koffie, sê die Tannie agter die ander till… Daar skarrel sy weg kombuis toe om instruksies te gaan gee en Christoff word in gewuif om die flesse uit die bakkie te gaan haal.

Die worsbroodjie-makery in die kombuis is onderbreek, sodat ons flesse met kookwater gevul kon word. Die dame het gevra of ons koffie het en beduie na ‘n blik. Ek het geskerm en gesê ons het koffie in die bakkie, ons sal dit sommer gebruik, baie dankie!…

Met die vol flesse en ‘n bestelling vir worsbroodjies, stap ek deur se kant toe, om ons ingepakte koffie te gaan nader grou… Het jy koffie? Vra die till-Tannie agter haar bestuurs-toonbank uit. Kom kry sommer van my koffie hier voor, sê sy en haal ‘n houer uit ‘n kassie onder die toonbank. Dankie, Tannie, begin ek keer, maar ons sal sommer van ons koffie uit die bakkie kry.

Vir wat sal jy nou sukkel. Gebruik sommer van hierdie… Suiker? Melk? Vra sy terwyl sy na haar houer Nescafé beduie en ek staan toe maar verleë nader. Terwyl ek ons koffie bou, gesels die Tannie al te lekker oor die vorige aand se rolbal spelery op die dorp en hoe die jongmense dit saam kom geniet het.

Nadat ons betaal het vir die worsbroodjies, het ons haar bedank vir hulle gasvryheid. Dis maar hoe ons dit doen op Sannieshof, het sy dit met ‘n glimlag afgemaak.

Terug in die bakkie ruil ons die Spar parkering vir ‘n stopplek oorkant die pad. Na ‘n haastige ruiltransaksie om R2 muntstukke te bekom, val ek agter twee ander wonderende dames in, wat die tolhek by die badkamer probeer uitpluis. Ek doen toe maar weer ‘n ruiltransaksie en verneem van die eerste dame dat daar nie wit goud beskikbaar is nie. Ons gryp gou ‘n rol uit die bakkie en kom tot hulle redding, voor ek my beurt vir ‘n betaalde piepie kon aangryp… Ons is met breë glimlagte weg uit Sannieshof…

Kort voor lank het die laaste paar nagte se min slaap my weer laat verander in ‘n ou tjor met elektriese probleme… Die ligte wou net nou en dan aankom… Maar toe ons die grondpad duskant Van Zylsrus tref, toe skud die pad die drade in permanente kontak.

Christoff moes twee maal remme aanslaan. Die eerste keer was dit ‘n likkewaan wat waggelend die grondpad wou kruis en toe maar eerder ‘n regsomkeer gemaak het. Die tweede rem-slag was sodat ‘n slangetjie die laaste meter of twee van sy tog oor die pad kon voltooi.

Ons het by Van Zylsrus se hotel gaan aanklop vir ‘n nat koue enetjie en die locals se Saterdagmiddag eskapades bekyk. Die een madala het twee rye spore geloop net om oorkant die pad teen ‘n asblik te gaan neerplons… en ons weer later kom opsoek voor ons pad gevat het.

Die pad tussen Van Zylsrus en Askham het baie lank geraak. Na ‘n uur en ‘n half se worstel om wakker te bly, het ons by die garage ingedraai en die bakkie se dors geles. Roomys in die hand het ons die laaste paar kilo’s aangedurf.

Dit was met groot verligting wat ons by Kgalagadi Lodge se hek ingery het. By ons chalet het ons vinnig die nodigste afgelaai, skoene uitgeskop en met ons tone in die rooi sand gestaan en kyk hoe die onweer nader rol.

Nou gaan ons braai!

Die wind het ons vuur soos ‘n blaasbalk aangejaag, terwyl ek tussen reën spatsels deur slaai gemaak het om te sorg dat die slaai betyds klaar is, voor die vleis te droog braai… Met vol magies en ‘n glasie in die hand, kon ons terugsit en kyk hoe die laaste lig oor die vlakte verdwyn.

Onweer oor die Kgalagadi

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

2 thoughts on “2018 Kgalagadi – Dag 1

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *