2018 Kgalagadi – Dag 2

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Sondag – 2018/10/14

Twee Rivieren se hek maak 7h in die oggend oop. Ons was so klein bietjie agter skedule. Ons was eers 7h10 daar. Die stuk tussen Twee Rivieren en Nossob neem gemiddeld so vier en ‘n half ure en ons wou nog probeer om ‘n goeie staanplek te kry vir die volgende vier nagte.

Ons het gholf styl op die pad gestand gedoen… soos in moer en soek… en in dié geval, ry en soek.  Ons was egter gelukkig met ander oë wat ook die omgewing voor ons verken het en kon dus ook stilhou vir ‘n leeu mannetjie wat in die veld naby Rooiputs se watergat gelê en slaap het.

Dit was ons eerste leeu sedert ons vorige besoek aan die Kgalagadi, maar die man het net verkeerd gelê vir hierdie derde voertuig wat hom probeer afneem… en dit het ook nie gelyk of hy binnekort gaan poog om te beweeg nie… Ons het dus weer die brandstof pedaal getrap.

Waar die onderste duine pad wegdraai, by Kij Kij se watergat, was daar ook ‘n voertuig of twee besig om fotos te neem van blou wildebeeste. Ons het stadiger gery en vinnig ingeloer op die gebeure. Net voor ons wou versnel, gewaar ek die wildebees wat heerlik besig met ‘n stofbad. Die gerol in die sanderige modder was heel aanskoulik, veral toe daar kop eerste ingeduik word.

By Melkvlei se piekniek plek het ons vinnig uitgewip vir bene rek en ander verligtinge. As gevolg van water probleme was die personeel op die toneel en aan die skryf om ‘n kennisgewing op te sit. Die geriewe gaan gesluit word! Ons was gelukkig genoeg om nog te kon inglip, voor hulle die rolhekke gesluit het.

Vir die wat nog nie by van die Kgalagadi se piekniek plekke was nie, moet ek net eers verduidelik. Die geriewe het ‘n gewone hout deur buite die toilet. Maar jy wil mos nou nie in leeu se kind vasloop as jy daardie deur oopmaak nie? So daar is ‘n traliehek wat oop en toe rol, met houtjies tussen die tralies, sodat jy darem die omgewing kan bespied, voor jy die pad na jou voertuig toe aanpak.

Van Melkvlei af het ons deurgedruk Nossob toe, sonder veel gebeure langs die pad. Daar was ‘n paar voertuie by Dikbaardskolk se piekniek plek en ons het verby gehou… En kort by 11h30 by Nossob ingery… verby ontvangs, reguit kampplek toe, om te gaan loer wat beskikbaar is.

Daar was nog drie staanplekke oop wat kragpunte en bome gehad het, maar hierdie rondte het staanplek 13 ons name op gehad. Ons het Escapé in die koelte gelos vir ‘n welverdiende ruskans en die hitte aangedurf ontvangs toe om te gaan aanmeld. Ons het sommer ook ‘n vinnige draai in die winkeltjie gaan maak op soek na roomys… wat toe nie meer daar aangehou word nie.

So sluk-sluk aan ‘n bier het ons kamp orent gekom en ietwat later kon ons lekker terugsit met ‘n vars koue enetjie en onsself aan die saligheid oorgee… Vir ‘n rukkie… Voor die gebeure by die watergat ondersoek moes word… Ook goed, want toe kon ons lekker saam kyk aan ‘n bateleur arend wat die watergat vir hom opgeëis het en rustig besig was om water te drink.

Bateleur in Nossob se watergat

Rondom 15h30 het ons koers gekies na Marie se Gat. Die vroegste voertuig kry die lekkerste koelte, so ons kon lekker onder die enigste koelteboom intrek. Vir die volgende twee ure het ons gesit en staar, weg gedut en verder gesit en staar… Daar het bitter min by die watergat aangegaan.

Terug in Nossob het Christoff Wynand se kameeldoringhout op die braaier gepak, terwyl ek vir ons twee whiskey glase uitgehaal het. Met ons GROOT ysblokke, het ons die spesiale whiskey wat ons saamgebring het, op die Kalahari geknak en rustig geraak met die geckos wat al hoe harder rondom ons begin blaf.

Staanplek 13 in Nossob

Hier is ‘n paar ander fotos wat die dag geneem is:

Slang op soek na ontbyt
Springbokkie by Marie se Gat
Baba springbokkie aan die wei
Bateleur wat wegvlieg van die watergat af

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *