2018 Kgalagadi – Dag 5

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Woensdag – 2018/10/17

Vanoggend het my blaas my kort by 5h gejaag en kon ons nog die bespikkelde sterrehemel bewonder oppad ablusie blokke toe… en rustiger oppad terug tent toe… Orion was duidelik uitge-êts reg bokant ons… Rondom ons het die kamp saggies begin lewe kry.

Die besprekings vir September 2019 het vandag oopgemaak en ons het by die kantoor se Wi-Fi gaan probeer aanklop. Na ‘n onsuksesvolle poging om aan lyn te kom, het ons die flesse gepak en noordwaarts gery. Elke kort-kort het ‘n kameeldoringboom net die regte takke vir ‘n luiperd-lê ingehou, maar geen luiperd was in sig nie.

Ons het rustig tot by Kwang gery en daar die koffie en beskuit nadergetrek… Twee gemsbokke en ‘n paar wildebeeste was besig om baie hard te probeer om water uit die watergat te kry. Ons vermoed die gat was te leeg, want elke probeerslag was van korte duur… Dit het hulle egter nie gestop om hoopvol hulle koppe ‘n paar keer in die drinkplek te laat sak nie.

Met die terugkomslag het ons so vaak-vaak die omgewing beloer, maar niks gewaar nie. By Cubitje Quap was daar ‘n voertuig besig om die voëls by die watergat af te neem en ons het die boonste draai gaan maak wat uitkyk oor die droë rivierloop… Daar gewaar Christoff die twee wat tref-afstand van ‘n paar springbokke af leeglê.

Kort na ons hulle onder lens begin neem het, het die wyfie opgestaan en aangestap gekom water se kant toe…

Leeu wyfie oppad koelte toe

…met die mannetjie kort op haar hakke…

Maanhaar oppad koelte toe

…net om deur die eerste koelte kolletjie op hulle pad platgetrek te word…

Lekker in die koelte

…tot groot vermaak van die talle aspirant (of professionele) fotograwe wat in die omliggende voertuie rond gesit het. Met die leeus wat so naby die watergat op die walletjie kom stelling inneem het, het die aantal voertuie ook skielik gegroei tot vyf.

Of dit dieselfde twee was as wat twee dae gelede by Kwang was, was ons nie seker nie… maar met nadere ondersoek van die fotos wou dit half lyk of die leeumannetjie dieselfde merke op sy gesig gehad het.

Die wyfie het so een keer opgestaan en ‘n tree of twee wegbeweeg na die bokkies se kant toe, maar ons kon weer asemhaal toe sy op die sand gaan lê. Sy het so bietjie later besef haar uitkyk is nie die hitte werd nie en het weer by die mannetjie in die koelte kom opkrul.

Na tientalle fotos het die mannetjie op sy sy omgekeer en ons het besef daar gaan nie verder veel gebeur nie. Ons het Escapé aangewakker om weer die pad terug te vat Nossob toe.

Na nog pogings om ‘n bespreking te maak,  gaan sit ons laat oggend in die uitkyk, vir die lafenis van die windjie wat altyd daar in en uit warrel. Ons wou ook die oggend se fotos bekyk en die donker in die skuiling was ideaal vir die rekenaar skerm…

Maar daar was te veel bedrywigheid by die watergat. Drie valke was besig om die kwetterende swetterjoel voëltjies te treiter. Hulle het beurte gemaak om die swerms te bevlieg en wanneer een gelukkig was om iets te vang, het die ander hard probeer om die vangs af te rokkel… Dan raak die swerms stil en bly in die beskerming van die takke, of gaan soek ‘n ander boom op, voordat hulle met nuwe lus weer begin kwetter.

Suksesvolle valk by die watergat

Vanmiddag het ons sommer weer by die kamp se uitkyk gaan sit, want die lus vir rondry het ontbreek. Aanvanklik was dit baie stil. Selfs die voëls wat in swerms verbygekom het, het nou in vlae weggevlieg. Dit wou voorkom of die voëls in swerms deur die dag by die watergat vergader om saam-saam die roofvoëls te trotseer en veiligheid vind in hulle massas soos hulle af-fladder om te drink en terugvlug takke toe… en teen laatmiddag vertrek hulle weer in vlae na waar okal hulle nessies wag.

Ons was bykans gereed om te gaan vuur aansteek toe oom Coenie en tannie Sina by ons aansluit. Die kuiertjie het weggespring met die leeus wat ons die oggend afgeneem het en Christoff kon mooi vir hulle wys hoe ons die maanhaar en sy wyfie met die kamera vasgevang het… Van daar het ons te lekker geluister na hulle wedervaringe in die Kgalagadi… Staaltjies van Mata Mata se skuiling wat omgeval het, leeus wat langs die heining in Nossob brul dat hulle binnegoed bewe en gebede wat wen-fotos snoeker om ‘n gemsbok se lewe te red ten koste van ‘n leeu se aandete… Daar is ook vertel van ander plekke wat hulle al oor die jare besoek het en tannie Sina het met trots vertel hoe hulle meer as 200 dae ‘n jaar aan die rondloop is. Dis mos hoe mens moet aftree!

Nossob se watergat as die voëltjies huistoe gegaan het

Terug by ons kampplek het ons gaan droom oor hoe ons ook eendag, tot wanneer ons al in ons sewentigs is, ook so kan rondrits om nog al die plekke op ons emmer-skop-lys te kan sien… en dalk weer te kan sien.

Hier is ‘n paar fotos wat die dag geneem is:

Jong swartborsslang arend langs die pad
Verlate, oop miershoop in die veld
Rustig in die koelte
Kyk hoe kyk sy vir my…
Die groot man is min gepla
Die maanhaar in al sy glorie

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *