2019 Kgalagadi – Dag 4

Kij Kij se rooikat

Woensdag – 2019/09/25

Na ‘n minder koue nag, het ons vroeg geroer en net na halfsewe opgery Melkvlei se kant toe. Die bord by die winkeltjie het vertel van leeus en selfs ‘n luiperd wat gister op die roete gesien was… Ons het gehoop Juan sou sy eerste leeus in lewende lywe sien.

Tussen Samevloeiing en Leeuwdril het ‘n wildkyk-voertuig die duine met kameras bespied en so met die terugkyk gewaar ons ‘n leeu en leeuwyfie wat op die kruin van die duin stap… En ‘n paar tellings later anderkant die duin verdwyn… Dit was ons eerste leeus vir die kuier – al was dit in die vêrte!

Net voor Leeuwdril was daar nog ‘n jongerige leeu mannetjie op die duin wat die droë rivierloop lê en bespied… Hy was ook te vêr om enigsins fotos van te neem… Maar ten minste was daar heelwat tekens van leeus in die omgewing.

Die res van die pad Melkvlei toe was dit troppe en troppe springbokkies en gemsbokke en een trop blou wildebeeste by Rooiputs. Die volstruise was ook weer in hulle tientalle aan die rondwei rondom die watergate.

Daar was ‘n arend naby die pad, al was dit effe teen die son in, maar ons kon darm ‘n foto of twee geneem kry. Ons kon net nie uitmaak watse arend dit is nie. Ons het ook drie jong koedoe koeie tussen die gemsbokke en springbokke te siene gekry.

Kgalagadi Sightings se vriendelike lede het intussen gehelp om die arend te identifiseer as ‘n jong bateleur.

By Kij Kij het Juan sy foto-vinger ingespan en die springbokke bietjie met die kanon vasgevang.

Springbokkie stap nader water toe

By Melkvlei het ons eers ‘n draai by die uil-boom gemaak om te kyk of die uil steeds daar die nes het, maar daar was geen lewe in die mik nie.

Ons het naby die badkamers gaan stop, draaie geloop, vars drinkgoed uitgehaal en besluit om maar net weer terug te ry kamp toe. Hierdie keer was daar ‘n hele string toeskouers by Kij Kij saamgetrek en het ons ook gaan loer wat die skare laat vergader het…

Terug by die kamp, het ons die normale middag roetine van skottelgoed was en stort aangepak en toe weer so plat-plat moed bymekaar gemaak om ‘n draai te gaan ry… die keer was Juan agter die stuur.

Ons het opgery Kij Kij toe. Die hele pad was ‘n redelike herhaling van die oggend gewees… Behalwe vir ‘n bleeksingvalkie wat in ‘n boom gesit het. Met die terugkom van Kij Kij af het Juan vir my gestop en ons gewaar toe die tweede valkie wat saam op die tak sit. ‘n Jong bleeksingvalkie!

Dié outjie was baie gebelg en het vreeslik gesit en moan. Dit het gelyk of sy vlerk seergekry het, maar toe ons later in die kamp na die fotos kyk, het ons gesien daar was ‘n slangetjie in sy poot vasgetrap… So waaroor die geselsery was, weet ons nie.

Terug in die kamp het ons begin werskaf om aandete reg te kry en met die slaai en braaibroodjies gemaak, kon ons rustig terugsit met ‘n glasie en die dag se fotos deurkyk.

Voor ons gaan inkruip het, het ons bietjie agter die tente rondgestaan en die sterrehemel bewonder… Daar het ‘n satelliet verby gegaan en selfs ‘n verskietende ster, waarop ons ‘n wens kon saamstuur… tussen al die ander honderde, duisende sterre wat in en rondom die melkweg sigbaar is.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Jong bateleur op die tak, teen die sonlig
Koedoe koei van naderby
Kij Kij se springbokkie
Kij Kij se rooikat aan die korrel

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *