2019 Kgalagadi – Dag 5

Rooi duine en meerkat manewales

Donderdag – 2019/09/26

Voor die son ons kon opjaag vanoggend, het Christoff se blaas gepraat en het ons so strompel-strompel badkamer toe gestap. Die strompel was nie van deur-die-slaap wees nie, maar omdat ons bly opkyk het na die sterre wat nogsteeds in hulle miljarde rondgehang het.

Vanoggend het ons koffie en beskuit buite die tent genuttig, terwyl Juan ‘n stort gaan vang het. Die jongman het dae laas ‘n stort gehad en swembadwater maak nie hare skoon nie… So toe hy met die opstaan aanmeld hy MOET gaan stort, het ons hom laat begaan en ‘n beskuitjie deurgewerk.

Met die flesse vol en Juan se bas gewas, het ons kort na sewe uit die kamp gery – Noord na Melkvlei. Daar was ‘n paar gemsbokke tussen Twee Rivieren en Samevloeiing, maar na dit was dit skielik stil van bok- en volstruis-lewe. Die vorige dag of twee se troppe gemsbokke en springbokke was nêrens te siene nie… ook nie die tientalle volstruise nie.

Tussen Samevloeiing en Leeuwdril is daar ‘n dooie boom met ‘n paar nesse in, wat dit van die pad af na ‘n groot aap-mens laat lyk… En in die vroegoggend son het dit ook ‘n oulike effek geskep en gesorg vir ‘n foto oomblik.

Kort voor Leeuwdril het daar egter ‘n paar voertuie gestaan en ons het sommer vinnig die drie leeus op die duin sien lê. ‘n Mannetjie en twee wyfies. Al drie het halsbande aangehad – die eerste keer dat ek dit in die Kgalagadi gewaar.

Nogal interessant, want Christoff was net kort voor ons vakansie vir ‘n onderhoud by ‘n besigheid wat wildlewe so monitor reg oor die wêreld… en onder andere in die Kgalagadi.

Die een wyfie het oor die duin gestap, maar dit was duidelik dat die ander leeus nie vreeslik haastig oppad was iewers heen nie. Ongelukkig was dit bietjie ver om behoorlike fotos te neem en het ons na ‘n paar probeerslae aanbeweeg.

Daar was ‘n arend wat op die grond gesit het aan die anderkant van die pad, maar min het aandag daar gegee.

By Leeuwdril se watergat was daar twee valkies in die boom en Christoff moes eers bietjie terugstoot, sodat ek en Juan ‘n paar fotos kon neem… Die ander leeukykers was maar teleurgesteld toe hulle agterkom dis nie nog leeus of ‘n luiperd nie… en het maar aangery.

Ons het ‘n keer of wat gestop vir Juan om fotos te neem van opgekrulde en uitgestrekte rooi jakkalsies. By Kij Kij was die rooikat steeds doenig, maar daar was nie vandag kans vir fotos nie. Die voertuie was so geparkeer dat daar nie ‘n gaatjie vir ‘n laatkommer was om ook ‘n lens in te span nie.

Van Melkvlei af is ons terug Kij Kij toe en het die onderste duinepad aangedurf. Die keer was daar net ‘n handvol gompoue en ‘n paar gemsbokke te siene, maar as gevolg van die droogte was die rooi duine baie duidelik sigbaar en het ook gesorg vir ‘n paar mooi fotos van die omgewing.

Kij Gamies watergat van die uitkyk af

In die Auob het ons vinnig by Auchterlonie gestop. Van daar af het ons die uitkyk-paadjies teen die rivierwal op gevat en so op die drie rooi hartbeeste afgekom. Twee van die drie het maar bietjie gebreklik gelyk, maar dié kalant het soos ‘n sfinks bly lê en hom nie veel aan ons gesteur nie.

Met die terugry na die pad in die Auob, kom ‘n gemsbok aangestap, kruis die paadjie en kies koers na die rant van die duin toe… Ons het die foto sien vorm aanneem en gewag tot die oomblik perfek was…

Gemsbok op die rant van die Auob, met die oorkant se oewer se rooi duin in die agtergrond

By Monro watergat was daar ‘n groot trop blou wildebeeste, twee gemsbokke en ‘n volstruis. Hulle het beurte gemaak om te drink… en in die proses kon Juan nog ‘n paar fotos geneem kry van diere wat hy nog nie afgeneem het nie.

Monro watergat

Kort anderkant Houmoed, waar daar NIKS was nie, gewaar ons toe iets op die grond hardloop… My eerste gedagte was dat dit ‘n grondeekhoring is, maar spring toe amper uit my vel toe ek besef dis meerkatjies… Daar hak ons toe vas en dit klink behoorlik of die paparazzi vir Charlize Theron te siene gekry het.

Ons lense het hulle gevolg waar hulle onder die bossies gekrap en gegrou het en wanneer een van hulle orent kom om die omgewing te bespied, was die geklik-klik van die kameras amper so vinnig soos ‘n omkapmasjien – of outomatiese masjiengeweer, vir die meer manlikes onder ons.

Daar was vier van hulle en hulle het beurte gemaak om te grou en wag te hou. In die tyd wat ons hulle dopgehou het, het hulle drie keer vir die bome gehardloop, as een van hulle iets gewaar het wat hulle bekommerd gehad het… maar so het hulle al hoe nader aan die voertuig (wat later voertuie geraak het) geskoffel en gegrou.

Na ‘n duisend skote (of amper) het ons die wit sandpad verder gevat en later uit die Auob gery, terug kamp toe. Die deel oor die duine het weer net ‘n paar gemsbokke opgelewer en ‘n korhaan of twee, maar verder niks.

Die vooruitsig vir die res van die dag was die kamp-verpligtinge, ‘n omkeer in die warmerige tent en ‘n sit-sessie in Twee Rivieren se nuwe uitkyk-huisie… Die watergat was nou verlate, maar die spore het ‘n ander storie vertel. Anderkant die duin was daar ‘n paar gemsbokke, maar dit het korrel gevat met die verkyker om hulle enigsins op te spoor.

Terug in die kamp het ons vroegerig vuur aangesteek en begin met aandete… môre oggend moes die kamp opgeslaan word, so ons het maar vroeg gaan inkruip.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *