2019 Kgalagadi – Dag 6

Lang pad na Nossob

Vrydag – 2019/09/27

Dit het weer baie afgekoel deur die nag. Dit was ‘n paar keer ‘n tweestryd tussen ‘n koue neus of asemhaal bo die duvet… Maar ons wou nie die koue trotseer om sokkies aan te trek nie, so ons het maar met koue voete die oggend ingeslaap.

Na ‘n vinnige beker koffie en beskuit het ons begin kamp opslaan… Kom agtuur was alles op die bakkie en was ons gereed om die lang pad op Nossob toe aan te pak… Amper gereed… Ons moes net nog ‘n vinnige draai deur die winkeltjie maak vir iets koud om te drink tot by Melkvlei.

Voor Leeuwdril kry ons ‘n kleinerige troppie elande, met ‘n paar kleintjies. Daar was ook weer ‘n paar rooi hartbeeste (of hartebeespoorte, as jy vir Juan vra) tussen die elande… Foto geleentheid vir die Kgalagadi nuweling met ‘n lang lens…

Om die volgende duin was daar ‘n arend op ‘n tak… Terwyl ons nog die arend bewonder, gewaar ons ‘n paar jakkalse wat aan die stoei is ‘n paar meter verder. Daar was oorblyfsels van ‘n vangs en vir die viervoetige aasdiere was dit ‘n fees. Die gevalle eland kalfie kon nog genoeg kos gee vir daardie klein jakkals magies… Daar was egter nie ‘n teken van die roofdier wat die kalfie platgetrek het nie.

Terwyl ons nog op die jakkalsies fokus, kom stryk daar ‘n tweede arend langs die eerste neer… en so verskuif die fokuspunt van die kameras weer.

By Kij Kij het daar vir ‘n verandering nie voertuie gestaan nie, wat beteken het die rooikat was nie meer daar nie… Maar ons het wel ‘n bruin hiëna gewaar wat baie graag wou kom water drink…

Tussen die voertuie wat nader gekom het en die gemsbok wat van oorkant die watergat af gegluur het, het hy toe verkies om die wyk te neem en het oor die duin verdwyn.

Tussen Kij Kij en Melkvlei gewaar ek ‘n pikswart stomp… wat beweeg! En daar sien ons ons eerste ratel! Ons het behoorlik daar vasgehak, want die ratel was nie alleen nie… Hy (en dit was baie duidelik ‘n HY) het begin by die polle naby die rant van die duin… en soos hy beweeg, was daar ‘n bleeksingvalkie wat sommer so kort agter hom aangedraf het… Dit was te kostelik om die twee dop te hou.

Die ratel was glad nie gepla deur die Pietertjie (lees bleeksingvalkie) nie en het net voortgegaan om kort-kort iewers vas te steek en te begin skrop, voor hy dan verder gestap het… En na ‘n paar tellings het die Pietertjie nader gedraf.

By Melkvlei self was daar ‘n jakkalsie wat naby genoeg rondgehang het, dat Juan pragtige fotos van hom kon neem, terwyl ons gestop het vir ‘n bene rek.

Van Melksvlei se piekniekplek tot by Dikbaardskolk se piekniekplek was die watergate oorgeneem deur gemsbokke en was daar niks anders te siene nie… buiten vir ‘n Pietertjie in elke dertiende boomtop, of so…

 

Rondom Dikbaardskolk het ons weer ‘n ratel te siene gekry, maar die kalant was al ouer en het dit nie naby aan die pad gewaag nie.

Van Dikbaardskolk tot in Nossob was dit baie dieselfde storie… Gemsbokke by die watergate… Gemsbokke hier en daar onder bome… Springbokkies hier en daar in die lope… Maar buiten vir Pietertjies, niks anders nie.

Na die inklok in Nossob het ons die nodigste afgepak en ‘n vinnige slapie gevang op die gemaklike beddens in chalet nommer 6. Voor ons enigsins kon dink aan rondry, moes ons net eers ‘n draai by die winkeltjie gaan maak, want ons was steeds op soek na iets om hierdie besoek mee te onthou… Ongelukkig vir ons was die winkel onder konstruksie en die tydelike opstelling van die winkeltjie het net gesorg vir die nodigste kos- en versnaperings-voorraad. Geen geskenkies, T-hemde of iets dergeliks nie.

Ons het ‘n vinnige draai by die uitkyk gemaak. Daar was niks te siene nie en die hordes voëls wat ons in 2016 en 2018 daar sit en dophou het, se afwesigheid was oorverdowend stil.

Ons het die bord beloer en gesien daar was ‘n leeu gesien kort anderkant Nossob, in Cubitje Quap se rigting… en so besluit ons om te gaan kyk of ons dalk nader aan die groot kat kon kom as die voriges wat ons te siene gehad het…

Daar was ‘n gompou reg langs die pad, kort nadat ons die kamp verlaat het…

…. en ons was nog nie eers 10km uit Nossob nie, toe staan daar drie voertuie teen die kant van die pad… En in die veld steek twee agterpote tussen die graspolle uit… Die wyfie het op haar rug gelê en slaap. Sy was beslis nader aan die pad as die vorige leeus wat ons teëgekom het, maar dit was nog nie naby genoeg na ons sin nie. Ons was egter hoopvol dat sy sou wakker word en pad se kant toe stap… Mens kan hoop…

Ons het besluit om te wag dat sy moet roer, want dit was al vieruur en sover ons leeus verstaan, sal hulle hier rondom son-sak begin roer om water en kos te soek… Wel, dis wat “hulle sê” en ons weet almal wie daardie “hulle” is… want later was daar sewe voertuie wat almal gesit en wag het dat sy beweeg… en nie net om van slaap-posisie te verander nie.

Kort na sesuur – en na baie grappies en storietjies – het ons maar bes gegee en besluit sy gaan sommer regdeur slaap tot die volgende aand. Dit was maar kakkerlak, soos Juan sou sê… Ons het teruggedraai kamp toe en gaan vuur aansteek… en terwyl ons so vir die vlamme gekyk het, het die geblaf van die geckos in die donker begin opklink.

Die effense bewolkte weer het gesorg vir ‘n mooi sonsondergang – wat Christoff met sy selfoon afgeneem het.

Met die reuk van ons plat hoendertjie, het daar skielik jakkalsies by die bakkie verskyn, wat langtand vir ons gestaan en kyk het… en later selfs gaan lê en wag het, in die hoop om ietsie van die geure te proe… Ons was egter gehoorsaam aan die instruksie in die kamp en het nie die diere gevoer nie.

Ons was nog nie behoorlik klaar geëet nie, of Juan het al gaan omkeer in die kamer… Ons het nog ‘n wyle buite gesit en gesels, voor ons hom gaan volg het droomland toe.

Hier is nog een gompou en een leeupoot foto vir die dag:

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *