2016 – Desember in Dinokeng

16-18 Desember 2016

As jou siel begin roep na die bos, dan soek jy naby-plekke sodat jou menswees darem net weer kan voel of hy/sy kan asem skep… So reël ons vir onsself ‘n vinnige weglopie in Desember, oor die lang naweek, Dinokeng toe.

Dit was heerlik om weer op grondpaaie rond te ry… maar as daar elke nou en dan ‘n kragdraad in die veld voorkom, dan weet jy jy is nie diep in die bos nie… En ons hou van diep in die bos… Daar waar ‘n selfoon in nog ‘n kamera ontaard en nie iets is wat jou pla as jy wel iewers ‘n klomp tiener-kameelperde sien wat toets hoe om met hulle nekke rangorde te bepaal nie.

Kameelperd tieners mannetjie-uitnek

Dinokeng is ‘n gerieflike wegbreek as ‘n mens se tyd beperk is en jy nie ‘n dagrit uit die stad uit eers ‘n plekkie onder ‘n sakkende son kan gaan opsoek nie… Dinokeng spog ook dat die groot 5 op hulle terrein is, maar ons wag nog om die bewyse daarvan met ons eie oë te sien… Ons het wel die een nag leeus hoor brul, maar geen tekens van die katte gesien nie.

Kameelperde in die pienk vlaktes

Ons het 16 Desember ingeklok by Ngata Safari Lodge en gaan nesskrop in ‘n tent-chalet. Dis heel gerieflik en het gesorg vir ‘n ander tipe ervaring, wat verblyf betref. Die mense was gasvry en ons het heel lekker gebly en op die terrein gekuier.

Die wildritte, wat ons self onderneem het – met die nodige permitte – was ook heel rustig en het redelik gereeld dierelewe opgelewer. Maar in die 3 dae wat ons in Dinokeng was, het ons fisies al die moontlike roetes gery en nie een keer paaie gekruis met die leeus, olifante, renosters, luiperds of ander indrukwekkende wild wat op die terrein is nie. Dit was seker net ons geluk (of ongeluk)!

Ou dwalende kameelperd

Ons het wel baie baba en jong bokkies gesien.

Baba blesbokkie

Hierdie wegloop-naweek lewer nie ‘n storie op nie, maar vir die van julle wat wel ‘n vinnige wegloop uit die stad uit nodig het – en nie honderde kilometers ver wil ry nie – kan julle gerus Dinokeng probeer… Jy sal jou siel net so effe flous dat hy/sy wel voel of hy/sy bietjie in die bos was… Tot die stad weer ‘n paar weke later begin druk.

Zebra
Baba rooibokkie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *