2016 Kgalagadi – Dag 1

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Saterdag – 2016/09/17

Ons is rondom 6h30 by die huis weg om Escapé se tenk vol te maak en ons watervoorraad aan te skaf. Escapé se bak was tot amper teen die kappie gepak, met ons nuwe yskas-vrieskas aanskaffing, plus ‘n paar ander kampgoed wat in die afgelope jaar aangeskaf is… en natuurlik genoeg kos (en drank) vir die amper 2 weke wat ons die rustigheid sou in vaar…

‘n Halfuur later het ons pad gevat, uit Centurion uit. Hierdie rondte was dit net ek en Christoff en aangesien ons doelwit was om so gou moontlik in Deben te kom, het ons nie veel tyd langs die pad afgestaan nie. Anders as laasjaar is ons sonder enige “voorvalle” (die amper-boete buite Vryburg) uit Gauteng, deur Noordwes en in die Noordkaap in.

Met die dat ons hierdie rondte in Deben gaan oorslaap het, is ons deur Kuruman Kathu se kant toe. Kort voor Kathu pryk daar die grootste windpomp op ‘n bult, wat ek seker al ooit gesien het. Escapé se spoedkontrole wou egter nie besgee, dat daar ‘n foto geneem kon word nie… So julle moet maar my woord daarvoor vat.

Met die inry in Kathu in, gewaar ons ‘n McDonald’s en besluit om ‘n draaitjie te loop en onsself met ‘n McFlurry te bederf voor ons die Boshoffs in Deben gaan opklop. Oom Bill en Tannie Nellie was weereens dierbaar en gasvry en ons het heerlik saam met hulle gekuier.

…En soos gewoonte, moes ek oom Bill se windpompe afneem… maar hierdie keer was dit sommer met die begerende-boer-met-baard in die voorgrond.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *