2016 Kgalagadi – Dag 5

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Woensdag – 2016/09/21

Rondom middernag, iewers in die omgewing, het ‘n leeu weer begin brul. Christoff het heerlik deur dit geslaap, maar ek was van daar af baie wakker, alhoewel ek nooit gaan kyk het of ek enige lewe by die watergat gewaar nie. Die groot kat het egter elke nou en dan van hom laat hoor, uit die verte.

Vlae voëls kom drink water by Nossob se watergat

Na Christoff wakker geword het, het ons ‘n eerste koppie koffie weer op die kampbedjies in die tent genuttig, maar die tweede koppie sawwelyf het ons by Nossob se uitkyk gaan drink. Daar was egter min te sien, so toe vat ons maar die pad uit die kamp uit Marie se Gat toe. Daar het ook niks aangegaan nie en ons besluit toe om terug te ry Rooikop toe. Ons het langs die pad net ‘n duikertjie gesien wat ewe rustig deur die gras geloop en wei het.

Oppad terug het Christoff onraad vermoed by die regter voorwiel, wat gelei het tot nog ‘n vinnige uitklim by Rooikop se watergat. Escapé se wiel is ondersoek, maar op die oog af was daar niks fout nie. Die uitklimmery het darm net ‘n handvol gemsbokke verwilder… En dus was die tweede uitklim in die park gelukkig sonder voorval.

Blou wildebeeste drentel in die droë loop

Terug by die kamp gaan kyk ons toevallig na merkers op die bord. Daar was ‘n leeu “sighting” by Rooikop die oggend… wat beteken die leeu was daar in die omgewing in die gras toe Christoff uitgeklim het… Of dalk net oor die duin iewers.

Na die vorige paar dae se ryery, was ons nie vreeslik lus vir rondry nie, so ons is weer terug Nossob se uitkyk punt toe, waar die normale swerms voëls besig was om weer in vlae te kom water drink. Daar was ‘n groot trop wildebeeste wat rondgehang het om te kom water drink, maar nie genoeg moed gehad het nie…

Die keer was dit jakkals se kind wat eers die water moes breek…

Die trop het versigtig nader gekom en eers een vir een kom water drink… Kort voor lank het hulle mekaar omtrent vertrap in die watergat en die kleintjies moes maar bontstaan om ‘n beurt te kry. Daar was ‘n paar jongetjies ook in die trop.

Wildebeeste pens en pootjies in die watergat

Ons het gaan brunch maak en toe weer teruggestap na die uitkyk punt toe… Hierdie keer was dit weer die ou springbokkies wat moed bymekaar gemaak het om water te kom drink. Die ooitjie was die brawer een van die lot, of haar dors was net die grootste.

Voor ooitjie oppad watergat toe

In Nossob is bouery in die kamp aan die gang  gewees, so dit was nie heeltemal so stil soos mens sou wou gehad het nie. Ons het toe maar in die pad geval om iewers onder ‘n boom by ‘n waterpunt te gaan sit en dut…

By Marie se Gat was daar niks koelte nie… Oppad na Kaspersdraai het ons twee lui leeuwyfies onder ‘n boom gewaar, ‘n hele ent van die pad af… Maar daar was nie vir ons ‘n ou koelte boompie nie… So ons moes maar verder ry.

En by Kasperdraai self was daar ‘n lieflike volstruis of twee en gemsbokke… maar geen koeltebome nie…

So ry ons toe tot by Cheleka, waar daar ‘n lieflike boom was waaronder ons kon parkeer en met oop vensters die koelte kon geniet.

By Cheleka het ons toe darem ‘n uiltjie geknip, totdat die kwetterende voëltjies ons raak gemis het in hulle verbyvlugte, tussen die boom en die watergat. Ons het ‘n draai by Dikbaardskolk se piekniekplek gaan maak, maar aangesien ons nie van plan was om ver te ry nie, het ons niks eetbare versnaperings ingepak nie – so ons moes maar net met ‘n drink dingetjie uithou.

Oppad terug het ons ‘n gompou in die pad gekry, maar tussen die dophou hoe hy spoed optel om te vlieg en die gryp na die kamera by my voete, was hy in die lug voor ek die kamera reg gehad het. Dit was net so moeisaam vir hom (of haar) om in die lug te kom, soos vir daai aasvoël by Union’s End se watergat.

Ons het vinnig geloer of die leeuwyfies nog geslaap het. Hulle middagslapie (of is dit ‘n dagslapie) was meer suksesvol as ons s’n, want hulle was nog daar uitgestrek onder die boom… Ons het ook net gaan dubbel sekermaak of die leeu by Rooikop nie dalk nog daar rond was nie, maar ons soektog het weer niks opgelewer nie.

Terug by die warm kamp, het ons bietjie bene gerek en weer gaan loer vir lewe by die watergat… maar daar het bitter min aangegaan. Toe stap ons maar swembad toe om ons warm voete te gaan afkoel. Ons het vinnig geselsies gemaak met ons bure in die kamp, wat besig was om te swem, maar toe ‘n vuurtjie gaan aansteek.

Daar het die vorige dag ‘n groep van 4-5 voertuie in die kamp kom staanmaak. Hulle was uitgevat in soortgelyke T-hempde en hulle voertuie het dieselfde plakkers op gehad.

Met een van sy wandelings badkamer toe, het Christoff gaan geselsies maak en agtergekom hulle is op ‘n 17-dag uittog. Hulle begin in die Kgalagadi, gaan dan deur Mabuasehube in Botswana in en dan weer deur Zimbabwe terug Suid Afrika toe…

Christoff was skoon jaloers oor die groep se vooruitsigte… Maar ons het rustig gaan slaap in die wete dat ons beurt eendag sou kom…

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *