2016 Kgalagadi – Dag 8

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Saterdag – 2016/09/24

Saterdagoggend het redelik opwindend begin. Ons moes kamp opslaan en skuif na ‘n huisie en het besluit om weer vroeg ‘n draai te gaan ry. Ons sou daarna kamp kom afslaan voor dit te warm raak.

Ons is dus weer halfsewe uit toe die hek oopgemaak het. Oppad Marie se Gat toe was daar nie veel te sien nie, buiten die normale rondstanende bokke. Ons het wel spore in die pad gewaar en te oordeel aan die voetspoor-voorbeeld op my Kgalagadi T-hemp was dit waarskynlik een van die groot katte.

Oppad terug Nossob toe het daar ‘n voertuig langs die pad gestaan en die duin met ‘n verkyker bespied. Ons het gestop en gevra waarna hulle so stip kyk en hulle het ons aandag gevestig op ‘n cheetah wat dikpens op die duin bak. Dit was nou wel ver, maar ons het haar vir ‘n ruk deur die 300mm en 600mm lense dophou, terwyl sy die oggendson op die duin geniet het. Sy was heel rustig en te oordeel aan wat ons kon sien, heel waarskynlik goed dragtig.

Dit was as gevolg van haar dat die jong kudu in die rivierloop maar heel versigtig rondbeweeg het.

Kort voor Rooikop het ek twee leeu wyfies amper misgis vir nog graspolle, maar was weer te laat met die kamera om hulle in die verte te vang, voor hulle met die duin se grasse en struike saamgesmelt het.

Maar toe sien ons ‘n jongerige Bateleur (berghaan) op ‘n dooie tak… Die kalant het nog gedink hy sit gemaklik, toe kom pla ‘n bleeksingvalkie hom genoeg dat hy sy vlerke gesprei het… en Christoff kon weer ‘n paar mooi fotos inkry.

Bateleur op die tak
Bateleur reg vir vlieg
Kyk jy dalk vir my? – Bateleur in vlug

By die split na Marie se Gat toe, vat ons toe maar die kortpad Nossob toe… net om ‘n entjie verder slang se kind die pad te sien kruis…

Slang in die pad

Dit was ons laaste besigtiging vir die oggend, voor ons terug was by Nossob kamp en die kamp opslanery in alle erns aangepak is. Dit was nogal opvallend dat die kamp skielik leeg was, na die vorige dag se groep wat weg is en die ander pare wat die vorige nag daar was… en toe raak die rede duidelik.

‘n Groep van 13 gesinne van Bellville af het gearriveer, kinders en al… En buiten dat die kamp skielik weer vol was, het dit ontpop in ‘n speelpark vir die klomp kinders wat uit die voertuie geklouter het.

Ons het die kamp-afslanery nou al mooi verfyn, so ons was vinnig-vinnig klaar en het toe maar rustig by die watergat gaan sit en wag vir die huisie om beskikbaar te raak… en daar het ons onsself weer vermaak deur die voëls by die watergat af te neem… En met die 600mm lens kon ons net-net die kransvalkie vasvang, waar hy in die verte sy kans afgewag het, voor hy weer die vlae, drinkende voëls onkant probeer vang het met ‘n verbyvlug so elke 10-15 minute.

Kransvalkie wat Nossob se watergat patroleer het

Daar was ook ‘n sekretarisvoël wat imposant nader gekom het en rustig kom water drink het…

Sekretarisvoël oppad water toe

En ‘n jakkalsie wat kom drink het… en natuurlik die bokke wat wou kom drink het en elke keer opgegee het kort by die water.

Mamma jakkals by Nossob watergat

Die personeel het ons kort voor 12h laat weet ons kon maar die huisie gaan beset. Ons het glad nie op ons laat wag nie en het dadelik oorgery, uitgepak wat nodig was en toe ‘n heerlike middagslapie, in die verkoelde kamer genuttig.

Ons het weer gaan kyk wat die park oplewer, maar buiten vir die windpomp, het Rooikop nie veel opgelewer nie.

Ons het bietjie by Marie se Gat vasgehak, maar niks opwindend het oor die duine gekom nie… Nie die nabyes of verres nie… Kort anderkant Marie se Gat het ons wel ‘n mooi Pietertjie of twee afgeneem.

Sien Dag 6 vir ‘n verduideliking van Pietertjie, indien nodig.

Terug by Marie se Gat het ons besef ons het nog glad nie een van die knaende spreeus afgeneem nie, so toe doen Christoff dit maar… en betrap toe ook ‘n muis in ‘n struik… terwyl ek maar op die gemsbokke in die watergat se omgewing gefokus het…

Gemsbokke by Marie se Gat

Na nog ‘n rukkie se rondsit, ry ons toe maar terug, sodat ons bietjie langbeen op die stoep kon gaan sit en ‘n vuurtjie kon aanwakker… en moenie vergeet van die ysmasjien wat ons kon benut nie… En so in die verte het die son begin sak en die klanke van die kamp het minder geraak. Met ons magies vol en lywe vars gestort, kon ons toe heerlik gaan opkrul op ‘n sagte, snoesige bed.

Langbeen op ons Nossob-huisie se stoep

Die volgende dag het Bitterpan gewag…

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af… Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *