2017 Paternoster – Dag 1

Kaapstad hier kom ons!

Saterdag – 2017/08/12

Moekie het die Vrydagnag sommer by ons oorgeslaap, sodat ons betyds kon wegkom Lanseria toe om ons vlug Kaapstad toe te maak. Maar soos gewoonte, was ons heel te vroeg vir ons vlug en kon ons rustig sit en kuier by Vida op die lughawe.

Vlugte op Kulula is deesdae weer vermaaklik met die personeel se grappige aanbieding van die anders-normale afkondigings. Die Kaap het ons baie droog ontvang, maar die mense was vriendelik en behulpsaam en kort voor lank het ons die lughawe in ons gehuurde “party bus” verlaat vir ons Kaapse draai! Ons is via Vishoek en Stellenbosch na Gordonsbaai.

Ons het Moekie gaan aflaai by oom Kobus en tannie An (my ma se broer en skoonsuster). Hulle het vroeër in die jaar verhuis Vishoek toe. Die aflaai het natuurlik in ‘n heerlike kuier ontaard en ons het heelwat later as beplan van daar af in die pad geval Gordonsbaai toe… En toe besef ons moet eintlik Stellenbosch toe ry, vir Chris (Christoff se neef) se verjaardag.

So arriveer ons by die landgoed, net om ‘n katspoegie van Chris-hulle se huis af te stol… en daar wil ons minder-prettige “party bus” nie weer vat nie… Natuurlik nie op ‘n stuk teerpad nie… Ek gaan nie verder uitbrei nie, behalwe om te noem dat ek beslis nie sterk genoeg is om ‘n 8 sitplek bussie oor grondwalletjies te stoot nie… Gelukkig werk die “jump start” as die bussie agteruit ook loop…

Dit was die eerste keer wat ek by Chris-hulle se huis was en ek en Christoff was dit eens dat ons glad nie sou omgee vir die uitsig wat hulle op die Stellenbosch se berge en wingerde het nie… en natuurlik ook glad nie vir die instap-kelder nie!

Na ‘n gesellige kuier met familie en vriende (en met 2 wynbottels wat ek by die gasheer persent gekry het), het ons begin aanstaltes maak Gordonsbaai toe… Ons moes nog probeer reëlings tref rondom die bussie wat probleme gee.

Christoff was slim genoeg om teen ‘n afdraande te stop, so Chris het nie nodig gehad om ons te lank te stoot voor die bussie gevat het nie… Oppad Gordonsbaai toe, het ek sommer vinnig die slegte nuus met die verhuringsagentskap gedeel. Voor ons by oom Frank se oord ingery het, het ons ‘n oproep gekry om te reël vir ‘n vervangende bussie, binne die volgende uur. Dit was nogal goeie diens, veral omdat ons die volgende dag Wellington toe moes ry, vir oom Jan se verrassingspartytjie. Dankie Europcar/Tempest!

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *