2017 Paternoster – Dag 3

Paternoster hier kom ons!

Maandag – 2017/08/14

Maandagoggend is ons vroeg uit die vere. Die plan was om so rondom 9h in die pad te val en via Vishoek die laaste 2 van die agt-tal op die lughawe in Kaapstad te gaan oplaai… Maar 9h stop ons toe al sommer voor die Oliviers se huis in Vishoek… want hoe hou jy jouself nou onnodig by die huis besig as die Party Bus klaar gepak is en die wiele jeuk net om te draai…

Tannie Annetjie het ons in haar nagklere, japon en krale vermaak, terwyl Moekie ‘n paar slukke ontbyt genuttig het. Tannie An het my ingespan in die kombuis en kort voor lank het ons almal jolig saam koffie gedrink – ek uit ‘n blikbeker, wat eintlik vir oom Frank bedoel was… Ek het die horlosie dopgehou, sodat ons nie laat op die lughawe arriveer nie en moes op ‘n stadium die uitbundige kuiery kortknip, sodat die bussie weer kon padvat.

Met die aankom by die lughawe, het die kennisgewingborde die nuus gedeel dat die Steenkamps se vlug ‘n halfuur vertraag was. Ons gaan soek toe maar ‘n sitplekkie en bekom ‘n koffie en broodjie, terwyl ons wag. Daar was selfs tyd vir Christoff om ‘n boek te gaan koop… Die oomblik toe die bord wys die vlug het geland, begin ons aanstaltes maak om by die deure te gaan wag… maar ons moes ook maar van beter geweet het… van land tot bagasie bekombaar is neem ‘n wyle en dan wag die lang tonnel nog…

Ek was soos ‘n kind wat wou nader hardloop, toe die bekende gesigte deur die skuifdeure gestap kom… Die weersiens was wonderlik en die ontmoetings minder huiwerig en sommer so met die trollie oppad Party Bus toe… Niemand wou verder tyd op die lughawe mors nie.

Met almal se bagasie gemaklik gelaai, kon elkeen sy of haar plek in die bussie kry… en so het dit elkeen se sitplek gebly, vir die duur van die wegloop… Christoff agter die stuurwiel en ek iewers op die groot sitplek langs hom… La en oom Frank by die deure in die eerste ry, met Pa Ampie in die middel tusssen die boetie en sussie… En agter was tannie Elza in die middel tussen Moekie en oom Philip.

Google is aangesê om die pad te beduie en oomblikke later kon ons vir Tafelberg in die truspieëltjie begin kyk. Op die N7 het die geselsery begin en teen die tyd wat ons by Zula Beach House se wit muurtjie ingery het, het die klomp soos ou bekendes geklets.

Ek het kort voor ons die dorpie ingery het, met Nora (die opsigter) begin gesels om te laat weet ons is naby, so die huis het ons met oop deure ingewag… En wat ‘n huis wat ons ingewag het!

As jy van die parkeerarea af instap, lê die woonstelletjie op linkerkant. Die blou houtdeur voor die tweede kamer se skuifdeur is regs… Maar die groot skuifdeur na die leefvertrek, het ‘n belofte ingehou tot die groot geselligheid wat in die volgende paar dae gewag het.

Zula Beach House het ‘n groot oop leefvertrek wat uit ‘n sitkamer, eetkamer en kombuis bestaan. Die opwas is weggesteek agter ‘n muurtjie waarteen die groot gasstoof staan… Die sitkamer se skuifdeure loop uit op ‘n lieflike stoep, wat aan die anderkant begrens word deur die hoofslaapkamer. Na die ander kant toe, langs die voordeur is ‘n wye gang met ‘n ingang na die tweede slaapkamer en die buite woonstel. Teen die trappe op was ‘n dakkamer aan die een kant en ‘n groot slaapkamer (ramme-kamp) met 4 enkel beddens aan die anderkant. Die groot kamer was bereikbaar met normale trappe, maar die dakkamer het ‘n regop trapleertjie gehad, as enigste toegang. Die ouer garde het maar net deur die oop deur na die dakkamer geloer.

En toe stap ons uit op die stoep en verlustig ons in die uitsig oor die strand… en die lieflike aalwyn langs die voetpaadjie strand toe…

Die uitsig van die huis af

Nadat die bussie afgelaai was, het ek en Christoff ons roete omgekeer en teruggery om in Vredenburg te gaan kos kry vir die aand en volgende oggend. Die ander moes besluit wie sou watter kamer beset en ons sou inval by hulle besluite.

Oppad Vredenburg toe, ry ons toe by die bekende “Moertoegepomp” windpomp verby, wat ons met die inry Paternoster toe misgekyk het. Ek het dadelik onderneem om ‘n volgende keer die kamera in te pak om dit vir myself te gaan vasvang.

Vredenburg het ‘n groterige winkelsentrum, waar ons sommer die eerste, beste winkel met kruideniers bygedam het. Gelukkig was dit ‘n Food Lovers Market en ons het basies al ons aankope sommer daar gedoen gekry. Ons moes net by ‘n drankwinkel ook inhol… Ons kan mos nie braai sonder ‘n ou keel-natmakertjie nie.

Terug by Zula het ons verneem ons betrek die dakkamer… dit het sin gemaak, want niemand anders sou daardie trappies op ‘n daaglikse basis kon beklouter nie… Oompie Frank het die ramme-kamp-kamer gekry en kon as enigste inwoner elke aand op ‘n ander bed slaap… As hy sou wou, natuurlik… Tannie Elza en oom Philip het die buite-woonstel gekry en La en Pa Ampie die ander slaapkamer in die huis. Moekie was die gelukkige wenner van die hoofslaapkamer. Sy weet nou nog nie wat sy gedoen het om dit te verdien, maar het heerlik daar gaan nesskrop.

Pa Ampie se gemmerkoekies en beskuit is uitgepak en ons het lekker op die stoep gaan sit en kuier met stomende bekers koffie.

Eerste groot kuier op die stoep

Terwyl ons in die dorp was, het van die Party Nosters op die strand gaan stap en die wêreld verken… en natuurlik met van die plaaslike karakters geselsies aangeknoop… wat toe later by die stoep opgedaag het met ‘n sak vol mossels.

Pa Ampie en tannie Elza het die skoonmaak van die mossels aangepak, wat as voorgereg (of versnapering) sou dien.

En soos die son oor die see begin sak, het die geselsies op stoep verminder en ingeskuif in die huis in.

Sonsondergang oor die strand

Christoff het die gasbraaier op die stoep uitgetoets en vir ons ‘n paar lekker stukke vleis gebraai. Ek het die bykosse in die kombuis aanmekaar geslaan, terwyl die ander dames daar rondom doenig was om tafel te dek en geselsies te maak.

Kort voor lank was ons almal om die eetkamertafel, met ‘n heerlike bord kos voor elkeen. So tussen die smul deur het die geselsies en korswel voortgeduur. Moekie, La en oom Frank het die eerste opwasbeurt gekry en terwyl hulle begin opruim het, het die res van ons nog ‘n laaste koppie koffie deurgewerk.

So stelselmatig is die blou houtdeure voor die skuifdeure ingetrek en op knip gesit en het almal kamer se kant toe begin staan. Daar was nog ‘n paar dae vir kuier oor.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *