2018 Kgalagadi – Dag 6

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Donderdag – 2018/10/18

Na ‘n nag van baie rondrol en min slaap – in my geval, want my man sukkel nie met slaap nie – moes ons ons tentpenne by nommer 13 in Nossob lig. In minder as twee ure was daar omtrent nie ‘n teken dat ons daar nesgeskop het vir die afgelope 4 nagte nie.

Met Escapé gelaai, het ons oom Coenie en tannie Sina gaan groet en hulle ‘n goeie besoek in Namibië toegewens. Oppad uit die kamp uit, gewaar ons oom Johan se wiele by die skuiling en glip vinnig daar in ook om vir oulaas sy hand te skud.

Soos ons Rooikop se watergat nader, sien ons al die koedoe horings pronk en weet ons gaan hierdie keer nie verniet daar inry nie. Ons word toe ook beloon met ‘n steenbokkie wat ‘n goeie poging aangewend het om die watergat leeg te maak… en ‘n paar volstruise in die rivierloop. Dit het eers gelyk of hulle tussen bossies wei en toe ons mooi kyk, besef ons dis ‘n hele string klein volstruisies wat saam met die ouerpaar rondstap.

Pa volstruis stap met sy ‘graspolletjies’

Marie se Gat, Kaspersdraai, Cheleka en Dikbaardskolk het die normale gemsbokke en wildebeeste opgelewer, om natuurlik nie van die drawwende jakkalsies te vergeet nie. Hulle het kort-kort uit die bossies verskyn en verdwyn.By Dikbaardskolk se piekniek plek het ons voete weer grond getref en kon ons bietjie rug en bene strek. Van daar was dit oor die boonste duinepad Mata-Mata toe. Die eerste stuk tot by Vaalpan was ‘n onbekende pad vir ons. In 2016 wou ons dit aandurf, toe die verkoeler van die bakkie begin moeilikheid gee het… Hierdie keer kon ons gaan loer hoe lyk die grasvlaktes tussen die Nossob en Auob riviere.

Die boonste duine pad

Die pad het behoorlik deinings gehad met gras wat ruig in alle rigtings staan. Die veld is beslis nie so droog as mens eers uit die rivierlope is nie… Ongelukkig was die wild ook maar skaars… daar is baie wegkruipplek in die ruig gras en struike wat soos moesies teen die duine uitstaan en diere kon letterlik ‘n paar tree weg wees en oor ‘n duin verdwyn het… Maar ons het twee sekretarisvoëls en ‘n uil gewaar, ‘n volstruis of twee en ‘n handvol gemsbokke.

Die son het ons begin bak so deur die ruite en het net so lekker neer gepiets toe ons later by Kamqua stop vir ‘n happie. Daar was heelwat voertuie en ons moes maar korrel vir ‘n krakerige koelte teen die kant van die piekniek plek.

Ons was skaars weg by Kamqua toe gewaar Christoff die stokstertmeerkatjies in die skadu langs die pad en kry ek kans om my eerste fotos van die grouende karaktertjies te neem. Woes aan die skarrel in die sand aan agter enige iets wat geknibbel kan word, net om vinnig weer orent te kom en te loer of alles nog in orde is.

Waar die pad wegsplit na die Dertiende Boorgat staan daar ‘n voertuig of drie. Met ons naderkom, vertrek die een voertuig en ons gewaar die twee bielies op die wal in die koelte. Die leeu mannetjie was agter die boom, maar die wyfie se slaap-gesig het gesmeek om afgeneem te word… Net soos ek die kamera op haar in fokus kry, het sy haar kop gelig, ‘n lekker gaap gegee en besluit dis tyd om bene te rek… Geen fotos van daardie slapende skoonheid nie.

Toe meneer sien sy is op, was hy skielik wawyd wakker en woerts-warts word sy platgetrek en liefies in die nek gebyt. Soos die leeuwyfie by Kwang het sy ook op haar sy gerol, terwyl die baas weer ‘n koel lêplek gaan soek het…

Ons was nie van plan om rond te hang om te kyk hoe hulle hulle middagslapie voortsit nie. Daarvoor was ons self heeltemal te vaak en te warm gebak in die bakkie… en dalk so klein bietjie bederf met die leeus van die afgelope paar dae… Dit was ook nog ‘n entjie tot by Mata-Mata, alhoewel ons wel die geleentheid gebruik het om te stop om neushoringvoëls en baba springbokkies af te neem.

En wie sal nou nie stop as daar skielik ‘n lang, gevlekte nek langs jou teen die duin verskyn nie…

Kameelperd teen die duin uit

Kort na ons die paar kameelperde gewaar het, lê daar toe ‘n amper-skoon-gevrete karkas van ‘n kameelperd in die droë rivierloop, as getuienis van die siklus van die lewe wat elke dag hier afspeel…

Kameelperd karkas in die rivierloop

‘n Paar tree verder staan grootse kameeldoringbome wat skadu en skuilplek bied en tussen deur in die loop is verdorwe wrak-weergawes van dieselfde bome, wat se spinnekop-takke oor die grond uitstrek… en dan wonder mens hoeveel jare se geboortes en slagtings het voor hulle afgespeel voor die natuur sy tol op hulle ook geëis het.

Kameeldoring boom wrak

Nadat ons by Mata-Mata se ontvangs aangemeld het, het ons die bord gaan beloer waar almal merk wat hulle gewaar het… Ons het gelyk moedeloos gesug toe ons die luiperd-kleur-blokkie by Craig Lockhart se watergat sien… ons het die watergat net van die grootpad af bekyk en dit het nie gelyk of daar iets was nie… Maar ja, die gelukkiges het die luiperd dalk al die oggend daar gewaar en teen die tyd wat ons daar verby gekom het kon die luiperd al saam met die water verdamp het… Wel, dis maar hoe ons onsself getroos het.

Ons het ons maar tot die lug-versorgde chalet 4 gewend en daar gaan wonde lek in die koeligheid. Bietjie later het ons ‘n vuurtjie aangesteek, terwyl ons nabetragting oor die dag gehou het… en sommer die lewe ook en die lewensfase waarin ons onsself bevind, waar alles net so ‘n gejaag is…

Voor ons te diep begin raak vir ‘n soel aand in die Kalahari, het ons besluit om oor te stap uitkyk toe. Mata-Mata se watergat het drie gemsbokke opgelewer, wat versigtig kom water drink het, terwyl ons daar was.

Die vooruitsig van ‘n behoorlike matras het egter die oorhand bo die harde hout bankie in die skuiling gekry en ons het terug gedrentel chalet toe.

Hier is nog ‘n paar fotos wat die dag geneem is:

Pragtige kameeldoring nog vol lewe
Kameeldoring wat al halfpad oppad wrak toe is
Gras halms op die duinepad
Kaapse ooruil
Ja, ons wil volgende keer kleintjies sien…
Die kameelperd van naderby
Mamma springbok moet maar staan as baba wil suip
Pronkende springbokkie by Veertiende Boorgat
Jong koedoe bul naby Veertiende Boorgat
Waaierstert grondeekhoring in die kamp by Mata-Mata

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *