2018 Kgalagadi – Dag 7

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Vrydag – 2018/10/19

Die krag in die kampe word tussen 22h in die aand en 5h soggens afgeskakel. By Mata-Mata word van ‘n kragopwekker gebruik gemaak en die meneer vreet ongeveer 400 liter diesel ‘n dag… So toe ek vanoggend heel deur die weer wakker word en in die donker rondkyk, wou ek my half verwonder oor die lugversorger wat nogsteeds in die kamer aan die neurie was. Met die hulp van my selfoon, het ek egter gou besef ek het ‘n behoorlike kuier in droomland gehad. Dit was al halfses.

Met die aanmeld van die luiperd by Craig Lockhart gister, het ons besluit om vroeg uit te rits daardie kant toe om te kyk ons dalk ook die kolle te siene kry… Ek betrek toe heel paraat die kombuisie om bietjie vir my man koffie in die bed te gee, terwyl ek sommer so tussendeur ons goedjies vir die ryery agtermekaar kry… Maar net toe die ketel besluit om kookpunt te bereik, stoot manlief die kombuisdeur oop.

‘n Rukkie later het ek Mata-Mata se hek agter die bakkie toegeskuif en is ons vort. Met die son nog redelik laag oor die duine, het die grasvlaktes behoorlik soos Sting se Fields of Gold gelyk… en toe Sitsas se windpomp ook nog in die prentjie kom, moes ons stop vir die eerste foto.

Sitsas watergat teen die son wat opkom

By Craig Lockhart was daar geen teken van ‘n luiperd nie… En saam met so paar ander voertuie het ons maar bietjie rond gesit, terwyl ons beskuit in ons koffie verdrink het. Nadat die laaste beskuit gesneuwel het, is daar besluit om maar verder suid te ry. Al was ons hoop gefokus om ‘n luiperd te sien, het ons darem steeds gestop en ander foto geleenthede benut. Dit was ‘n oggend met leeus op die duine… Te vêr om behoorlike fotos te neem.

Eerste leeu wyfie
Ander wyfie wat net een keer kop opgetel het

Eers was dit twee wyfies met een wat behoorlik omgekeer was en die ander wat redelik lui ‘n springbokkie dopgehou het… Die springbokkie was salig onbewus van hulle teenwoordigheid en het rustig geloop en wei…

Met die draai van die pad was die eerste wyfie se lêplek nader aan die pad, maar die ander een was glad nie meer sigbaar nie

Die ander was waarskynlik die leeu-paar van Kamqua gister, wat bo-op ‘n groter duin in die oggendson rondgelê het.

Leeus op die duin

By Kamqua se piekniek plek was ons van plan om terug te draai Mata-Mata toe, totdat ons met die oppak-slag verneem daar is jagluiperds so 10km suid van daar langs die pad gewaar. My man het besluit dis weer my beurt agter die stuur en ek draai toe die wiele suid…

Soos belowe bereik ons die punt waar die jagluiperds lê, met ‘n SUV wat die perfekte plek vir fotos annekseer en geen poging aanwend om te skuif om die ander toeskouers ‘n geleentheid te gee nie. Hulle het soos wafferse Madagaskar pikkewyne net ge-smile and wave as enige iemand vir hulle gegluur het.

Na ‘n paar keer se vorentoe en agtertoe ry en bietjie hier en daar teen die wal uit, kon Christoff ook die gesiggies deur die gras raakgeskiet kry.

Jagluiperds langs die pad in die koelte

Ons wou nie te veel tyd daar langs die pad vertoef nie en het toe noord koers gekies, terug Craig Lockhart toe. Die rit was ‘n keer of wat onderbreek om net seker te maak ons mis nie ‘n luiperd of iets anders iewers in ‘n boom of koelte kol nie… Maar niks… Selfs die leeus van die oggend het iewers anderkant die duin gaan skadu soek.

Terug by Craig Lockhart se watergat het daar twee voertuie gestaan met hulle kameras op die lieflike groot kameeldoring gerig. Die opwinding in Escapé het gou verdamp toe ons geen swiepende stert op ‘n tak gewaar nie… Daar was letterlik niks sigbaar nie.

Dis ook net in die Kgalagadi waar mense ure kan sit en wag vir iets om uit ‘n gat te kom, waar mens hulle in sien verdwyn het… Hopelik het ons ook eendag meer tyd om net te sit en wag vir iets om te gebeur…

Na ‘n onsuksesvolle af-en terugry na Craig Lockhart se watergat, het Christoff ‘n vuurtjie aangesteek en ek het vir ons pap op die stoof aan die gang gesit. So tussen die teugies uit ons glase het ons om die chalet gestap en gaan kyk hoe die son oor Namibië sak. Ons was net besig met ons laaste happies aandete, toe ons bure met hulle Toyota FJ Cruiser daar aankom.

So maak ons kennis met James en Amanda van Kaapstad. Hulle het pas arriveer van ‘n maand-lange vakansie wat hulle deur Botswana en Namibië gevat het. Die Cruiser was netjies toegerus met ‘n vrieskassie en laai-sisteem wat hulle maklik toegang tot alles gegee het. Uit hulle vertellinge was dit duidelik dat hulle ‘n ongelooflike tyd gehad het met al die plekke wat hulle in die twee lande besoek het.

Hulle het dit behoorlik in styl gedoen. James het ‘n cob uitgepak en begin om ‘n stukkie fillet voor te berei. Amanda het pampoen in foelie toegewikkel wat James op die vuur gaargemaak het… Maar terwyl James die kos opgepas het, het Amanda saam met ons afgesuiker na die skuiling toe.

Buiten ‘n jakkals of twee en ‘n vaalboskat, was die wild lewe by die watergat maar stillerig… Die fluister-stories in die skuiling was baie meer opwindend.

Amanda het kort-kort vir James met die twee-rigting-radio ingelig gehou van die min wat by die watergat gebeur het en toe die kos klaar se kant toe staan, het ons haar terug vergesel. Ons was besluitloos of ons moes gaan slaap en of ons nog wou gaan kyk vir iets by die watergat… Die watergat het gewen, maar skaars 20 minute later het die bed harder geroep en ons het gaan inkruip.

Hier is ‘n paar ander fotos wat die dag geneem is:

Gompou statig aan die stap
Kaapse kobra verdwyn in die veld nadat dit voor die bakkie oor die pad geseil het
Kaapse ooruil loer tussen die takke deur
Rooi jakkals met ‘n springbokkie se kop wat iewers geaas is
Volstruis aan die skrop met sy nek wat soos ‘n slang rond rinkel in die grond
Een swaelstertbyvretertjie naby die pad op ‘n tak
Buurman swaelstertbyvretertjie op sy eie tak

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

1 thought on “2018 Kgalagadi – Dag 7

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *