2018 Kgalagadi – Dag 8

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Saterdag – 2018/10/20

Vanoggend was dit weer wekker-tyd en halfses het ons met ‘n spoed aan die gang gekom om vinnig alles gepak te kry, sodat ons kort by 6h by die hek kon uit… En Namibië se grenspos groet met die belofte dat ons wel nog eendag daar gaan deurry en die duine daardie kant gaan opsoek… veral by Sossusvlei…

Son kom op oor die duin net buite die Mata-Mata hek

Die son het in strepe oor die duine uitgeklouter en soos die dag al helderer geword het, het ons die bome bly bespied vir daardie ontwykende luiperd. Ons was skielik verras met ‘n bakoorvos wat langs die pad aan die hardloop was. Die dingetjie was egter baie haastig oppad iewers heen, of oppad weg van iets af, en het skaars stilgestaan dat ons ‘n foto kon neem… Op ‘n stadium is dit tussen ons en die voertuig voor ons deur. Dit was omtrent net ‘n stofstreep soos dit oor die pad gehol het en in die oorkantste bossies weggeraak het.

By die berugte Craig Lockhart watergat het die voertuie opgelyn gestaan rondom die boom. Daar was duidelik iets aan die gang… En by nadere ondersoek was dit duidelik dat luiperd-se-kind wel in die omgewing was. Daar was ‘n dooie springbok in die een mik gedrapeer… Die luiperd, wie se maaltyd daar rondgehang het, was egter nêrens te sien nie.

Ons het hoopvol saam met die ander voertuie begin wag om te sien of die jagter terugkom… Later het ons besef ons sal moet besluit hoe lank ons wil wag en of ons ‘n goeie staanplek in Twee Rivieren gaan opgee in die hoop om die luiperd te sien…

Toe een van ons se blase ook begin gesels, het ons maar bes gegee en pad gevat Kamqua se kant toe.

Langs die pad was daar ‘n paar aasvoëls, slapende leeus en natuurlik die normale springbokke, gemsbokke en wildebeeste… En ‘n wind wat woes begin waai het.

Krans aasvoëls in ‘n boom naby die pad by Dertiende boorgat
Leeus wat amper lepellê in die rivierloop

Waar die Mata-Mata pad insny in die Nossob pad in, was dit duidelik dat daar iets in die pad op aan die gebeur was. Ons het nader gery, maar met die karre wat die omgewing toegetrek het, was dit maar moeilik om uit te maak wat aan die gang was.

Christoff het met moeite ‘n foto of twee gesteel van hoe die jagluiperd-ma en die opgeskote jonges onder ‘n bossie lê en smul het aan ‘n gesneuwelde bok.

Ma jagluiperd met haar tieners, besig om die vangs rustig te vreet

Daarna het ons omgedraai en afgery Twee Rivieren toe… Ons het die kamp terrein gaan uitkyk en ‘n plekkie onder ‘n boom gekry. Die boom was nie heeltemal Nossob se boom nie, maar dit sou werk vir die laaste paar dae… Al was dit teen die pad waar die voertuie uitry uit die kamp uit.

Ons het die wind trotseer om die tent op te slaan… En so tussen die seil- of tent-plat-duikery, en die grond wat sterker is as die tentpenne, het ons die tent staangemaak gekry. Ons moes ‘n keer of wat aan die pale hang ook en as die wind ons ‘n gaping gegee het, het Christoff die storm-toue gespan… Staan het ons tent gestaan en ons kon nesskrop, al moes ons die beseerde kombuiskas verder weg van die kant af laat staan, nadat ‘n bol wind die tent se kante laat induik het soos iemand wat iets suur gehap het.

Deur die loop van die middag het ons bure van Mata-Mata met hulle FJ Cruiser in die kamp ingery, terwyl Christoff alleen by die tent was. Toe ek by hom aansluit, moes ek hoor hoe hulle wel fotos van die luiperd by Craig Lockhart gekry het. Ons was baie ongelukkig met onsself dat ons nie maar langer vasgebyt het nie.

Op ons middag rit het ons die jagluiperds so op ‘n afstand onder ‘n boom gesien en ‘n bleeksingvalkie wat ‘n muis onder ‘n bos uit gevang het, maar die res van die pad Kij Kij toe was maar stillerig.

Bleeksingvalkie aan die stoei met ‘n muis in die gras

Met die terugkomslag het ‘n voertuig anderkant Leeuwdril stilgestaan en voor ons nog kon afslek, het die gevlekte hiëna die pad agter die voertuig gekruis… Christoff het spoed gehou tot ons naby genoeg was en toe kon ons die ou vrou onder lens kry.

Gevlekte hiëna oppad oor teen die duin op

Intussen het die jagluiperd-spulletjie hulle lêplek onder die boom opgegee en weer verder aan die karkas kom knibbel. Die voertuie was egter so geparkeer om fotos te neem, dat ons nie ‘n geleentheid kon kry nie… en ons het maar bietjie uit die pad geklim en verbygeskiet tentwaarts…

Ons eerste vuurtjie in die Twee Rivieren kamp het gewag om aangesteek te word.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Donkerder krans aasvoël by Dertiende boorgat
Ligte krans aasvoël naby Dertiende boorgat
Leeuwyfie se pote
Koedoe bul hou hom maar laag teen die wind
Volstruis “graspolletjies” aan die wei nader aan die pad
Roofarend by Houmoed
Gevlekte hiëna kyk terug net voor sy oor die duin verdwyn

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *