2018 Mafunyane – Dag 2

Donderdag – 2018/03/29

Met die opstaanslag by Amigahram, maak ons kennis met Oom Jan en Tannie Susan, Andries van Heerden se ouers. Surita het saam met Oupa en Ouma in die gastehuis gebly en ons kon sommer voor die Phalaborwa-hek-wegspring kennis maak met van die groeplede.

Na ontbyt het Christoff en Juan die koppie agter die huis uitgeklim, terwyl die res van ons verder met die Kaapse van Heerdens geselsies gemaak het… Dit was natuurlik totdat Juan my weggesleep het vir ‘n stel skaak op die gastehuis se “Harry Potter” skaakstel.

Nadat alles weer op hulle plekke teruggesit is, het ons straat af by Tyre Mart gaan stop, sodat hulle die skroef se skade in die band kon herstel… Van daar was dit ‘n laaste stop by die motorhawe om Escapé se tenk op te top, voor ons die tyd by die Kruger se Phalaborwa-hek gaan verwyl het.

Almal het kort op mekaar se hakke arriveer en toe skop die administrasie in volle swang weg om al die papierwerk afgehandel te kry.

Ons eerste wild vir die dag was ‘n likkewaan wat teen ‘n boom opgeskarrel het en in sy nes in verdwyn het… knus in die boomstam.

Likkewaan in die boom – van Heerdens

Soos wat die papierwerk afgehandel is, het die voertuie stuk-stuk deur die hek beweeg en kon ons vir die eerste keer mooi sien wie almal deel van die konvooi sou wees.

Slag gereed

Eric, ons gids, het so tussendeur begin om vir al die voertuie radios uit te deel, voor hy ons almal nader geroep het en homself en sy vrou, Decided, amptelik voorgestel het. Daar was nie baie reëls gekommunikeer nie, behalwe dat hy sou voor ry en die voertuie agter hom kon maar afwissel. Die wat agter hom ry sou gewoonlik meer sien as die res, want die diere op die afgelee 4×4 roete is nie so gewoond aan voertuie soos die diere langs die teerpad nie en hardloop gevolglik weg sodra hulle voertuie gewaar. Die voertuie het in die volgorde van Suid Afrikaanse note een van die groot 5 name gekry, om jou voertuig te identifiseer.

Andersins moes die voertuie maar net sorg dat hulle mekaar in sig hou en enige behoeftes vir stop langs die pad, kan gekommunikeer word as ‘n flat tyre vir “waterlekke” en breakdowns vir meer drukkende aangeleenthede.

Voor daar egter in die pad geval is, moes daar ‘n groepfoto geneem word:

Die Groot 5 van die Kruger, met ons Gids – van Heerdens

Van links onder na links bo is Wiaan, Eric, Decided, oom Jan, Diana, ek, tannie Annatjie, oom Danie, Oupa Ampie, tannie Susan, Juan, Andries, Bernice, Janco, met Christoff agter hom, Karin en Arno, met Surita voor tussen hulle, Carla, Emily* en Lize.

*Emily is ‘n uitruilstudent van België en as deel van haar besoek aan Suid Afrika, moes sy ‘n familie-vakansie meemaak. ‘n 4×4 ekskursie deur die Kruger Wildtuin is dalk nie op elke uitruilstudent se wenslysie nie, maar Emily het dit terdeë geniet.

Die verdeling van voertuie was natuurlik Eric en Decided in die Kruger se bakkie, die Jeep was die Dreyers se wiele en het Wiaan, Diana, oom Danie en tannie Annatjie rondkarwei. Escapé was gelaai met die Gouwse – Christoff, ek, Juan en Oupa Ampie. Die 2 Toyota bakkies was die van Heerdens se waens met oom Jan en tannie Susan in die een en Andries, Bernice, Janco & Surita in die ander een. Laaste, maar glad nie die minste nie, was die van Schalkwyks se 4×4 Prado-perd en woonwa. Arno, Karin, Carla, Lize en Emily het agter begin in die konvooi, maar na die eerste stop het Eric hulle ‘n permanente posisie agter hom gegee, sodat hy kon seker maak die woonwa bly by. Soos wat die roete gevorder het, was dit egter duidelik hy het geen rede tot kommer gehad nie. Arno het hom uitstekend van sy taak gekwyt.

Na ongeveer ‘n uur of meer se ry, het ons afgetrek vir ‘n eerste stop, sodat almal kon bene rek en enige iemand van flat tyres of breakdowns kon verlig.

Eerste pitstop op die roete

Daar was nie veel wild langs die roete nie, maar ons het wel ‘n visarend ‘n ent weg kon sien opstyg en ‘n paar tellings later weer afduik. Of hy suksesvol iets gevang het, kon ons nie sien nie, maar die duik was reeds indrukwekkend.

Sowat ‘n uur later het Eric ons gewaarsku dat ons by die eerste uitdaging van die roete aangekom het. Dit was ‘n skuinserige afdaal deur ‘n sanderige rivierbed en dan uit teen ‘n styl bult.

Eerste 4×4 uitdaging – van Schalkwyks

Maar kort voor lank was al die voertuie gemaklik bo in gelid geparkeer, terwyl die passasiers weer die geleentheid gebruik het om bene te rek.

Kort voor skemer het ons in ons eerste kampplek ingery. Die voertuie het laer getrek en almal het eers hulle staanplekke ingerig, voor die omgewing verken is.

Die staanplek was by ‘n lieflike rivieroewer en almal het op ‘n streep daar tyd gaan verwyl. Daar was selfs ‘n paar buffels en bobbejane wat aan die oorkant van die oewer was, wat ook maar padgevat het, toe die spul aan die oorkant arriveer het.

Maan bo die oorkantse oewer

Almal het heerlik bene gerek, na die meeste van die middag in die voertuie spandeer is… en almal het die geleentheid gebruik om fotos in die skemeraand te neem.

Terug by die kamp is die stoele om die kampvuur uitgepak en het die manne gereed gemaak om die aand se vleisies op die kole te sit. Oupa Ampie het ‘n pap met 3 verskillende soorte mieliemeel gemaak en saam met skaaptjops het ons ‘n heerlike aandete gehad.

Die staanplek was toegerus met ‘n plonsput vir die dames en een vir die mans, asook ‘n toegebalkte sement area waar die stowwerige lywe afgespoel kon word… vir die wat toegerus was.

Dis nou natuurlik as jy nie jou eie stort saamgesleep het nie… Die van Schalkwyks het almal op ‘n streep skoon en vars uit die karavaan verskyn… Die Dreyers was ook beter voorbereid as die res van ons… Hulle het hulle stortwater-sakke op die Jeep se dak laat bak deur die dag en kon ook heerlike warm storte geniet voor slaaptyd.

Juan het na die spelery op die oewer besef dis heel veilig om saam met Oupa in die grond-tent te slaap, want daar is geen wilde diere in sig gewees nie… en soos hulle in die tent rustig geraak het, het ek en Christoff opgeklim vir ons eerste nag in die daktent.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.