2018 Mafunyane – Dag 3

Vrydag – 2018/03/30

Deur die nag was daar kort-kort geluide uit die kamp uit, van mense wat roer, kinders wat iets soek, of iemand wat ‘n draai loop, maar geen diere-besoekers nie. Die volgende oggend het ons rondom 6h begin roer en na ‘n vinnige koffie en beskuit is daar kamp opgeslaan, sodat ons kort voor 8h in die pad kon val.

Kort na 8h het ons deur die eerste rivierloop gery en was ons beloon met die mooiste natuurtonele.

Wal-uit deur die eerste rivierloop

Arno was op sy pos agter Eric en het sommer maklik deur die oorkantste rivierwal na ‘n walletjie laat lyk…met ons kort op sy hakke… en hier en daar het ons by die mooiste kremetartbome (boababs) verby gery wat soos ou konings oor die omgewing uittroon.

‘n Rukkie later het Eric se stem oor die tweerigting-radio die stilte verbreek, met die aankondiging dat ons nou oor die Letaba rivier gaan kruis… en met die, swaai die pad links, rivier se kant toe. Soos ons nader kom, was die geboude wal darm heel sigbaar en het ons heel gemaklik die water, agter Eric aan, aangedurf.

Voorste voertuie in die water – van Heerdens

Eric het so effe vooruit gery, net om seker te maak niemand raak die pad byster nie… want aan die een kant het krokodil se kind in die water gehang en aan die anderkant was die seekoeie se oortjies sigbaar.

Maar almal het mooi in lyn gebly en die vlakkerige water gemaklik oorgesteek… Al was dit eers na ‘n kansie om voete nat te maak…

Agterste voertuie in die water

Na ‘n kort bene rek het ons weer pad gevat. Volgens Eric sou ons by ‘n ander dam stop vir ontbyt… Oppad na die ontbytplek was van die voertuie gelukkig genoeg om ‘n roofvoël of twee te siene te kry.

Ons stopplek vir ontbyt was wel langs ‘n dam, maar daar was nie veel koelte nie… en die herfs-son was warm genoeg dat meeste van ons gewens het vir ‘n koelte kolletjie.

Middagete blaaskans

Koelte was egter vir ‘n oomblik vergete terwyl almal nader na die oewer geskarrel het, om ‘n olifant aan die oorkantste oewer te besigtig.

Ons was op meer as een geleentheid spyt ons het nie die 600mm lens ingepak nie… hierdie was een van daardie geleenthede… maar, die 300mm het steeds gewerk om oomblikke soos hierdie vas te vang…

Die 3 Gouws manne

Terwyl die Dreyers hulle awning ingespan het, het Andries en Bernice die bietjie koelte wat daar was gaan uitsnuffel en vir ‘n paar oomblikke uitgespan.

Uitspan in die skaars koeltekolletjies – van Heerdens

Meeste van ons was maar redelik verlig toe Eric aankondig dis tyd om op te pak en ons kon die lafenisse van die voertuie se lugversorging benut.

En daar kry ek toe my windpomp in die Wildtuin ook…

By die volgende indraaiplek, was ons een van die agterste voertuie en het ons net gesien hoe ‘n groterige trop buffels op die oorkantste oewer in die bome in verdwyn. Ons het bietjie bene gerek en geskarrel om weer koue drinkgoed in die voertuie in te kry.

Bene rek na die waterkant toe het Eric benoud gehad – van Heerdens

Daar is ook bietjie bene gerek, maar Eric het die dwalers teruggeroep as gevolg van die seekoei gesin wat naby die rant van die water rondgedryf het.

Seekoei gesin – van Schalkwyks

Almal is weer terug voertuie toe en die middagskof het voortgeduur… met ‘n besigtiging van ‘n arendpaar…

Arende in die bome langs die pad – van Heerdens

… en net toe die middag lank begin raak, kondig Eric aan dat daar ‘n paar olifante langs die pad is… Die voertuie het redelik na aan mekaar gestop, sodat almal ‘n ogie op die knewels kon kry, wat toe dalk nie die beste was nie… Want ‘n jongerige bulletjie was saam met ‘n kleiner enetjie en ouboet wou met mag en mening vir kleinboet/sus aan die anderkant van die pad kry.

Olifant se kind storm toe reguit op Andries-hulle se bakkie af, net om kortom te draai en al gillende weer koers te kies… Gelukkig die keer ver genoeg na links om agter die agterste voertuig oor die pad te gaan en by die ander olifante aan te sluit.

Eric het met ons by Bateleur kamp ingery sodat die wat wou, kon ys aanvul… maar die winkeltjie was amper vergete op daardie stadium, soos almal se weergawe van die olifant-storm oorvertel is.

Ons moes maar weer aanstaltes maak, want die kamp was nog ‘n ent weg en die son het al begin watertrek… Eric het egter weer gestop en vir ons redelike vars luiperdspore in die modder uitgewys.

En soos die son gesak het, het ons by die volgende staanplek aangekom. Daar is inderhaas geskarrel om almal se tente opgeslaan te kry en nes te skrop vir die nag. Dit was nie lank nie, toe begin die kinders met flitse die omgewing verken – onder ‘n wakende oog van Eric – terwyl die volwassenes om die vuur stoele nader gedra het.

Skielik het ‘n hiëna redelik naby aan die kamp sy stem laat hoor… en al die ander stemme het vir ‘n oomblik stil geraak om te luister. Die tjank het nog so een of twee keer opgeklink, maar dit het nie juis nader gekom nie… en kort voor lank het die kamp se stemme en stories weer opgeklink, tot almal vroegerig tente toe gestaan het.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.