2019 Kgalagadi – Dag 1

Pretoria na Van Zylsrus!

Sondag – 2019/09/22

Ons het vroeg geroer Sondagoggend om onsself deur die stort, en die padkos broodjies deur die sandwich press, te kry, want sewe uur wou ons in die pad val Van Zylsrus toe. Ons eerste oornag – die hotel op Van Zylsrus!

Christoff het die tasse en my ag-f#k-tog-vrou tassie (aka toilet-tassie) agter in die bak gedruk en toe is dit net ons, ons padkos en ons flesse wat moes klim dat ons kon ry… Net om weer uit te klim, want daar was ‘n stewige stomp of twee in die braaihout wat halstarrig agter die lintel van die afdak vasgesteek het…

Ek, saam met ‘n gawe omie wat verbygestap het, het agter op die bak-trap geklim en dit was net genoeg gewig om die braaihout op die dak veilig onderdeur die lintel te kry.

Ons het die stad agtergelaat en die Noordwes vlaktes ingery… maar die beskawing wou maar nie besgee nie en ons kon maar net frons vir die toestand van die kleiner dorpe se omliggende vlaktes wat oral besaai was met wegwaai rommel.

Daar was weer ‘n sywind in die Noordwes, wat ons duidelik laat verstaan het wie kraai koning oor daardie vlaktes. Hierdie keer het ons gelukkig geen voorvalle gehad met vallende voorwerpe van die dak af nie, maar Escapé se deur het skril in my ore geskreeu, soos dit bly klou het om nie saam met die wind te gaan nie.

Soos goeie Discovery Insure klante het ons gesoek na die BP op Kuruman, wat volgens Google Maps in ‘n systraatjie moes wees… maar duidelik was daar ‘n kommunikasie gaping en moes ons maar by ‘n Caltex garage inry, om Escapé se dors te les… Geen brandstof-terugbetaling vir daardie oefening nie…

Die Caltex lewer toe wel regte oefening op… Met die inry-slag sak daar ‘n man op die grond neer en begin daar opstote maak. Toe ons tot stilstand kom en Christoff klim uit, spring die man op en kom fist bump vir Christoff.

Hoeveel push-ups moet ek vir Meneer maak?” vra die man vir Christoff in ‘n poging om ‘n geldjie uit hom te kry, om sy saamry-geleentheid te hak vir die brandstof wat besig was om in sy voertuig te tap… Christoff druk hom toe maar giggel-giggel ‘n paar rand in die een hand en die laaste padkos-broodjie in die ander.

Hy’t skaars die broodjie gehap, of die saamry-geleentheid begin wegtrek. Die man spring daar weg en storm die oop venster. Met ‘n paar handgebare bring hy die kar tot stilstand en gil: “Wag! Ek eet nou eers!

Ons het maar net gegiggel, betaal vir die brandstof en verder koers gekies Hotazel se kant toe.

Ons het begin uitsien na die grondpad! As mens die grondpad tref, begin die avontuur amptelik en ek kon nie wag om Pa en seun af te neem, terwyl die bande afgeblaas word nie… Maar dit was my toe nie beskore nie.

Vooruitgang het die omgewing ook getref en die grondpad is al amper geteer tot in Van Zylsrus… Waar ons vroeër sommer naby aan die boere gevoel het, as jy so op die grondpad verby die hek, huise en windpompe gery het, voel jy nou skielik soos ‘n stadsjapie wat op die teer verby jaag.

Die padwerke was gelukkig nog nie deur tot op die dorp nie, so Escapé kon darm spore in die wit sand los, voor ons weer die dorp se teerpad getref het… Maar, op die drimpel van die dorp, moes ons natuurlik die foto-ding doen, saam met die nageslag… In 2015 was dit saam met die voorgeslag.

…Tannie-Ma en seun…
Met Juan agter die kamera – eerste van vele fotos

Op die dorp het ons dadelik gaan inklok by die Van Zylsrus hotel en bene gerek… Ons het ons verkyk aan die dekor van die hotel – een van die redes hoekom ons na vorige besoeke besluit het om in die hotel te oornag… Die ander rede was omdat Oupa Ampie hier grootgeword het en ons kon Juan bietjie blootstel aan waar sy oupa vandaan kom.

Juan en die verkleurmannetjie langs ons kamer

En voor ons ons eerste koue enetjie afgesluk het, was Juan al aan die geselsies maak met die locals… Apie, die hotel se nie-amptelike karwag, het sommer dadelik bakhand gestaan vir ‘n twakkie of ‘n geldjie… Selfs ‘n “Apie, moenie die mense pla nie” van die hotelbestuurder af, het hom nie afgesit nie.

Elke keer as ons vir Juan gesoek het, was hy buite in die straat, plat op sy bas in die stof, saam met die plaaslike manne aan die kuier… onder andere Apie… Hy’t baie lekker geluister na al hulle praatjies en selfs saam met hulle gaan rondstap na hulle deel van die dorp, waar hulle hom ‘n paar plekke uitgewys het…

Juan met Christoff se “pose” by Van Zylsrus se Moer toe-padteken

Teen sesuur se koers was ons al lus vir iets anders as padkos. Ons het in die hotel se restaurant gaan aansit en die manne het hulle gereed gemaak vir die berugte vetkoeke met maalvleis, terwyl ek iets ligter aangepak het. Daar was heeltemal te veel gepeusel aan padkos langs die pad.

Die vetkoeke was natuurlik weer so ‘n treffer, dat ons sommer dadelik begin voorbrand maak het by die kelner vir ‘n wegneem een vir Juan vir die volgende dag vir padkos.

Na ete was ons baie ryp vir slaap, maar Juan wou nog eers kuier en met die plaaslike manne wat ook huiswaarts gekeer het, was ons die aangewese geselskap. Ons het die agtertuin gaan verken en later al drie op ‘n swaaibank in die tuin gaan neerplak en lang stories gesels.

Toe die bankie te hard begin raak vir sekere agterstewe, het ons maar rondgestaan en die Noord Kaapse sterrehemel bewonder, waar aansienlik meer en helderer sterre as in die stad sigbaar is.

Maar dit was nie veel na dit, wat die bed so hard begin roep het, dat ons ongeskik sou wees as ons nie gehoor gegee het nie… Juan moes maar toegee en homself in sy kamer gaan besig hou, terwyl die ouer lywe gaan omkeer het vir die nag.

Dorp-dekor in Van Zylsrus

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *