2019 Kgalagadi – Dag 2

Van Zylsrus na Twee Rivieren… en bietjie verder

Maandag – 2019/09/23

Rondom sesuur word ons wakker van stemme in die binnehof buite ons kamer… en in die agtergrond is die ritmiese gedreun van ‘n speaker wat se bas vibreer… Juan was reeds wakker. 😉

Toe Christoff sy kop by die kamerdeur uitsteek, was Juan dadelik daar om te hoor of sy badkamer sakkie nie dalk in ons kamer was nie… Na ‘n vinnige loer in die kamer is die twee manne bakkie toe om te gaan kyk of dit dalk daar agtergebly het… wat toe wel die geval was.

Die restaurant was skaars oop, toe ons dieselfde tafel gaan opsoek en hulle ons bestelling vir ontbyt neem… asook Juan se wegneem-vetkoek-met-maalvleis.

Na ontbyt het Christoff die koöperasie gaan opsoek vir ‘n besem… (Ja, ons het WEER vergeet om ‘n besem in te pak… selfs die een waarvoor ons spesiaal laasjaar by die Spar op Sannieshof ingedraf het.)

Ek en Juan het rondgehang, totdat die winkeltjie langs die hotel agtuur oopgemaak het, sodat ons koeldrank en water vir die pad kon koop… Vandaar is ons weer terug hotel toe, om ons rekening te gaan vereffen, terwyl Christoff die bakkie omgebring het vorentoe.

Ons het Van Zylsrus gegroet en die pad Askham toe aangedurf. Die pad was lanklaas geskraap en die geskud het amper skade gemaak, met ons lywe vol ontbyt en gisteraand se vetkoek… By die Tampan bordjie is daar remme aangeslaan, sodat ons vir Oupa Ampie ‘n foto kon neem en stuur – en die manne kon gedeeltelike verligting kry van die geskud.

Gouws manne by die bordjie van die plaas Tampan

So 20km voor Askham kry ons die padwerkers, waar hulle besig was om die grondpad te skraap… Toe ry daai grondpad amper so glad soos ‘n ingeloopte teerpad. Ongelukkig vir sekeres in die bakkie, was Askham net te vêr… Daar is maar langs die pad, weggesteek agter ‘n paar groterige bome, ‘n veltie gevang… Die benoudheid was op ‘n einde.

In Askham aangekom, het Christoff Escapé se pensie vol gemaak, terwyl ek gou vir ons ‘n skottelgoed sponsie in die winkeltjie gaan koop het. Daar was geen versnaperinge of roomyse vir ons gekoop nie – almal was nog vol na die ontbyt.

Die laaste stukkie pad Twee Rivieren toe, het verbygevlieg en toe ons weer kyk, ry ons by die Kgalagadi Lodge verby en wink die parkering buite die Kgalagadi se hek vir ons. Nadat ons ingeteken het, moes daar natuurlik eers fotos van die oomblik geneem word en ons het gestoei om die kamera so op te stel, dat ons al drie saam op die foto kon wees.

Gelukkig het ‘n Nederlandse egpaar ‘n geleentheid gesien en aangebied om ons foto te neem, as ons hulle ook sal afneem by die hek… En so kry ons toe ‘n mooi foto van ons almal saam by Twee Rivieren se ingang.

Die 3 Gouwse by Twee Rivieren se hek

Met laasjaar se gestoei om ‘n bespreking te kry, kon ons net ‘n staanplek sonder krag kry, so ons het ewe soet verby die ander oop staanplekke – met kragpunte – gery en die kraglose staanplekke agter in die hoek van die kampeerplek gaan opsoek… Ons het letterlik die verste hoek van die kampplek gekry en daar begin afpak om tent op te slaan…

Dit was omtrent ‘n storie… Christoff het laasjaar by oom Frikkie tips gevang met die spesiale penne wat hy maak vir die Kgalagadi en het self ‘n paar gemaak om mee tent op te slaan… Maar selfs daardie penne het gebuig tussen die gehamer van bo en die harde grond wat vasskop van onder…

Kort voor lank het die tente darm gestaan, lekker stewig geanker teen die wind en kon Christoff die kamp vir Juan gaan wys, terwyl ek die laaste paar goedjies op hulle plekke gekry het.

Sonkrag staanplek in die hoek by Twee Rivieren

Die manne was skaars terug by die tent, of ons het ‘n koelhouer nader getrek en ‘n hap-en-drink-dingetjie ingepak en koers gekies in die Nossob op. Sommer kort buite die hek het ons troppe gemsbokke en springbokke gekry en Juan kon begin om die kamera in te span.

Daar was ‘n groterige trop blou wildebeeste verder af… en hordes volstruise, besig om te skrop in die droë, sanderige loop. Teen die oewer onder ‘n boom het drie gevlekte hiënas so bietjie agter die koelte aangeskuif en net lank genoeg regop gebly dat ons hulle gewaar het. Plek-plek het rooi jakkalsies in die oopte gelê en hulleself laag gehou teen die koelerige windjie.

Gevlekte hiëna
Beseerde bruin hiëna

By Kij Kij was daar ‘n jongerige beseerde bruin hiëna wat naby die watergat gelê het. Hy het op ‘n stadium probeer om die watergat te nader, vir ‘n slukkie water, maar die trop gemsbokke het duidelik beheer gehad van die watergat en wou die kalant nie naby toelaat nie.

Aan die anderkant van die watergat kry ons drie koedoe ooie wat aan ‘n boom staan en knibbel… Maar versigtig wegbeweeg het, toe die bakkie te lank daar staan en lense op hulle fokus…

Stap maar versigtig weg

Die res van die pad Melkvlei toe was daar nie diere te siene nie en met die terugtog was dit net ‘n roofarend wat bo in die nes die omgewing sit en bespied het.

Roofarend op die nes

Die kamp het hard begin roep en Juan kon al die braaibroodjies met hom hoor praat… Dit was sy enigste bestelling in terme van spyskaart vir die week in die Kgalagadi – braaibroodjies!

In die kamp is ‘n vuurtjie aangesteek en ek het begin braaibroodjies maak… maar ons het vinnig-vinnig besef ons het nie warm genoeg ingepak vir die laaste week van September in die Kgalagadi nie. Die wind was snerpend koud!

Ons het kort na ete maar gaan inkruip en styf gelê om die hitte in ons lywe te hou.

Hier is ‘n paar fotos wat die dag geneem is:

Springbokkie naby Samevloeiing
Beseerde bruin hiëna van Kij Kij
Skroppende volstruise in die Nossob
Gemsbok deur die groot lens by Kij Kij
Gemsbok op die duin
DAAI boom van die Kgalagadi

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *