2019 Kgalagadi – Dag 7

Einde met ‘n Hoogtepunt!

Saterdag – 28 September 2019

Ons laaste oggend het aangebreek… Die ander voertuie het begin tou staan om uit te ry watergate toe, maar ons het met ons eerste beker koffie op die chalet se stoep gaan sit en kyk hoe die son oor die Nossob se loop opkom…

Gister was ‘n lang dag op die pad, vandag gaan ‘n lang pad wees en môre is die langpad huistoe… so ons was nie te haastig om in die bakkie te klim nie. Maar na die laaste slukkie lafenis die koffiebekers verlaat het, het die geskarrel begin om aangetrek en gepak te kom.

Nadat alles weer plek gekry het in die bakkie, ons inkluis, is chalet nommer 6 se sleutel verruil vir ons permit en moes ons Nossob kamp groet. Met die oopmaak van die hek, gewaar ons twee koedoe koeie wat skrikkerig watergat se kant toe kom… Ons eerste wild vir die oggend.

By Rooikop gewaar Christoff die bruin hiëna wat water drink, maar die man het nie gelyk of hy gaan rondhang by die watergat nie… Gelukkig vir ons het moeder natuur hom geroep… en toe blyk dit ‘n haar te wees. Juan kon nog ‘n foto of twee geneem kry, voor sy uit sig verdwyn het… Die lang lens kon toe net oorgeskuif word na die gompou, wat rustig van die sykant af oppad was watergat toe.

Van Rooikop af het ons Marie se draai gevat, net vir ingeval… Skaars ‘n kilometer verder word ons tot stilstand geflits deur ons buurman wat oppad terug was kamp toe. Die vorige dag het hy en Juan gesels en Juan het verduidelik dat ons graag ‘n leeu van naby wou sien en een wat nie net lê nie. Die buurman rapporteer toe dat daar ‘n hele klompie leeus by Marie se Gat was. Die leeu mannetjie onder die boom by die vorige nag se vangs en dan nog drie wyfies naby die watergat en naby die pad… Maar ook maar plat leeus.

By Marie se Gat aangekom, was daar nog een voertuig voor ons, maar ons kon sommer vinnig die eerste leeuwyfie opspoor. Sy het skaars twee meter van die pad af, by die struik gelê. Die een leeuwyfie by die ander voertuig was letterlik teen die pad… Sy het op die walletjie gelê wat die sand langs die pad maak… 

Maar die leeu mannetjie en nog ‘n wyfie was ver onder die groot boom ‘n ent van die watergat af.

Die voertuig voor ons het ‘n entjie vorentoe gery en Christoff kon tot langs die wal-wyfie ry. Ek was baie lus om my venster toe te maak, want sy was so naby dat ek kon hoor hoe die spoeg van haar tong die hare op haar pels plat gaan laat lê met elke lek wat sy gegee het… ek moes heel uitzoom, met die kort lens, om haar enigsins te kon afneem.

Ons het al die wyfies so op ‘n streep gepeper met fotos… en met ‘n opkyk gewaar ons ‘n jongerige eland wat in die pad aangestap kom, oppad watergat toe – heel onbewus van die leeus… Die wyfie wat onder die groot boom was, het nader gedraf en stelling agter ‘n paar graspolle ingeneem.

So paar meter voor die ander voertuig, het die eland oor die pad se walletjie gestap in die veld in… en skielik was die ander wyfies se ore ook orent, maar het steeds bly lê… Die eland het so effe vasgesteek, maar van waar hy was, kon hy waarskynlik nie een van die leeus behoorlik sien nie, want hy het weer begin aanstap watergat se kant toe.

Hier kom ‘n ding”, het Christoff van agter die stuur af gefluister en bygevoeg dat ons die kameras gereed moet hou… Ons het nie nodig gehad om lank te wag nie, want toe die eland kort by die graspol-skuilende-leeuwyfie verby is, spring sy op en daar trek altwee weg.

Twee van die ander leeuwyfies het ook ‘n halfhartige poging aangewend om die eland van die kant af plat te trek. Die eland het die sy-linie gewaar en rigting verander weg van die watergat af. Sy bene het hom ook vinniger weggedra, as die poging van die drie vol-pens wyfies… Die vierde een het nie eers geroer nie. So ook nie die leeu mannetjie nie… Die eland se stofstreep het vêr anderkant die watergat eers tot stilstand gekom.

Die twee wat die verste gehardloop het, het maar net teruggestap na ‘n gemaklike lêplek en hulleself weer gaan tuismaak… Asof niks gebeur het nie… Dit was net my hande wat vir ‘n ruk nie kon ophou bewe nie… Of dalk het die eland se bene ook maar soos my hande gemaak.

Ons het nog ‘n foto of twee van die wyfies geneem en toe aanstaltes gemaak. Daar was nog meer as 100km vir die dag oor…

By Kaspersdraai het die gemsbokke en wildebeeste mekaar rondgejaag om ‘n beurt by die watergat te kry. Ons het hulle vir ‘n rukkie dopgehou, maar was skaars terug in die pad, toe gewaar Christoff ‘n Pietertjie (lees bleeksingvalkie) op ‘n stomp besig met brunch… Altyd ‘n geleentheid vir fotos. Die keer was dit die manne se beurt.

By Cheleka was dit net gemsbokke… so ook by Dikbaardskolk. Na ‘n vinnige bene rek by Dikbaardskolk se piekniekplek, het ons verder gery… Die “vervelige” deel, wat gister niks opgelewer het, was bietjie minder vervelig gewees. Ons het ons derde ratel vir die week gesien het! Ons vorige drie besoeke aan die Kgalagadi het nog nooit een van hulle opgelewer nie en hierdie rondte sien ons sommer drie.

Die outjie was baie nader aan die pad en het amper in ‘n mol verander, soos hy agter die een bossie aan die grou geraak het… Gelukkig vir ons het hy darm redelik bo grond gebly en het hy kort na die grouery weer kop uitgesteek en sommer naby ons agter ‘n stomp kom draai… Net reg vir ‘n paar mooi kiekies.

Daar was weer vinnig bene gerek by Melkvlei en al het ons die bome en oewer-mure hoe bespied vir daai luiperd wat vroeër in die week gewaar was, was ons geluk vir die dag net nie van so aard dat ons daardie kreatuur ook nog kon bekyk nie.

Te danke aan ander voertuie wat hulle gewaar en bewonder het, het ons wel twee uile in die takke te siene gekry…

En sommer so, ry ons skielik by Samevloeiing verby en besef met ‘n klem om die hart die einde is nou hier… Ons ses dae in die park het tot ‘n einde gekom.

Hier is nog ‘n paar fotos wat die dag geneem is:

Rooikop watergat in sepia
Portret van die luiste leeuwyfie, wat nie eers probeer saam jag het nie…
Leeuwyfie kyk die snollende eland agterna
Oppad terug na die halwe jag poging
Blou wildebees by Kaspersdraai
Bleeksingvalkie los sy vangs vir ‘n telling om ons uit te kyk
Ratel knibbel iets af na die grouery
Ratel bekyk die voertuie wat langs die pad gestop het
Kyk hoe kyk hy vir my…
Kaapse ooruil strek bietjie vlerke
 Nonnetjie Uil

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *