2023 Noordkaap – Dag 1

Pretoria na Kathu

Saterdag – 18 Maart 2023

Ons het besluit ons is met vakansie, so daar was geen wekkers gestel nie. Winston was basies klaar gepak. Dit was net die kamp-yskassie, tasse en padkos koeler wat ingepak moes word voor ons kon pad vat.

Merke… gereed… Kathu toe

6h45 was alles gelaai, die jerrie kanne op die dak vasgemaak en selfs Christoff se lang arm ingespan om ‘n selfie te neem, met Winston in die agtergrond.

Die beplande roete vir die dag was om die N14 te volg uit Pretoria tot in Kathu. Niks snaaks of opwindend nie. Winston se pensie vat net 40 liter, so as daar 586km vir die dag afgelê moet word – met onsekerheid oor hoe gereeld ‘n vulstasie langs die pad gaan opduik – word daar ekstra 40 liter op die dak saamgery, net vir ingeval.

Kyk, Winston is beslis nie haastig nie en is ook nie gemaak vir snelweg ry nie. Die ou boksie werk baie hard om 120km/h te maak op die snelweg, veral as daar bulte is. So ons was nie haastig nie. Ek het die eerste skof agter die stuur aangepak, maar in die proses vir Christoff ‘n paar ekstra grys hare besorg… Tussen die wind, slaggate en vermyding van ander voertuie, het ons ‘n paar keer woes gewobble… en as jy nie die stuur in jou hande het nie, wonder mens of een so waggel te vêr gaan wees.

Dit het darm nie gebeur nie. Ons het in een stuk (plus ‘n paar bekommernisse) by die vulstasie buite Ventersdorp gestop en Winston se pensie opgetop… Christoff het die bande ook stywer opgepomp om te kyk of dit help vir die waggelry… en dit het gehelp.

Van Ventersdorp af was Christoff agter die stuur. As getroue Discovery kliënte het ons uitgekyk vir ‘n Shell in Vryburg, wat ons of heeltemal gemis het of dis nie meer daar nie, en ry dus so uit die dorp sonder om brandstof in te gooi. Net toe ons begin dink ons gaan moet aftrek om een van die jerries aan te wend, verskyn Komtiekie op die horison. Gelukkig het ons ons misgis en was dit voor Lykso en nie aan die anderkant nie.

Vars koffie oppad

Met Winston opgetop, het ons ‘n afdakkie geannekseer en ons gasstofie laat vlam vat vir ‘n beker vars koffie, saam met padkos. Die wind was egter woes en ons moes wyd staan om die vlammetjie aan die gang te hou.

Ons het kort na 14h in Kathu ingery. Ons het eers ‘n draai deur die dorp gery om al Christoff se ou bekende plekke te gaan bekyk. Van die huise en geboue was nog herkenbaar, maar die dorpie het baie verander in 30+ jaar, sedert hy daar gebly het.

Dit was ook nie die eerste keer wat Christoff weer op Kathu gekom het nie. Ons was so 10 jaar terug ook daar, met die motorfiets, maar sedert toe het Kathu nog meer uitgebrei as gevolg van die myne in die omgewing.

Vroeër jare was die golfbaan op die kant van die dorp, met niks naby nie. Intussen het daar ‘n estate rondom die baan ontwikkel. Ons het in een van die gastehuise ingeboek vir die nag. Kathumzi is ‘n baie oulike gastehuis, op die grens van die ontwikkeling.

Rusplek vir die nag

Na die dag se sit in Winston – wat verbasend gemaklik was – was die 15 minute wandeling deur ‘n deel van die estate en langs die golfbaan, onder die mooiste kameeldoringbome, ‘n lekkerte… veral toe ons ‘n koue bier by The Deck kon nuttig, saam met ‘n heerlike pizza.

Kathumzi gastehuis

Ons het rustig teruggestap gastehuis toe en ons plek-plek verbeel ons was iewers diep in die Kalahari. Daar was bokkies en mongoose wat op en rondom die golfbaan aan die snuffel was vir iets te ete.

Terug by Kathumzi het ons vir ons elkeen ‘n glasie geskink en langbeen op die stoep gaan sit en die agterplaas bewonder.

Daar het ons gesit en gesels en staar tot lank na die son gesak het. Daar het nou en dan ‘n bokkie verbygekom om van die peule te eet, maar andersins het ons net Kalahari aand ingedrink.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

 

Kathumzi se agterplaas

1 thought on “2023 Noordkaap – Dag 1

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *