2023 Noordkaap

Die Noordkaap Verkenningsveldtog!

Sedert ons laaste besoek aan die Kgalagadi in 2019, het ons weglope skielik tot ‘n einde gekom. Covid het toegeslaan en saam met dit het ‘n klomp veranderinge in ons lewens gebeur. Een van daardie veranderinge was ons getroue ou Escapé wat net een dag by die winkel nie weer ‘n vlam in sy enjin kon kry nie.

Na ‘n lang gewik en weeg – en buitensporige regmaak-kwotasies as ekstra motivering – het ons besluit om ons aftree-rondloop-karretjie bietjie vroeër aan te skaf… en so het Winston op ons erf kom intrek. Daar is hordes fotos van Winston in die dag-tot-dag vertellings, so ek gaan nie nou hier een plaas nie, maar ons LOVE ons ougat-karretjie.

Met Winston op die erf, het die jeukery vir ‘n lekker rondloop weer begin kop uitsteek. Ons het groot planne gehad, maar moes werk rondom ‘n paar dae se verlof… En so kry ons Noordkaap verkennings veldtog lewe.

Die beplande roete was 3 640km in totaal met elke nag op ‘n ander plek:

Beplande roete vir die Noordkaap verkenning

Dag 1 – Pretoria na Kathu: 588km

Dag 2 – Kathu na Hondeklipbaai: 730km

Dag 3 – Hondeklipbaai na Port Nolloth: 143km

Dag 4 – Port Nolloth na Ai| Ais Sendelingsdrift kamp: 177km

Dag 5 – Sendelingsdrift na Gannakouriep: 60km

Dag 6 – Gannakouriep na Augrabies Gorge Cottage: 655km

Dag 7 – Augrabies na Orania: 601km

Dag 8 – Orania na Pretoria: 686km

Die drie mikpunte was Hondeklipbaai, die Richtersveld en Augrabies. Ons moes egter ander pitstoppe inwerk, want die afstand per dag was net te veel. So het ons op Kathu besluit oppad kus toe – sodat Christoff sy ou valley kon besoek – en Orania oppad terug – net omdat ons nog nooit daar was nie en wou gaan kyk wat daar aangaan.

Ons wegloop het ons op die N14, N7, N9, N10, N8 en N1… gehad, maar ook op ‘n klomp grondpaaie, mynpaaie en plaaspaaie… en Winston het homself baie goed van sy taak gekwyt.

Aan die einde van die dag het ons 3 495km in totaal gery, waarvan 747km grondpad was. Hier is elke dag se ervarings (click net op die link):

Dag 1 – 2023/03/18 – Kathu (Teer, 588km in totaal)

Dag 2 – 2023/03/19 – Hondeklipbaai (600km teer, 119km grondpad, 719km in totaal)

Dag 3 – 2023/03/20 – Port Nolloth (McDougalls baai) (61km grondpad, 83km teer, 144km in totaal)

Dag 4 – 2023/03/21 – Sendelingsdrift, Richtersveld (90km teer, 96km grondpad, 186km in totaal)

Dag 5 – 2023/03/22 – Gannakouriep, Richtersveld (64km grondpad)

Dag 6 – 2023/03/23 – Augrabies (210km grondpad, 380 km teer, 590km in totaal)

Dag 7 – 2023/03/24 – Orania (317km teer, 187km grondpad, 504km in totaal)

Dag 8 – 2023/03/25 – Huistoe (690km teer, 10km grondpad, 700km in totaal)

Soos met enige roadtrip is mens altyd na die tyd spyt dat jy nie meer tyd gehad het nie en nie meer fotos geneem het nie… Hierdie keer was nie ‘n uitsondering nie. Ons kon gerus meer tyd by van die kleiner dorpies spandeer het.

Vir interessantheid, gaan gerus op Google Maps, sit die satelliet opsie aan en gaan beloer bietjie die dorpies en omgewing waardeur ons gery het. Daar is soveel in ons land, as mens net bietjie van die hoofpaaie afklim.