2024 Kgalagadi – Dag 5

Kol-katte en duine paaie!

Woensdag – 17 Januarie 2024

Ons het baie beter geslaap, maar ‘n hoogsomer nag in die Kgalagadi se groot kampe het maar sy onderbrekings. 22h toe die krag afgaan, was ons op om vensters oop te maak, terwyl die anti-muskiet-spiraal sy rokie na die dak laat sirkel… Ongelukkig het die spiraal nie die nag deurgesien nie en moes ‘n tweede een met ‘n vuurhoutjie aangewakker word. Met die aankom van die krag, is die vensters weer toegemaak om die lugversorger en waaier kans te gee om die slaapkamer af te koel.

Ons het ons blyplek ontruim en Winston opgesaal vir ‘n lang dag op die pad. Ons het geskuif van Mata-Mata na die Kalarahi Tended Camp, maar ek was baie braaf en wou met die onderste duinepad Nossob toe en met die boonste duinepad weer terug Auob toe…

In die klaarmaak-en-pakkery was daar steeds tyd om ‘n likkewaan te vang voor dit in die hoop droë takke, agter die huisie, verdwyn het.

Soos dinge gaan in die Kgalagadi weet jy nie as jy iets gemis het nie, maar as jy op die regte tyd op die regte plek is, dan is dit soos persentjies oopmaak!

Kort by Kamqua gewaar ons ‘n jagluiperd wat aangestap kom in die rivierloop. Toe hy naby ‘n groterige boom kom, het ons gewonder of hy gaan omkeer vir ‘n dag-slapie. Toe nie! Hy het nie agter die stam uitgestap gekom nie, maar het teen die stam opgespring en gaan snuffel in ‘n familievoël-nes so paar meter bo die grond… net om weer af te spring en verder te stap. Hy het voor ons die pad gekruis en skuins-skuins die ander oewer uitgestap, voor hy oor die duin verdwyn het… Twee of drie minute weerskante toe en ons het hom nooit gesien nie!

Jagluiperd al wandelend op soek na kos

By Kamqua het ons bene gerek en ‘n vinnige happie ingewerk. Maar sover het die oggend ‘n besondere ervaring opgelewer… en ons was die enigste voertuig wat dit gesien het.

Ons het skaars by Kamqua gery, of ons gewaar ‘n paar lang bene langs die pad… met ‘n nuweling wat eers onseker vasgesteek het… en toe agter pa inbeweeg het… maar toe nie kon help om steeds te koekeloer nie.

Baba kameelperdjie

In die onderste duinepad het ons ons verkyk aan die groen duine. Soms was daar ‘n paar gemsbokke aan die wei bo teen ‘n duin. ‘n Duikertjie of twee wat hasepad gekies het. Daar was ook 2 springbokkies wat op galop was terug Auob toe – al padlangs – met ‘n vinnige draai deur die veld toe ons naby gekom het.

Onderste duinepad

Nader aan die Nossob was daar ‘n jakkals wat ‘n entjie van die pad af nes geskrop het onder ‘n boom. Ons het bietjie rondgehang om te kyk of dit dalk regtig ‘n nes is waar kleintjies gaan kop uitsteek, maar daar was geen beweging nie.

Jakkals, slaggereed in die koelte
‘n Paar minute later kom ons oor die duin en lê die groen Nossob weer voor ons…

By Kij Kij se watergat was daar geen lewe nie, maar in een van die poele in die pad, was ‘n edelvalkie besig om die wit skoenlappers se kom-en-gaan dop te hou.

Edelvalkie by ‘n waterpoel in die Nossob-pad

Soos ons in die Nossob opgery het Melkvlei toe, was daar oral valkies agter die wit-skoenlapper-fees aan. Daar was ook ‘n mooi sekretarisvoël of twee… en ‘n baie gehawende een.

Ons het by Melkvlei weer gestop vir ‘n vinnige bene-rek en verder gery Dikbaardskolk toe… Ons ken hierdie deel van die Kgalagadi as baie stil, so ek was nie te optimisties dat ons iets sou sien nie.

Tussen Kransbrak en Jan se Draai, laat Christoff my stop – hy het iets gewaar… Ek kyk verder as die mooi dooie stomp en daar sit die drie in gelid…

Geduldige jagters

Daar was ‘n bosserige area voor die jagluiperds en aan die anderkant was daar drie springbokkies besig om te wei… Daar hak ons toe vir amper ‘n uur vas, terwyl die jagluiperds nader beweeg aan die springbokkies. Die springbokkies het heen en weer gewei, soms nader aan die jagters en soms weer verder weg.

Wagtend aan die een kant… weiend aan die ander

Op ‘n punt wat die min-wetende bokkies weer nader gewei het, kom daar skielik VIER jagluiperds uit die bossies uitgehardloop… Ja! Vier! Dit het so vinnig gebeur en Christoff se vinger was baie vinnig op die kamera se knoppie, maar ek het later op die fotos opgetel daar was al die tyd vier cheetahs wat daar gewag het vir ‘n happie springbok.

Maar daardie springbokkie het gehardloop of sy lewe daarvan afgehang het – want dit het!… en die vier katte moes druipstert wegstap van ‘n onsuksesvolle jag af… In daai minuut wat die bokkie se lewe in die weegskaal was, het die lense amper so vinnig oop-en-toe gegaan soos wat die verskillende stelle bene in die rivierloop laat spaander het.

Van die aksie-oomblikke

Ons het vir daardie uur nogal gebak in Winston. Die vensters was oop en die kamera in gereedheid… en die kalahari-somer-son het nie genade vir ons of die jagluiperds gehad nie… Ons het dus vinnig die vensters toegemaak en die lugversorger volstoom aangesit, terwyl ons verder in die Nossob opgery het.

Christoff het weer iets onder ‘n boom gewaar en toe ons stop om te kyk, was dit ‘n leeu wat vir sy middagslapie skuiling gesoek het. Hy het darm sy kop opgelig toe die voertuig tot stilstand gekom het – al was dit amper 50 meter van die pad af.

Maanhaar in sy middagslapie verstoor

Ons was dankbaar vir die bene-rek by Dikbaardskolk, na die gesit en wag – en bak – in Winston, vir die jagluiperds om hulle ding te doen… Maar dit was al 14h30, so ons was maar haastig terug Auob toe.

Dikbaardskolk uitspan

Arme Winston! Die boonste duinepad was weer erg sinkplaat. So tussen die geskud deur, het ons ‘n paar volstruise in die duine gesien, maar verder was dit maar stil… Tot ons by Moravet watergat gekom het.

Moravet watergat

Dit was die eerste keer wat ons water by die watergat sien staan het. Gewoonlik is die water beperk tot die boorgat water, maar die natuurlike pan het hierdie keer water in gehad. Ons het nie lank vertoef nie. Die diere was heeltemal te gerus vir enige iets wat naby hulle sou rondsluip.

By Vaalpan was daar niks te siene nie, maar kort voor die Auob het ons weer dieselfde volstruise van die vorige dag gesien… ‘n Mannetjie, twee wyfies en die twee groottes kort beentjies.

Nader aan Mata-Mata gewaar ons twee Bateleurs in ‘n boom… Ons het nog nie behoorlik tot stilstand gekom nie, toe het die tweetjies vinnig aan hulle nageslag gewerk en weggevlieg.

Rondom 17h het ons by die Kalahari Tented Camp ingery. Dis so 3km in die Auob af is van Mata-Mata, maar ons het ‘n 287km draai gery tot daar. Christoff het ingedraf vir die sleutel en is deur die opsigter in kennis gestel dat ons nie in die kamp moet rondloop nie. Daar is ‘n luiperdmannetjie wat by die swembad se dek kom intrek neem het en die knaap raak knorrig as daar mense naby kom.

Kalahari Tented Camp

Ons het ons huisie gaan opsoek en Winston se bas sommer eerste ingetrek dat ons agter die heiningtjie kon aflaai… en Winston kon bietjie onder ‘n dakkie inkruip…

Die tent-huisies is baie oulik saamgestel, met ‘n heiningtjie by die parkering en die ander oop areas. Elke huisie het sy eie heining, want daar is nie ‘n heining om die hele kamp nie, dus kan die wild deur die kamp beweeg. Mense word aangeraai om altyd ‘n ogie op die omgewing te hou, wanneer hulle buite rond beweeg, of selfs tussen die slaaptent en kombuistent beweeg.

Die slaaptent is lekker groot, met die badkamer aan die parkering se kant. Die kombuis-tent is apart van die slaaptent en ten volle toegerus. Die braaiplek is voor die kombuis, met ‘n muurtjie wat keer dat enige ander besoekers kom saam braai.

Ons huisie het ‘n mooi uitsig op die watergat in die rivierloop gehad. Ons het oor die stoepie se muurtjie gehang om te kyk watse tipe spore rondom die huisie is… Ons was egter nie van plan om buite rond te beweeg nie… ons het ons gemaklik gemaak op die stoep en die rivierloop en oorkantse duine begin dophou vir wildlewe…

Met die verkyker het ons kameelperde in die duine oorkant raakgesien, maar die rivierloop self het net ‘n sekretarisvoël en later ‘n eensame springbokkie opgelewer. Ons was hoopvol dat die luiperd dalk sou afgaan rivier toe om te gaan drink, maar teen slaaptyd was daar nog geen teken van hom nie.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Die oggend se jagluiperd se aanstap en wegstap
Koekeloerende kameelperdjie
Duinepad duikertjie
Sekretarisvoël by ‘n waterpoel in die Nossob
Gehawende sekretarisvoël

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *