2018 Desember

Via Gaborone na Marakele!

Vrydagmiddag, 14 Desember, het ons pad gevat Skilpadnek grenspos toe. Ons bestemming vir die nag was die Kleynhans huis buite Gaborone, via Chris & Mariëtte se blyplek net buite die Mokolodi Natuurreservaat. Laasgenoemde was Juan se bestemming vir die volgende paar dae… Maar eers moes ons die man suksesvol deur die grens kry…

Juan was Escapé se DJ met behulp van Apple Music, vir solank as wat die sein dit toegelaat het… en so het ons via Harties op die N4 geklim. Rondom Swartruggens het die sittery lank begin raak en ons inisiatief vir musiek ook. Danksy Youtube kon Russel Peters ons vir die laaste ruk vermaak en het die tyd vinniger gevlieg.

Ons het kort na 17h by Skilpadnek ingeklok en met die hulp van ons drie se paspoorte en Juan se onverbonde geboortesertifikaat (unabridged birth certificate in minder goeie Afrikaans) gemaklik teruggewip en rondom ‘n paar sirkels oor die grens gery.

In Botswana het ons verseker verbouereerd voorgekom, want ons is vinnig te hulp gesnel deur ander wat meer gereeld deur die grenspos beweeg. Ons het papiertjies voltooi en saam met ons paspoorte onder die dik glas deurgegee. 

Ongelukkig was ek te eerlik vir my eie beswil en het NEE geantwoord toe die dametjie agter die dik glas venster vir my vra of ek Juan se ma is. Ek het dadelik bygevoeg ek is ‘n wettige voog, maar die moelikheid was reeds afgeskop.

Met my paspoort gestempel het ek weggehol om in die padbelasting tou te gaan staan en Christoff gelos om al die papierwerk uit te sorteer… Einde ten laaste het hulle besef ons smokkel Juan nie deur die grens nie en kon ons BURS betaal wat hulle toekom, sodat ons Lobatse se paaie kon trotseer tot op die A1 na Gaborone.

So begin Juan se eerste keer in die buiteland!… En ons eerste oornag-besoek in Botswana.

Tot by die grenspos kon ons gemaklik met die wêreld kommunikeer en almal op hoogte hou van waar ons was. Toe ons egter deur die grens is, het Google Maps ons op gestoorde genade op die kaart voort gevat tot by die afrit na die plot. Wel, tot net na die afrit, sodat ons genoodsaak was om die pad wat in wording was te gebruik om die paar honderd meter terug te raai na die afrit toe.

Met laaste lig het ons by Mariëtte gearriveer en kon ons nog die lieflike uitsig van hulle stoep af bewonder, voor ons gesellig om die tafel plaasgeneem het vir ‘n heerlike aandete, uit haar kombuis.

Ons was al halfpad by die deur uit, toe Chris tuiskom van die werk se afsluitingspartytjie af en die manne kon bietjie op die stoep gesels, terwyl ek en Mariëtte die papierwerk rondom Juan se terugrit deur die grens bespreek het.

Met ‘n stywe druk of twee het ons Juan gegroet en hom in sy ma se bekwame hande gelos vir ‘n paar dae se kuier en vermaak in Botswana… en ons het die duister aangedurf sonder ‘n gestoorde kaart en gehoop ons sal in een stuk by die gastehuis uitkom.

Soos die wolk oor ons begin breek moes ek ‘n oproep of twee na Linda maak, voordat ons deur die gastehuis se hek gery het. In die paar tree van die bakkie na die deur, het ons sopnat gereën… maar niemand het gekla nie. Reën was duidelik nodig in die omgewing.

Voor ons nog ons tas uit die bakkie kon kry, het die weerlig ons van ligte ontneem en het ‘n selfoon as flits diens gedoen om die nodige in die kamer te kry… ‘n Paar tellings later het alles elektries-gedrewe weer lewe begin kry, maar ons batterye was kapoet. Ons het net tande gekrap en in die bed geklim.

Saterdagoggend, 15 Desember, het ons styf-styf wakker geword en ‘n beker koffie in die bed genuttig, met die gastehuis se Toppers koekies. Môre oggend sou dit koffie en beskuit by Tlopi tentkamp wees…

Terwyl ek besig was om klaar te maak, het Christoff die goed begin terugvat bakkie toe en besef die vorige nag se bui reën het alles agter in die bak ook natgesous. Alles, behalwe ons tas, is kajuit toe geskuif en halfsewe het ons die kamerdeur agter ons toegetrek en koers gekies Gaborone toe… Vanoggend sou ons sommer deur die Kopfontein grenspos Botswana verlaat.

Danksy die gastehuis se WiFi kon ons darm weer ‘n padkaart stoor en op die blikbrein se geheue rustig die pad aandurf.

Thlokweng grenspos was bietjie deurmekaar. Ons het weer immigrasie vormpies ingevul en met gestempelde paspoorte vol hoop hek toe gery, net om teruggestuur te word vir die hekpas. Gewapen met ‘n gestempelde hekpas is ons sonder voorval uit Botswana… net om ‘n paar honderd meter in totale chaos in te ry…

Kopfontein grenspos was duidelik nie opgewasse teen die hoeveelheid mense wat die Saterdagoggend die land wou binne nie. Ek het solank in die tou geval, terwyl Christoff parkeerplek vir die bakkie gaan soek het. Gelukkig vir ons het Christoff ‘n kans gevat en by die deur gevra waar ons moet inval as ons Suid Afrikaanse burgers is wat wil terug in die land. Geen toustanery vir ons nie, so hy het my kom haal en ons het ingestap toonbank toe.

Nadat ons deur die hek is, was daar ‘n tou trokke, sover soos die oog kon sien, wat hulle beurt moes afwag om deur die grens te gaan… Gelukkig kon ons ‘n paar meter verder wegdraai op die Derdepoort pad… Grondpad, hier kom ons!

Dit was wel grondpad langs die teerpad wat in wording is, maar kort na Madikwe se hek was die grondpad al wat oorgebly het. Die grondpad het vir lank tussen die Botswana grensdraad en Madikwe natuurreservaat se grensdraad geloop.

Ons het die zebras en rooibokke in die ry bewonder, maar toe daar twee olifante ‘n paar meter anderkant die draad staan en wei, moes ons remme aanslaan en die reuse vir ‘n oomblik bewonder. Verder af was daar swartwitpense, kameelperde en selfs ‘n meneer van ‘n jagluiperd wat so tien tree van die grensdraad af onder ‘n boom gelê het. Vir hom het ons ook gestop.

Van die 160km van Kopfontein grenspos, was die eerste 80km grondpad tot kort by Dwaalboom en van daar was ons weer terug op die teer tot in Thabazimbi.

Na ‘n vroeë middagete by Cappuccinos in Thaba Mall, het ons gaan aankope doen vir die volgende dag en ‘n half in Marakele… ‘n vleisie vir elke aand se braai, met slaai goed en ‘n beskuitjie en melk vir die oggend koffie… 

15 minute na ons weg is by die Mall, het Marakele se hek ons ingewag. Ons het ingeteken, is deur die hek en net weer gemaklik op die grondpad, toe ons besef ons het nie hout vir vuurmaak nie… Drie-punt-draai in die grondpad gemaak, deur die hek uit en by die restaurant oorkant die pad gaan hout koop.

Voor jy kon sê Braai-hout-uit-Thabazimbi-se-wêreld, was ons weer terug op die grondpad, oppad Tlopi tentkamp toe. Ons was voor die normale 14h inteken tyd daar, maar dis ‘n redelike stootjie Tlopi toe van die hek af, so ons het rustig ons pad gevind en gestop vir kiekies, waar die bosse iets opgelewer het… wat hoofsaaklik bobbejane en apies was.

Die uitsig van die dek af

Die res van die rit Tlopi kamp toe het nie veel opgelewer nie… Die tent huisies by Tlopi het die lieflikste uitsig oor ‘n dammetjie met die berge in die agtergrond… en net daar besluit ons ons ry niks verder vir die res van die dag nie… Die diere moes maar na ons toe kom… ons sou geduldig daar op die dek vir hulle sit en wag… enige van die groot 5 sou doen, ons het nie ‘n voorkeur nie… en te oordeel aan die mis langs die pad, was daar redelik olifante.

Slaggereed op die dek vir enige besoekers

Ek was in die huisie besig om uit te pak, toe ons buurman se stem skielik opklink en Christoff se aandag op die stoep trek. “You are a day late. There was a leopard on the other side yesterday, spraying and prowling the area.” As daar nog ‘n titsel van twyfel was of ons sou gaan rondry, het dit net daar tot niet gegaan… Ons sal wag! Dalk kom die luiperd weer terug!

Daar was ‘n paar gehoorsame diere wat deur die loop van die middag hulle verskyning op die oorkantste oewer gemaak het… maar ‘n luiperd was nie een van hulle nie. Dit was egter steeds lekker om die bokkies, tarentale en apies dop te hou.

Die middag het lank en warm begin raak en ons het besluit om bietjie te gaan skuinslê langs die waaier, met die deure en vensters toegemaak, dat die apies nie by ons goed kon uitkom nie…

Ongelukkig vir ons weet die apies klaarblyklik hoe om die kombuisie se skuifdeur oop te skuif en toe ons weer sien was een oppad met ons beskuit onder sy arm, soos ‘n wafferse senter. Christoff het nog hier gejaag en daar gekeer, maar aan daai pakkie beskuit was geklou vir lewe en dood… Toe ons besgee om dit terug te kry, het die res van die trop hoopvol nadergekom om te deel… Behalwe die kleintjie wat aan sy ma se speen gehang het. Hy was tevrede.

Na ‘n heerlike koel stort het ons weer kans gesien vir die hitte en het ons op die dek gaan sit en kyk hoe die weer oor die koppe naderkom. Die oewer het nie vreeslik beweging opgelewer nie, maar die volgende oomblik land daar ‘n patrys op die dek en besluit om sommer op die braaier te kom sit en geselsies maak.

Na ‘n heerlike koel stort het ons weer kans gesien vir die hitte en het ons op die dek gaan sit en kyk hoe die weer oor die koppe naderkom. Die oewer het nie vreeslik beweging opgelewer nie, maar die volgende oomblik land daar ‘n patrys op die dek en besluit om sommer op die braaier te kom sit en geselsies maak.

Kort na die patrysie die wyk geneem het, het ons ‘n vuurtjie aangesteek en met ‘n glasie whiskey onsself tuisgemaak op die dek. Daar het nie veel rondom die oewer gebeur nie, maar daar was donker weer aan die opsteek oor die koppe.

Donker wolke kruip oor die koppe

Ons het skaars klaar geëet of Jacana (tent huis nr 3) se deure is gesluit en het ons gaan inkruip. Dit was egter nie ‘n rustige nagrus nie, want die nag was besaai met windvlae en rukwinde wat gereeld van die bure op gehad het om seker te maak iets word nie weggewaai nie.

Die wind het egter die wolke weggewaai en so tussen die gepluk aan die tent deur, kon ek in die wakker oomblikke die sterrehemel bewonder. Die voorste paneel van die tenthuis is ‘n lieflike venster en as gevolg van die hitte het ons die tentflappe oopgelos deur die nag. Ek het dus ‘n onbelemmerde uitsig gehad.

Sondagoggend, 16 Desember, was alles skoon en vars, met net die laaste spore van ‘n windjie wat geroer het. Ons het dus na ‘n beskuitlose koppie koffie, Escapé opgesaal en gaan loer wat die park verder oplewer.

Ons is met Lenong Drive uit na die Lenong uitkyk punt toe. Die rit het nie veel dierelewe opgelewer nie, maar die natuurskoon was asemrowend. Die grasvallei tussen die berge en dan die uitkyk as mens eers bo-op die berg is. Ongelooflik!

Parkeerplek by die geriewe
Doringbome langs die pad
Halfpad op na die uitkykpunt
On top of the world

Ons het ‘n wyle op die top spandeer en die ongereptheid van die berge en valleie rondom ons bewonder… Ongelukkig was daar ook indrukwekkende torings saam met ons op die top van die berg, wat die ontwikkelde samelewing se behoeftes moet bevredig.

Met die afrit teen die berg, moes ons twee keer pad maak vir aankomende voertuie wat ook die uitsig wou gaan bewonder. Ons het egter die teerpad verlaat en die Mbidi pad rondom die een kop gevat. Daar was ‘n zebra of drie aan die wei, met ‘n blou wildebees ‘n paar tree verder.

Ons het by ‘n valkie vasgesteek wat die wêreld vanuit ‘n dooie boom bespied het. Christoff was slaggereed om die oomblik vas te vang as daardie vlerke gesprei word, maar natuurlik het hy weggevlieg twee tellings na ons opgegee het op die idee dat hy wel gaan vlieg.

Ons is terug Jacana toe en het gaan omkeer in die tent, met ‘n waaier wat hard probeer het om die ergste hitte weg te dryf. Dit was egter nie suksesvol nie en ons het later weer die lugversorging van die bakkie opgesoek en weer die Mbidi draai gaan ry.

Kort voor die wegdraai was daar ‘n skilpadjie aan die 4×4 om bo-op ‘n walletjie te kom… Ons het net begin opgee dat die olifant mis al is wat ons van die groot 5 te siene sou kry, toe ek die twee rotse teen die oorkantse hang sien wei.

Terug by die kamp het ons ‘n vuurtjie aangesteek vir atmosfeer, maar net op die wye arm stoele geparkeer en die rustigheid om ons geniet… diep asemgehaal en diep gesprekke gevoer…

Na nog ‘n nag se rukkende winde, was Christoff kort voor vyf langs my bed met ‘n beker koffie, terwyl die dag buite breek. Ons moes vroeg terug huistoe. Die werk het gewag…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *