‘n Leeu van ‘n Vakansie!
Dinsdag – 2018/10/23
Na ‘n koue nat nag, het ons vanoggend die permit gaan haal om die 4×4 roete by Leeuwdril te ry. Christoff het dit gister bespreek en betaal. So was ons oppad om nog ‘n stukkie van die Kgalagadi te ry, waar ons nog nie was nie.
Die veld was weereens stil, al was dit nie winderig nie. Die koue en bewolkte weer het beslis ‘n impak gehad. Die enigste roofdiere in sig was ‘n roofarend en ‘n paar Pietertjies wat op takke, of op die grond gesit het.
Kort anderkant die Leeuwdril watergat, draai die 4×4 roete weg. Dit was duidelik dat daar onlangs redelik klei getrap was in die eerste paar meter, waar dit modderig moes gewees het in die rivier loop… Christoff het Escapé in 4×4 gesit en ons avontuur het begin. Dit was heerlik om weer ‘n tweespoor sandpaadjie in die Kgalagadi te ry.
Die natuurtonele was baie soortgelyk aan die duine paaie en die Bitterpan pad, wat ons die vorige rondte gery het. Ons het die grootste deel van die kort roete katspore in die sand gekry. Die groot kat, met ‘n kleintjie, was egter oppad in die teenoorgestelde rigting as ons, so ons moes hulle iewers in die duine gemis het toe ons ingery het. Die spore was ook na die reën getrap, want dit was plek-plek baie duidelik in die sand sigbaar.
Buiten vir ‘n gompou of drie, ‘n paar volstruise en ‘n sekretarisvoël teen ‘n duin uit, was daar nie veel ander lewe sigbaar nie. Maar by die Gemsbok watergat, wat nie op die park se kaart aangedui is nie, was daar baie spore, van verskillende diere. Die omgewing word beslis gereeld deur die diere nasie besoek.
Die rit was heeltemal te vinnig verby en voor ons teruggery het in die Auob se loop, het ons nog ‘n draai op die uitkyk bokant die Houmoed watergat gery. Daar was ‘n trop springbokke aan die wei en ‘n handvol jongetjies het uit die gras opgespring en voor ons in die pad begin wegdraf. Ongelukkig vir hulle was ons oppad in dieselfde rigting en net as hulle dink hulle kan maar gaan staan, het die groot wit bakkie weer nadergekruip.
Die Auob het vandag nie eers ‘n slapende leeu opgelewer nie. Ons moes maar tevrede wees met die katspore in die sand, want dit was die naaste wat ons aan een van die groot katte sou kom vir die dag.
Ons is terug kamp toe om maar te begin opruim. Met die afslaan van die sy paneel van die tent, was dit duidelik dat dit meer gereën het die vorige nag, as wat ons gedink het… en die miniatuur sand duintjie wat ek uit die tent uit moes vee, was ‘n duidelike teken van die winderigheid van die laaste paar dae.
Met alles opgeslaan, was ons Louw-bure net betyds terug dat ons darem kon bladskud. Ons het elke dag oor en weer ons besienswaardighede gedeel en soms ‘n foto of twee bekyk.
Ons was nog nie gereed om die Kgalagadi agter te los nie, so ons het vinnig opgery om te kyk of daar iets op die bord gemerk is, sodat ons ons daaglikse dosis van leeus kon deursien tot die laaste dag. Daar was geen leeus gemerk nie, maar ‘n luiperd was by Leeuwdril raakgesien… Ek en Christoff het vir mekaar gekyk… Was dit die spore wat ons op die roete raakgesien het?
Ons het baie hoopvol pad gevat terug in die Nossob rivierloop op. Die reënweer het egter die diere ‘n ruskans gegee van die ondiere wat ‘n aptyt vir hulle het en selfs by Leeuwdril was daar geen teken van ‘n roofdier nie. Ons het ‘n rukkie daar vertoef en toe verder gery Kij Kij toe… dalk, net dalk… Maar vandag was dit ons nie beskore nie.
Ons het lui-lui teruggery kamp toe om Escapé se bande bietjie te pomp voor ons pad vat. Met die inhol in die badkamer in, loop ek tannie Alta weer raak en daar hak ons toe vas… Ons is eers oorgenooi vir ‘n koppie koffie en die vinnige-groet-kuiertjie raak toe ‘n middag kuier. Wat ‘n lekkerte om al die stories te hoor van die skaapboere se trekkery tussen winter en somer grond en die ongemanierde tye wanneer die voor-ooi besluit om te blêr en die stappery moet vort… Of die valk wat met ‘n string kuikens beloon is, na ‘n kind se poging om die kuikens wat opgepas moes word, bymekaar te hou.
Ons het baie swaar opgestaan toe die horlosie se vingers begin wys dis tyd om uit te skuif Kgalagadi Lodge toe, veral as ons nog daar ‘n laaste vleisie wou braai.
Terug op die bult by Kgalagadi Lodge het ons weer die wind trotseer om ‘n vleisie op die kole te kry en skielik gewens dit was weer die aand voor ons die park sou binnery… maar ons het nog nie ‘n manier gekry om tyd terug te draai nie… en so sak die son oor ons wegbreek na die Kgalagadi.
‘n Paar fotos van ons laaste dag in die park:
Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.