2016 Kgalagadi – Dag 11

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Dinsdag – 2016/09/27

Dinsdag, 27 September, was dit vir oulaas alles oppak en inpak en ons het kort na 7:00 gaan uitklok by die kantoor…

Toe ons egter op die teerpad draai, staan daar ‘n man by die Upington bord en met ‘n duim in die lug. Christoff het gestop en sy venster afgedraai. Die man het omgestap en begin met “My lanie, ek soek ‘n lift Upington toe, asseblief… My kind is siek.

En so skrop ons ‘n plekkie vir Shaun op die agter sitplek oop en verluister ons ons aan hom, tot ons hom by Askham afgelaai het…En was dit nou ‘n vermaaklike 75km met die man se onophoudelike geselsies.

Ons het gehoor van die gids wat selfmoord gepleeg het in die park en toe by sy opvolger kom spook het – “maar sien, mevrou, die man kan mos nie dit doen nie. Hy’t mos self besluit om te gaan, dis nie asof die Jirre hom ontydig kom haal het nie. Nou kom pla hy daai ander man, dat hy toe maar gesleep het.” Maar hy wat Shaun is sal nooit selfmoord pleeg nie, want dan bly daai een wat jou hel gegee het agter, sonder probleme en jy gaan anderplek toe…

En dan is dit weer van ongelukke… “Maar karre is ‘n ander ding, hulle het mos nie ‘n Pa nie. Hulle kan vir jou doodmaak”… En so het die storietjies en sêgoed aangegaan. ‘n Regte vleis-koerant

Nadat ons Shaun by Askham se vulstasie afgelaai het, het ek gaan koffie soek in die winkeltjie oorkant die pad… Die krag was af, maar hulle het steeds vir ons en ‘n paar ander besoekers, koffie op die gasstoof aanmekaar geslaan… Met die dat dit langer sou neem, kon ek toe lekker rondsnuffel in die winkeltjie, wat deel uitmaak van die koffiewinkel… Wat ‘n juweeltjie!

My arms was vol geskenkies vir almal by die huis, toe die verkoopsdame my meedeel die kaartmasjien werk nie as die krag af is nie… Ons skraap toe al ons laaste munte bymekaar om vir ons 2 koppies wegneem-koffie te betaal EN darm die Askham meerkat plakker vir Escapé se ruit.

Die dametjie het gevra of ons Zapper het, want ons kan met Zapper betaal… Maar selfs ons, wat meer tegnologies-voor is as ‘n klomp ander, het nog nooit met dit te doen gehad nie… Maar so met die wegry uit Askham uit was die sein nog sterk genoeg en ek laai dit toe sommer af op my foon… So nou is ek reg vir Askham se winkeltjie, wanneer ons weer daar verbygaan. Al laat Eskom ons in die steek!

Daai plakker was verseker ons gelukbringer, want op die pad na Van Zylsrus, gewaar Christoff ‘n klein meerkat familie langs die pad. Dit was ons eerste en enigste meerkatte vir hierdie rondte.

Op Van Zylsrus het ons by die hotel gaan aanklop vir ‘n shandy, soos laasjaar saam met Oupa Ampie… En moes toe eers vir hom ‘n fototjie stuur, ter herinnering – Christoff se eerste selfie…

Cheers! Oupa Ampie!

Ons was egter honger en het ingeduik in ‘n heerlike maalvleis vetkoek…

Na ete het ek vinnig die hotel gaan verken en was aangenaam verras met die stukkie oase, op die woestyn-duin-dorpie. Dit sal beslis ‘n oornag-stop word vir ‘n volgende rondte.

Van die muur dekor by die hotelletjie

Die pad Lichtenburg toe het gewink, so ons het nie te lank vasgehak na ons magies gevul was nie… en met die laaste stukkie grondpad afgehandel, het ons die eentonigheid van die teerpad aangedurf. So bevind ons onsself toe terug in die wêreld van selfoon-opvangs en epos en voel heel ontnugter deur die skok om terug te wees in die beskawing. Ek moes die bakkie se “WiFi-hotspot” benut, want MTN het ontydig en sonder waarskuwing besluit my rekening moes gesluit word. So gelukkig vir my was Christoff paraat met ‘n 3G-warmplekkie in die bakkie.

Op Lichtenburg aangekom het ons net ons sleutel by die gastehuis gaan kry en is toe reguit na die Esterhuizens vir ‘n heerlike kuiertjie. Ons was net betyds om Riaan se verjaardag saam met hulle te vier… ‘n Heerlike afsluiting vir ons rustige, maar opwindende wegloop.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *