2024 Kgalagadi – Dag 1

Die pad na Mecca

Saterdag – 13 Januarie 2024

Saterdagoggend was die trommels, los goed en tasse klaar in Winston gelaai teen die tyd wat ek klaar gestort en aangetrek was… EN Christoff het vir ons koffie in ons nuwe Stanleys gemaak! Ons moes egter die leë jerrie kan en trommel wat op die dakrak was eers weer afhaal, sodat die afdak se lintel dit nie namens ons aflaai met die uitry nie. Winston was hoër as wat ons gedink het… Maar ruimer ook – of ons weet nou al hoe om optimaal te pak. Alles het maklik-maklik in Winston gepas! Ons kon nog by al die vensters uitkyk – en gemaklik sit!

Mens sien skaars die bagasie agterin

Soos ons gewoonte geraak het, het ek die eerste deel van die pad aangedurf. Dit was weer dieselfde pad uit Pretoria uit, soos toe ons Noordkaap toe was, behalwe dat ons hierdie keer by Kuruman sou wegdraai na Hotazel.

Ons het in November 2023 vir Winston spacers ingesit, en hierdie rondte kon ons duidelik ‘n verskil voel aan die wobble. Dit was aansienlik beter! Ons was ook voorbereid dat ons nie Shell of BP garages op die pad sou kry nie – en skielik was hulle oral. Buite Venstersdorp, in Delareyville en Vryburg! Ons het egter net in Delareyville opgetop.

Ons het sommer so in die ry van die padkos genuttig, wat gemaak het dat ons kort by 14h by ons oornagplek arriveer het. Mecca Gastehuis, buite Blackrock.

Ons is baie vriendelik ontvang deur Eleanor Lamprecht en haar man. Ons het onsself op die lieflike stoep tuisgemaak, maar kort voor lank Winston se lugversorging begin mis. Dit was lekker op die stoep, maar dit was ook lekker warm!

Mecca gastehuis se stoep

Na ‘n koue lafenissie het ons maar in die kamer ingegaan en onder die lugversorger en waaier ‘n laterige middagslapie gaan vat. Toe ons later weer die stoep aangedurf het, was dit heelwat koeler en daar het ‘n paar druppeltjies geval. Ons het so kuier-kuier aan die oorblywende padkos gepeusel en ‘n glasie geklink op ons vooruitsigte vir die volgende paar dae. Ons kon nie wag om te sien wat die Kgalagadi vir ons sou oplewer nie.

Vir meer gebeure, click hier vir die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *