2024 Kgalagadi – Dag 2

Twee Rivieren – hier’s ons weer!

Sondag – 14 Januarie 2024

Christoff het in die nag begin hoes agv die lugversorger, so ons het dit afgesit… Dit was egter nie lank voor die nag se hitte ons bekruip het nie…en muskiete! Dit het ons oorval! Die gevolg was dat ons maar sleg geslaap het… En soos met meeste nagte se wakker lê wonder mens mos… en toe wonder ek of dit ‘n goeie idee was om in Januarie die Noordkaap aan te durf. Maar hier was ons nou!

Kort na 7h was ons gereed om Winston weer op te saal. Die plan was om by Vanzylsrus Hotel te gaan ontbyt… of in Christoff se geval ‘n lekker maalvleis vetkoek te gaan eet… Ek het weer die eerste skof gekry.

Oppad Vanzylsrus toe, het ons by Klein Jan se Restaurant se bordjie (in Tswalu Kalahari Reserve) verbygery. Ons gasvrou by Mecca het ons vertel van die bekende restaurant, wat mense van oral oor na toe kom. Volgende keer, het ons onsself belowe, werk ons dit in die skedule in! Maar vir nou was dit vetkoeke wat ons mond laat water het.

Sondagoggend by die Vanzylsrus Hotel hou egter nie vetkoeke in nie. Dis net Saterdae op die spyskaart. Maar die vetkoeke is verseker bekend, want die tafel langsaan het ook gevra of daar dalk nog vetkoeke oor was.

Na ontbyt het Christoff brandstof gaan ingooi, terwyl ek van die ander dekor op die dorp ontdek het.

 

Vanzylsrus na Askham was ‘n intense rit. Die 146km grondpad was sinkplaat van begin tot einde. Ons het Winston se bande nog meer afgeblaas, wat bietjie gehelp het, maar as ons nie so op ons tande gebyt het nie, kon ons dalk stopsels losgeskud het.

15 minute op die grondpad en die bande moet NOG verder afgeblaas word

In Askham het ons net ‘n vinnige pitstop gemaak… vir Winston en die jerrie kan… ‘n Uur later het die bekende geboue vir ons gewink… Winston se eerste keer in die Kgalagadi! En ons kon nie wag om deur daardie hek te ry nie!

Winston, ontmoet die Kgalagadi! Kgalagadi, dit is Winston!

Tydens die inklok proses het ons sommer ons Wild Card hernu. Ons het goeie voornemens uitgebroei dat ons meer gereeld in die parke gaan spandeer in die komende jaar… Tyd sal leer…

Dit was amper ‘n uur voordat ons die huisie se sleutels kon kry! By Twee Rivieren is hulle baie streng dat mens nie voor 14h kan sleutels kry nie. Ons gaan drentel toe ‘n bietjie in die winkeltjie. Dit was 37° buite, maar ons was gereed om die hitte aan te durf vir ons eerste uitkyk oor die Kgalagadi. Gewapen met koue Cokes uit die winkeltjie rits ons toe op na Twee Rivieren se watergat. Die paadjie op na die uitkyk was baie sanderig en 13h in die middag is daardie rooi sand warm, as gemaklike plakkies nie warm sand so gemaklik weghou nie…

Die uitsig wat ons ingewag het, was die bekende rooi en wit duine, gespikkel met kameeldoringbome en bossies hier en daar. Die ligte groen skynsel wat plek-plek op die duine uitgesteek het was vir ons egter anders. Eerste tekens van ‘n ander seisoen in die Kgalagadi.

Ons was op tyd om ons sleutel te kry en was baie dankbaar om Winston se lugversorger te verruil vir ‘n afgekoelde huisie. Die halfuur by die uitkyk het ons weer laat besef mens hang nie buite rond oor die dag se hitte nie. Winston se afpak moes ook maar wag tot ons klaar gerus het. Ons het slaap gehad om in te haal!

Tussen die stewige enkelbed-matrasse en die lugversorger het ons ‘n goeie uur geslaap, maar toe ons daar opstaan, was ons gereed om dieper in die park te gaan verken. Ons het vinnig afgepak en die kameras opgestel met die lang lense.

Kort na 16h kry ons permit sy eerste inskrywing en rits ons uit by Twee Rivieren se hek, oppad Melkvlei toe… Ons eerste wildrit vir 2024! En ons eerste wildrit in die Kgalagadi sedert 2019…

Die groen skynsel van die uitkyk af was niks in vergelyking met wat ons in die Nossob gesien het nie. Die droë rivierloop van die Nossob was amper ‘n grasperk! Teen die rante van die duine het die bekende wit of rooi sand uitgesteek, maar af in die loop was dit welig groen… Bokke het alleen-alleen rondgestaan. Gompoue het amper onder elke koelteboom uitgekruip. En die skilpaaie! Van kleintjies wat in ‘n krieketbal kan wegkruip, tot waatlemoen-grootte doppe wat deur koddige dun beentjies rondgedra word… Almal aan die beweeg – of oor die pad… of op die groen weiding in die Nossob. Daar was ‘n dop (of skilpad) wat in een van die vele opgedamde waterpoele in die pad was. Slegs die bokant van die dop het uitgesteek, so diep was die waterpoel…

Nou moet ek bieg. My fotografie vaardighede het verseker verroes sedert ons laas in die Kgalagadi was. Ek het ‘n paar skilpaaie afgeneem – asook die dop in die water – maar ek het nooit die kamera se konfigurasie bekyk of die fotos wat ek klaar geneem het nie. So daar was ‘n paar pogings wat nie hier gedeel sal word nie. Maar daai boom se blaps kon ek op ‘n manier “red”…

‘n “Artistiewe” weergawe van dié boom

Naby Rooiputs gewaar ons ‘n voertuig teen die rant van die pad… En aan die oorkantste rant, ‘n leeuwyfie. Vas aan die slaap… met twee jongeres op die gras langs die pad.

Lui-lekker op ‘n Sondagmiddag

Ons het so wyle by hulle vertoef en ‘n paar fotos geneem – net om weer in die gewoonte te kom om fotos te neem.

By Kij Kij se watergat was daar geen lewe nie, maar die natuurlike dammetjie net bokant die watergat, het ‘n ouerige arend opgelewer… en nog geleentheid vir ‘n paar fotos.

Hy (of sy) het seker gemaak ons het al die beste kante afgeneem

Buiten vir die gompoue wat so vol-op was, het ons gereeld een of twee sekretarisvoëls gesien rondloop. By die dammetjie by die arend was daar 2 pare gewees… Maar toe kry ons een wat besig was om kos te soek. Elke kort-kort het dit komieklike trap-aksies uitgevoer en dan opgepik, wat ookal daai tone kon vaspen.

Soos ons verder gery het Melkvlei toe – en terug – het ons besef ons mag dalk min wild sien hierdie keer. Daar was geen diere wat by die watergate self gedrink het nie. Van die watergate het natuurlik poele gevorm wat heelwat groter as die watergate was en daar het op ander plekke ook water gestaan. Die staan-water het gesorg vir goggatjies en wit skoenlappers wat oral rondgevlieg het. Dit was ‘n fees vir die voëltjies… en valkies, wat nie net die goggatjies en skoenlappers gevang het nie.

Ons het paaie met nog ‘n skilpad gekruis. Die keer was dit ‘n groter een, wat verseker die gras in die Nossob geniet het.

Nom-nom-nom

Soos ons teruggery het, het ons weer begin rondkyk vir die drie leeus. Dit was al na 18h, maar dit was nog warm buite… Ongelukkig was die leeus nie meer daar nie, maar daar was iets anders wat ons ingewag het… ‘n Jagluiperd het langs die pad ‘n koelte kol kom opsoek… en daar was ‘n hele paar gewillige fotograwe wat sy bewegings vasgevang het.

Die meneer het duidelik nog herstel van ‘n groot maaltyd en het gesukkel om sy lê te kry… Maar ook nie te vêr geloop tussen waar hy was en die volgende lêplek wat hy gaan uittoets het nie.

Nadat hy homself weer neergevly het, het ons aanstaltes begin maak terug kamp toe. In Januarie is die hekke tot halfagt oop in die aand, maar daar was ‘n vuurtjie wat gemaak moes word. Dit was buite nog diep in die dertigs, maar braai sal daar gebraai word. Daar was ‘n lekker stukkie rooi vleis met ons name op.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Die twee jongeres – amper so lui soos die wyfie in die pad
Jonk, maar steeds behoorlik leeu se kind
Op soek na ‘n ander lêplek
Klein bossies maak al lank-genoeg-skaduwees

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *