2017 Paternoster

Daar was dit lekker!

Paternoster huisies met vol reënboog

Elke keer as ek en Christoff begin gesels van al die plekkies waarheen ons nog wil gaan, dan het Moekie (my ma) genoem dat sy nog graag eendag in een van die wit huisies van Paternoster wou gaan bly.

So gebeur dit dat ek en Christoff begin beplan aan ‘n familie-kuier in die Kaap, rondom oom Jan se 80ste verjaardag. Christoff se ouers (of beter bekend as Pa Ampie en La) het ook beplan om af te gaan vir die geleentheid en sommer ‘n ruk by oempie Frank te gaan kuier.

So begin ons toe broei aan ‘n idee om hierdie jaar nie ons wegbreek ‘n bosbesoek te maak nie, maar dit rondom die familie-kuier te bou… Die plan kry vorm rondom Pa Ampie, La, Moekie, oom Frank (ons Gouws-kant-Desember-vakansie-afpakplek-gasheer) en oom Philip en tannie Elza (ons Mulder-kant-Desember-vakansie-afpakplek-gasheer-en-vrou) en ‘n paar dae in Paternoster

Zula Beach House se stoep

Dit was ‘n redelike organisasie en ‘n soektog na die perfekte “huisie” waar ons, plus die 6 ouer mense, gemaklik kon bly… Maar Zula Beach House het op-en-af gespring om gekies te word, beskikbare datums is geidentifiseer en ons het begin reëlings tref en arms draai om die nuut-gevormde familie ‘n geleentheid te gee om mekaar beter te leer ken… So het die Party Noster whatsapp groepie lewe gekry en het ek die toe-nog-minder-bekendes gereeld met lusmakertjies bombardeer rondom die Party Bus wat ons bespreek het, Oep ve Koep se vars brood, die laaste bemande ligtoring in die Weskus, die komende kuiers op die stoep en dies meer.

Oep ve Koep

Vlugte is bespreek vir die Gautengers wat moes afgaan vir daardie paar dae, asook die Steenkamps wat van Jeffreys hulle strand moes verruil vir die Weskus.

En toe ons ons oë uitvee, was dit tyd om op die vliegtuig te klim.

Hierdie is natuurlik weer geskryf deur Marietha, met die hulp van Moekie se notas… En meeste fotos ook…

Hier is elke dag se gebeure:

Dag 1 – 2017/08/12 – Kaapstad hier kom ons!

Dag 2 – 2017/08/13 – Wellington hou partytjie!

Dag 3 – 2017/08/14 – Paternoster hier kom ons!

Dag 4 – 2017/08/15 – Kaggel en kaarte!

Dag 5 – 2017/08/16 – Party op Paternoster!

Dag 6 – 2017/08/17 – Dit was kort, maar lekker!

Een aand voor ons padgevat het Paternoster toe, het ons by oom Frank se huis JOU SHOW van Emo Adams gekyk, waar ons vir die eerste keer blootgestel was aan Waar is dit lekker?… Hier is dit lekker!… Min het ons geweet hoe deel dit sou raak van die kuier! En toe verander is na “Daar was dit lekker!” En dit was nie net lekker nie! Dit was heerlik! Ons kon vir ‘n paar dae onsself oorgee aan stories en herinninge en meeleef soos van ons geliefste ouer generasie mekaar ontdek, vermaak en bande gevorm het, terwyl ons die Weskus diep in ons longe kon intrek.

*Fotos is van Zula Beach House- en die Paternostser website af gekry.