2015 Kgalagadi – Dag 2

Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!

Vrydag – 2015/09/25

Ons was soos normaal redelik vroeg uit die vere. Daar het ‘n langerige pad voorgelê EN ons moes so ry dat daar nog genoeg tyd was om te gaan tent opslaan in Twee Rivieren…  Tannie Mara het ‘n lekker ontbyt reggesit, terwyl ons die slaap afgewas en die bagasie weer teruggelaai het in die bakkie.

Nadat ons gegroet het, was daar eers gou by die Spar gestop vir ys en toe sommer ook voorrade aangevul by die drankwinkel – wat nog nie amptelik oop was nie, maar toevallig besig was om nuwe voorraad in te kry en ewe vriendelik ons steeds gehelp het. Hoe gelukkig kan mens wees!

So rits ons verby Hotazel, oppad Van Zylsrus toe, en met die eerste stuk grondpad wat ons tref, word die bande afgeblaas… Wat natuurlik die amptelike begin van die bos-deel van die wegloop aandui…

Die Christoff-pose, terwyl daar bande afgeblaas word

Terwyl die manne besig was met die afblasery, het ons net weer besef hoe anders is die Noordkapenaars as die mense in Gauteng…

Noordkapenaars op die grondpad oppad na Van Zylsrus.

Dirk en Morné het langs ons gestop om te hoor of alles in orde was… Hulle het raad gegee oor goeie banddruk vir die grondpaaie van die omgewing en selfs met Oupa Ampie gesels oor die mense van die kontrei en wie moontlik Oupa Ampie-hulle se groot-word-plaas nou kan bewoon.

Die “kortpad” Kgalagadi toe vat mens deur Van Zylsrus, en aangesien Oupa Ampie in daardie wêreld grootgeword het, was dit die moeite werd om te gaan kyk hoe die dorpie verander het…

Welkom in Van Zylsrus

Volgens Oupa Ampie lyk dit heeltemal anders en die geen-gras-net-sand rugbyveld in die rivierloop, waar hulle as jongmense gespeel het, bestaan glad nie meer nie.

Lekker bier shandy in Van Zylsrus hotel se restaurant

Ons het ‘n blaaskansie gevat – en ons blase ‘n leegmaak-kansie gegee  – en by die dorpie se hotel gaan inloer. Dit vliegtuig was nog nie helemal oor nie, maar ons kon darem die ergste dors les met ‘n self-gemengde-bier-shandy. Ons wou egter nie eet nie, want Tannie Mara se oorskiet het in die bakkie gewag.

Ons het nou wel die instruksie van die dorp se verwelkomingsbord gevolg, maar ons het maar die straatbordjies geignoreer en verder in die dorpie gaan ry op soek na die begrafplaas.

Van Zylsrus straat bordjies… Daarnatoe, Maan toe en Moertoe.

Een van Oupa Ampie se beste jongtyd-vriende is op die dorpie begrawe, na sy lewe op ‘n baie jong ouderdom kortgeknip was met ‘n swembad-frats-ongeluk. Na ‘n hartseer oomblik by die graf, het ons weer in die pad geval Askham toe, terwyl Oupa Ampie ons vir ‘n wyle vermaak het met stories uit vervloë se dae.

Kort voor lank was dit tyd om die heerlike oorskiet van Tannie Mara se kospotte te betrek en moes ons maar mooi soek vir ‘n koeltetjie waarin ons die magies kon laaf… sommer gemaklik van Escapé se bak-flap af.

Ons skuifbare one-stop op die grondpad.

Ons het by ‘n paar lieflike familie-voël-neste verbygery en ek het Christoff laat stop dat ek ‘n foto kon neem… Minwetende dat die mooiste familie-voël-nes-boom in die Kgalagadi gewag het.

Net voor ons die Upington-Kgalagadi teerpad tref, moes ons by Askham stop vir brandstof. Op hierdie stadium was die temperature rondom 40 grade Celcius.

Daar het ons vuurmaakhout (en lekker lawende roomys) gekry, aangesien dit die laaste dorpie was voor ons by Twee Rivieren se hekke sou inry – so 75km weg… Die laaste stuk pad was teer, maar die omgewing het interessante rooi sandduine en kort windpompies opgelewer. Ons is verby sonder om dit vas te vang, want die klok het gepraat en die Kgalagadi het al hoe duideliker begin fluister… (Sien Dag 6 vir fotos)… En skielik was ons daar!

Ons is hier!… Die groot oomblik toe ons arriveer…

Die aankoms by Twee Rivieren was vir ons ‘n groot oomblik… Na al die uitsien en beplan en wag, was ons uiteindelik hier! Selfs met die hittegloed wat ons getref het, toe ons ons voete uit die bakkie gesit het, moes ons eers ‘n paar fotos neem om die oomblik te verewig…

Kgalagadi plakker pryk op Escapé

Na al die papierwerk afgehandel is, het ons vir ‘n staanplek gaan soek vir die volgende 2 nagte… en so vinnige draai deur die kamp gemaak om te kyk wat is waar… te kyk hoe ver is ons van die ander kampe af… EN ons eerste plakker vir Escapé te kry!

Nadat ons ‘n gaatjie gekry het aan die stiller kant van die kampterrein, is besluit om net eers die warmgebakte gazebo en stoele op te slaan, die koelboks nader te trek en bietjie in die koelte te wag vir die ergste namiddag hitte om oor te gaan… Maar met die Gouws-manne wat nie te lank kan stilsit nie, was die botteltjies skaars leeg, toe word daar werk gemaak van die aflaai en opslaan… Kort voor lank het ons huis-vir-die-volgende-2-nagte gestaan en kon ons rustig ‘n Kalahari TV aanwakker en die kanale begin dophou… Die vlamme-kyk is opgegradeer na die reuk van gemarineerde T-been, wat heerlik op die kole gesus het.

2-nagte nedersetting in Twee Rivieren

Die vleis was skaars van die kole af, of ons borde was leeg en was dit ‘n vinnige tande skrop en lyf afspoel, voor ons gaan inkruip het. Dit was ‘n lang opwindende dag en met die heerlike vooruitsig van ons eerste, amptelike dag in die asemrowende Kgalagadi het ons rustig aan die slaap geraak… Tot ‘n ongenooide nagbesoeker ons slaap kom versteur het…

In ons klein-hondjie-sindroom-staat het ons die oorskiet bene net in ‘n sakkie op die kombuistafeltjie toegemaak. Die reuk wat ons bekkies laat water het, het dieselfde gedoen met ‘n wilde kat, wat in die kamp kom aas het… Ek het wakker geword van ‘n gesnuffel en knaag by die rooster, wat op die semettafeltjie gelê het. Maar toe kat se kind deur die kragdraad se gaping in die tent probeer inkom, agter die sappige T-bene aan, was Oupa Ampie ook op. Met die hoeveelheid beweging in die tent, het die kat maar redelik onsuksesvol die hasepad (of is dit die kattepad?) gevat.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *