2015 Kgalagadi – Dag 6

Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!

Dinsdag – 2015/09/29

Ons het besonder rustig geslaap, as mens die vorige aand se ervaring in ag neem, maar kort by 5h was ons uit vir koffie in die skuiling. Die oggend het ons weer beloon met ‘n mooi sonsopkoms, terwyl ons koffie en beskuit genuttig het… maar vanoggend was daar geen diere nie.

Terug by die tent was dit weer die groot oppak… en hierdie keer was dit die laaste opslaan en wegpak. Vandag was ons laaste dag in die Kgalagadi en ons het ‘n lang pad gehad Witsand toe… Die bande was bietjie opgepomp, maar ons gemoedere was redelik swaar, omdat die einde van die Kgalagadi-tyd op hande was.

Gompou in die rivierloop

Kort na ons uit Mata Mata is, het ons die kans gehad om ‘n gompou van nader te besigtig… Dis ‘n indrukwekkende voël.

By Craig Lockhart watergat het ons vir die eerste keer iets te siene gekry.

Daar was ‘n leeuwyfie wat by die watergat gelê het en dit duidelik vir haarself toegeëin het.

Leeuwyfie by Craig Lockhart

So honderd meter weg het ‘n jakkals gestaan en tjank. Nie seker of hy die leeu probeer verjaag het, of net sy misnoë uitbasuin het omdat hy nie by die watergat kon uitkom nie… Waarskynlik laasgenoemde.

Klaende jakkals naby Craig Lockhart watergat

Verder af langs die roete kom ons op ‘n arend af wat waarskynlik besig was om iets dood te probeer kry… Maar hy het wel op sy stertvere beland in die proses.

Arend se “stamp” manewales

By Twee Rivieren is die bakkie volgemaak en het ons vir oulaas roomys by die kamp se winkeltjie gekry… En toe is dit terug op die teerpad.

Ons het kort buite die park gestop, sodat Christoff sy rooi duin kon afneem en ek ‘n entjie verder my kort windpompie kon vasvang.

Rooi sand duine naby Twee Rivieren
Kort windpompie langs die pad naby Twee Rivieren

Die teerpad tot in Upington was bietjie van ‘n verveligheid na die grondpaaie in die Kgalagadi en ek moes maar vir ‘n rukkie die wiel vat, terwyl Christoff ‘n uiltjie kon knip.

In Upington is daar weer brandstof ingegooi, koue koeldrank gekry en toe pad gevat al langs die Oranje rivier af Groblershoop toe…

Dit was ongelooflik om die kronkelende groen streep so in die droë wêreld te sien.

Groen areas al langs die Oranje rivier

By Groblershoop het ons weggedraai op die grondpad Witsand toe… Ek het natuurlik eers die kans gebruik om vooruit te loop om Escapé bietjie mooi af te neem, aangesien dit nooit in die Kgalagadi kon gebeur nie…

Escapé op galop in die grondpad

By Witsand aangekom het ons net sleutels gekry en toe koers gevat Brulsand toe.

Eers het ons die duin opgedraf in die hoop om dit te laat brul, maar was nie suksesvol nie. Wel, ons was suksesvol om bo uit te kom en die uitsig te bewonder, maar was nie beloon met enige brullery nie.

Oupa Ampie het ons op al die omliggende walle laat ronddraf en so ontdek ons toe ‘n paar plekke wat al te lekker onder mens se voete brul en bewe. Dit was omtrent ‘n vreemde ervaring.

By die kamers het ons weer ‘n ou vuurtjie aangesteek en Oupa Ampie het die rooi pot nadergetrek om vir ons pap te maak. Terwyl ons vir die braaivleis gewag het, het ‘n muskeljaatkat in die boom by ons opgedraf en saam gewag vir die kos om gaar te word – in die hoop dat daar ‘n afvalstukkie na sy kant toe sou val.

Ons is die aand weer vroeg-vroeg bed toe, na die lang dag op die pad – EN die sanddrawwery… Dit was omtrent ‘n snoesige slaap in die kamer se koeligheid, saam met die feit dat ons die stretchers en slaapsakke kon verruil vir enkelbeddens en beddegoed!

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *