2015 Kgalagadi – Dag 3

Die eerste onvergeetlike Kgalagadi besoek!

Saterdag – 2015/09/26

Die amptelike EERSTE dag in die Kgalagadi was begin met ‘n koppie koffie en beskuit, terwyl ons ons verlustig het in hoe die son stil en statig oor ‘n rustige kamp opkom.

Son kruip oor die horison in Twee Rivieren.

Vars gestort, net met ons piekniekmandjie gepak vir ontbyt by ‘n piekniekplek, het ons die pad met afwagting gevat – Nossob se kant toe.

Samevloeiing se gemsbokke

Samevloeiing was die eerste watergat op die roete en ons was beloon met ‘n spulletjie gemsbokke wat daar rondgestaan het… en ‘n hartbees op die buite rand.

Daar was ook heelwat springbokkies langs die pad en sommiges het sommer rond gelê, al was dit nog vroegoggend. Van die redes was buike wat bol gestaan het met lammetjies wat sterk oppad was.

Wandelende wildebeeste op die pad na Leeuwdril.

Ons het ook heelwat grond-eekhorings (waaier-stert meerkatte, soos party mense hulle noem) en wildebeeste onder oë gekry oppad Leeuwdril toe, wat die tweede watergat op die roete is. Ons was selfs beloon met ‘n skilpad wat op sy tyd (dit staan seker bekend as skilpad-tyd) in die pad afgestap het.

En toe sien ons leeu se kind!… Die eerste van vele…

Sy het rustig oor die oopte aangestap gekom en so tussen die voertuie deur gevleg om die pad te kruis (want in die Kgalagadi mag die diere lane deel, net soos wafferse motorfiets-ryers in die Gauteng verkeer)…

En terwyl almal haar vasgenael dopgehou het, het ons haar maatjie/sussie gemis wat skielik geruisloos in ons truspieëltjies te voorskyn gekom het. Die maatjie/sussie was egter effe mank-mank aan die stap tot sy ‘n entjie verder, soos ‘n madam, op haar stert gaan sit en haarself van die doring in haar vlees probeer verlos het.

Leeuwyfie oor die duine oppad na Leeuwdril

Ons het hulle vir ‘n wyle gevolg terwyl hulle oor die Kalahari duine beweeg het, gelukkig parallel met die pad. Hulle het op ‘n paar gemsbokke afgekom, maar hulle net van ‘n veilige afstand af dopgehou… Verseker veilig vir die A-graad super-sappige gemsbokke.

Om die volgende draai kom ons by Leeuwdril aan, waar meer gemsbokke en wildebeeste by die watergat rond was. Die leeus het agter ‘n duin in verdwyn en ons het vir ‘n rukkie gewag om te kyk of hulle weer tevoorskyn gaan kom. Na ‘n wyle het ons besluit om maar te kyk wat die res van die roete, Melkvlei toe, oplewer.

Indrukwekkende boom vol familie-voël-neste

En daar, tussen Leeuwdril en Melkvlei, kry ons die familie-voël-nes-boom wat verseker die mooiste prentjie maak.

Voor ons gestop het vir ons piekniek, het ons ‘n paar roofvoëls onder oë gekry, maar met magies wat begin gesels en blase wat dreig om skandes te maak, het ons aangestoot tot by Melkvlei.

In die Kgalagadi mag jy net uitklim by die kampe en piekniekplekke, maar jy word sterk aanbeveel om by die piekniekplekke steeds paraat te wees…

Ons piekniek plekkie by Melkvlei

Gelukkig vir ons het daar geen leeus in die koelte van die piekniekbankies of badkamergeriewe rondgelê nie en kon ons relatief rustig ons draaie loop en die gasbraaier en kosbakke nadertrek. Menige mense is al, met oorvol blase, verras met ‘n leeu of twee wat die ablusiegeriewe “oppas”. Hoe dan gemaak?!

ONs het een gevoel met die natuur, terwyl ons in die skaars koelte ‘n kossie aanmekaar geroer het en oral rondom ons was daar gemsbokke of springbokkies, wat in hulle eie koeltes rustig rondgestaan het.

Nadat ons die skottelskaar leeggemaak en opgeruim het, het ons besluit om by Kij Kij weg te draai en via Tierkop en Kij Gamies deur te ry tot waar dit naby Auchterlonie in die Mata Mata pad inkom. Die roete staan bekend as die laer-duine-pad.

Windpomp in die pad op die laer-duine-pad

Die kruispad het nie veel wild opgelewer nie, buiten ons eerste sekretarisvoël en ‘n gemsbok of drie… Ons was wel beloon met ‘n unieke illusie… en ‘n klassieke kopbeen in die sand…

Kopbeen in die rooi sand

Van Auchterlonie af het ons by ‘n paar watergate verbygery, maar dit was oor die hitte van die dag en die diere het maar oral lafenis in die koelte gesoek. Daar was dus nie veel te siene nie.

Terug by die kamp het ons eers winkeltjie toe gery en onsself gaan beloon met ‘n roomysie en toe self ‘n bietjie gaan rus in die koelte van die oopgevlapte tent.

Leeu wyfies slaap in die koelte langs die pad

Laatmiddag het ons weer met Escapé die pad gevat Melkvlei se kant toe, in die hoop om dalk weer die oggend se leeuwyfies te sien… En toe ons op hulle afkom was dit duidelik dat hulle ‘n langer middagslapie as ons gehad het.

Vir die tyd tot ons beskikking, sou ons weer moes omdraai om daar verby terug te ry, voor die hekke toemaak, so terwyl die wyfies nog rustig geslaap het, het ons eers aan beweeg.

Meerkat op die uitkyk

Bietjie verder aan was daar ‘n paar meerkatjies langs die pad…

En nie ver van daar af nie, word ons beloon met twee ou groottes onder ‘n boom… Maar lui verby!… Dan lig die een sy kop en laat die lang swart maanhare asemhaal, voor hy neerflop… en dan is dit die ander een se beurt.

Lui leeu mannetjies

Hulle het duidelik gewag vir die nag se koeligheid voor hulle enige poging tot beweeg sou aanwend. Die Kgalagadi is warm! Die dag temperature is nie vir sissies nie! Selfs nie eers vir leeus nie!

Met beskikbare tyd wat begin kwyn het ons teruggedraai kamp toe en naby Leeuwdril was die hoeveelheid voertuie by die watergat ‘n duidelike teken dat daar iets aan die gebeur was.

Die gebeure was toe die twee leeuwyfies wat opgestaan het en die watergat vir hulleself gaan toe-eien het… Waar daar die middag ‘n trop wildebeeste en gemsbokke was, was nou net die twee leeuwyfies…

Eers net die een en toe het die ander een nadergekom. ONs het die twee vir ‘n hele ruk dopgehou, terwyl hulle aan mekaar gepeuter en gekarring het, soos twee sussies wat mekaar karnuffel en terg.

Spelerige leeuwyfies by Leeuwdril watergat

Ons sou graag langer wou rondhang en hulle dophou, maar die son het laag begin sit en buiten vir die hek wat sou toemaak, sou die Springbokke (die twee-been soort) afskop teen Samoa en Oupa Ampie wou graag sien wat die Bokke met hierdie wedstryd in die Wêreldbeker maak…

Soos ons nader aan Twee Rivieren gery het, het die radio se opvangs al hoe duideliker geraak (ons het die rugby begin luister)… en di elig al hoe donkerder, met wolke wat belowend nader dryf. Ons het sommer opgery na die kroeg toe, waar die wat wou die wedstryd op ‘n lekker groot TV kon besigtig. Ons was beloon met ‘n span Bokke wat beslis ‘n beter wedstryd gehad het, maar toe ons halftyd uitkom en die maan pronk aan die een kant van die hemelruim en die anderkant speel die donderweer, het ons besluit om af te gaan tent toe en die natuur te gaan waardeer, terwyl Oupa Ampie die wedstryd verder gekyk het.

Die dag het (heeltemal te vinnig) tot ‘n einde gekom met ‘n weerlig skouspel, ‘n paar druppels op die gazebo se dak en ‘n heerlike varktjoppie op die kole… Dit was ons laaste nag in Twee Rivieren en ons kon aan die slaap raak met die dreuning van donderweer oor die Kalahari… en die belofte van nog ‘n onvergeetlike dag in die skouspelagtige Kgalagadi.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *