2016 Kgalagadi – Dag 2

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Sondag – 2016/09/18

Ons was weer vroegerig op en na ‘n koppie koffie was dit die manne en die bakkie se bande. Ons het die vorige dag die bande afgeblaas om die bondels hout, wat op Escapé se dak gepak was, sommer so in die garage te probeer inry… wat toe nie gewerk het nie. Die hout moes in elk geval afgepak word.

Dit het dus die gevolg gehad dat ons oom Bill se kompressor moes nadertrek om die bande weer teerpadvaardig te kry. Wel, net tot anderkant Hotazel.

Tussen Hotazel en van Zylsrus het ons op die eerste grondpad geklim. Christoff het met groot genot weer die bande afgeblaas, want die bande-afblaas-seremonie-foto-oomblik is wanneer ons weet ons avontuur begin amptelik… En die afblasery was gebaseer op die plaaslike boere se advies.

Die bande afblaas oomblik

Op die punt van fotos… Ek het natuurlik ‘n blonde oomblik gehad die eerste aand in Twee Rivieren en my kamera se SD kaart skoon gemaak NADAT ek die dag se fotos afgelaai het op die MacBook… Of so het ek gedink… Gelukkig het ek die bande-afblaas met die foon ook afgeneem, anders sou die bewyse van dit weg gewees het, saam met die oulike fotos wat ons by van Zylsrus geneem het.

Ja, ons het weer by die Welkom-bord by van Zylsrus fotos geneem (geen meer bewyse daarvoor) voor ons gaan brandstof ingooi het. Ons het ook by die hotel gaan aanklop om van ons muffins warm te maak en ys gekoop vir die koelboks in die bakkie… en kort voor lank het ons weer uit die dorpie uitgery en die bord gevolg Gemsbokpark toe… al met die wit grondpad langs Askham toe.

Langs die pad was daar weer ‘n hele paar aasvoëls, maar Escapé het nou net een pad geken en dit was vorentoe… Askham toe… Want anderkant Askham het die Kgalagadi gewag… By Askham is daar brandstof ingegooi en roomys gekoop… Roomys is vir ons deel van vakansie hou… so wanneer ons kan, word daar roomys gekoop…en Christoff het gesmul aan sy Eskimo pie (aka Eskom pie 😉 ).

Ons is by ‘n paar rooi duine verby en weer by die kort windpompie…

En toe is ons by die Kgalagadi se hek… Ja, ons het ook weer probeer om ‘n foto saam te neem by die bord, maar die kamera het bly gly op die bakkie se enjinkap… en daardie fotos is ook per ongeluk uitgevee… Die fotos met die kantore in die agtergrond moet maar doen.

Christoff by die hek, met ons gelaaide bakkie

Ons moes ‘n sleutel kry, want vir die een nag in Twee Rivieren het ons sommer in ‘n huisie ingeboek. Ons het redelik vinnig afgepak en die koelhouers verlos van die vakansie se kos… Die huisie se yskas het sy werk uitgeknip gehad vir die nag…

Terwyl ons afgepak het, het een of twee waaierstert-grond-eekhorings daar rondgevroetel vir enige iets eetbaar wat ons dalk ten gronde laat gaan het.

Na die suksesvolle afpakkery en oorlaaiery het ons koers gekies Mata Mata se kant toe. Ons wou ‘n draai in die park maak, voordat die hekke toemaak… Net dalk sien ons ‘n leeu… Maar die wild was skaars so oor die namiddag hitte… Ons het egter die keer by die Museum by Auchterlonie opgery en gaan kyk wat in die huisie aangaan.

Christoff is in die huisie in en het daar met Duitse toeriste aan die gesels geraak, terwyl ek buite rondgekyk het.

Die ou toerusting wat die destydse smid gebruik het, was daar uitgestal en in die huisie was daar basies ‘n bed aan die een kant en ‘n kas en eettafeltjie aan die anderkant… Vir meer detail oor die museum by Aucherlonie, lees gerus die blog se plasing.

Auchterlonie Museum

Van die museum af het ons al die pad op gevorder tot by Kamqua. Ons het ‘n hele paar gompoue gesien en met die hulp van ons nuwe 600mm lens, kon ons hulle mooi vasvang.

Gompou oppad na Kamqua

Daar was ook volstruise en gemsbokke, wildebeeste, springbokke en hartbeeste wat in die namiddag son rondgestaan het… Dit was nogal opvallend hoe van die bokke rondgelê het… Sommer so in die son.

Blou wildebeeste bak in die son

En daar, oppad terug van Kamqua af, gewaar ons die kameelperde op die rant van die rivierloop…

Kameelperd oor die kruin van die rivierloop se rant

En kort daarna die uile… Daar was 2 in ‘n nes bo in die boom en die meneer (of mevrou) wat ewe rustig onder op ‘n tak gesit het… ‘n Klipgooi van die pad af.

Ons is uit die Auob se rivierloop uit en soos ons oor die duine kronkel, op die laaste entjie, voor die pad weer insny in die Nossob in, staan daar ‘n gemsbok in die glimmerende grasvlaktes…

En al het ons geweet ons gaan waarskynlik nog baie gemsbokke sien en afneem, was hierdie net ‘n sug-oomblik… Ons was in die Kgalagadi!

Gemsbok in die goue grasvlaktes

Terug by ons huisie, het ons ‘n vuurtjie aangesteek. Ons gô het op die grond gesleep het. Dit was twee lang dae op die pad…

En al het ons eerste draai in die grondpad geen leeus opgelewer nie, het ons snoesig gaan inkruip en heerlik in ons huisie in Twee Rivieren geslaap.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *