2016 Kgalagadi – Dag 3

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Maandag – 2016/09/19

Na die yskas en vrieskas deur die nag hulle kant gebring het, was dit weer ‘n terugpakkery in die koelboks en ‘n teruglaai van alles in Escapé, voor ons by Twee Rivieren kon uitry. Vandag was dit ons en die groot pad Nossob toe. Die helfte van die pad was bekend en die ander helfte onbekend.

Kort na Samevloeiing het ons op ‘n eskader roofarende afgekom… Oftewel Tawny Eagles… En ek moes eers die 600mm inspan om die kalante van nader te probeer vasvang…

…en ‘n paar bome verder was daar weer twee.

Ons het weer by die mooi familie-voël-nes-boom verbygery. Dis verbasend hoe die boom toe nog presies lyk soos laasjaar. Geen takke wat afgebreek het onder die gewig van die neste nie, maar ook geen uitbreiding op die bestaande neste nie.

So ‘n uur oppad Melkvlei piekniekplek toe, staan daar toe so 2-3 voertuie langs die pad. Ons het stadiger gery en toe gewaar Christoff die leeuwyfie op die kliprantjie van die rivierloop.

Daar was ‘n mannetjie by haar onder die struik, maar nie so dat mens meer as ‘n poot gewaar het nie… nog minder hom kon afneem. Christoff het ‘n mooi skoot van die wyfie van voor gekry…

En van die kant af… Die wyfie was duidelik lui en nie van plan om binnekort te beweeg nie, maar dit het geen van die fotograwe teruggehou nie.

Leeuwyfie op die kliprantjie
Lekker lui

Ons het skaars weggetrek toe stop ek Christoff. My oog het iets aan die oorkant van die pad, onder ‘n boom gevang… En met die nuwe 600mm lens, kon ons toe mooi kyk wat dit was… En dit was ook waarna die leeuwyfie so gekyk het, as sy wel haar kop in die lug gehad het.

‘n Derde leeu het nog dikpens onder die boom gelê, waar daar die vorige nag aan ‘n gemsbok gesmul was. Die karkas was nog aan die anderkant van die boom, met geen aasdiere wat dit probeer bykom het nie. Wel, hulle sou dit nie waag met die een leeu nog so naby nie… Maar ja, selfs met die 600mm was dit te vêr om die toneel behoorlik vas te vang.

Na die leeus het ons weer ‘n paar hartbeeste gesien en die een kon verewig word, terwyl hy (of sy) stip na ons gestaar het.

Daar was nog ‘n roofarend wat saam met kraaie in die grond rondgewei het en ‘n entjie verder aan, was ons toe bederf met ‘n sekretarisvoël wat ons ook uit alle hoeke bekyk het.

By Kij Kij het ons ons eerste jakkalsie gesien. Die outjie het ewe rustig aangedraf gekom van die watergat af en reg by die bakkie verbygedraf en weer in die veld verder verdwyn.

Melkvlei se piekniekplek het ons weer verwelkom vir ‘n bene-rek… en toe besef ons skielik ons betree nou onbekende terrein

Laasjaar het ons tot by Melkvlei gevorder… Nou was die pad vorentoe, al met die Nossob langs, onbekende wêreld vir ons en Escapé.

Kort anderkant Melkvlei het ons op ‘n trop jong volstruise afgekom. Hulle was besig om rustig saam met hulle pa te wei. Seker ‘n goeie 12 van hulle…

‘n Ent anderkant hulle was daar ‘n jakkalsie… rustig op die grond uitgestrek… Dit was vir ons nogal ‘n vreemde verskynsel. Gewoonlik is die kalante aan die draf… Altyd oppad iewers heen… Maar nie die een nie.

So met die ryery het ons skielik die muisies langs (en soms in) die pad begin opmerk. Dit was heel toevallig, omdat daar niks anders in sig was aan my kant van die pad nie. Maar van daar af het ons hulle meer gereeld opgemerk. Met die weliger gras, was hulle moontlik meer gemaklik om rond te beweeg.

Ons moes natuurlik ook die waaiende grasvlaktes afneem. Die Kgalagadi was geil van die gras hierdie jaar….

Goue Kgalagadi grasvlaktes
Geil gras teen die duine uit

En toe is daar skielik ‘n slang in die pad… Gelukkig kon Christoff dit afneem voor dit ‘n slang in die gras geraak het…

Ons het by Dikbaardskolk se piekniekplek gestop vir ‘n bene-rek, voor die laaste stuk Nossob toe. Christoff het al hoe makker geraak en al hoe verder van die geriewe af gestop… Die wandelings was egter goed en ons het maar op die uitkyk gebly vir bewegende geel lywe in die gras… Maar in veilige spring-afstand van die bakkie af, het ek dit gewaag om ‘n paar fotos van die voëltjies en muise by die piekniek plek te neem.

‘n Ent aan in die onbekende in het ‘n kombi, aan die verkeerde kant van die pad, langs die pad gestaan met ‘n vrou wat opgewonde vertel van die “big lion” wat onder die boom lê, net so paar tree in van die pad af…

Ongelukkig vir ons was die duin te styl en die gras te lank, want ons het nie eers ‘n maanhaar iewers sien uitsteek nie… Ons kon nie glo die kombi was soveel hoër as die bakkie nie.

Anderkant Dikbaardskolk het Christoff ‘n uil in die mik van ‘n boom gewaar. Ek kon nie besluit of die uil of die takke meer indrukwekkend was nie.

Op ‘n stadium kom die pad uit die Nossob rivierloop uit en ry jy oor ‘n duining… En skielik strek die Kalahari se vlaktes voor jou uit… En jy kan sommer dieper asemhaal.

Wye Kalahari vlaktes

En toe ons weer sien, is ons by Nossob se kamp… Met die inry-slag is daar sulke sandwalletjies om die mense te laat stadiger ry. Christoff het die eerste hobbeltjie se bordjie gemis, waarskynlik omdat hy eerder in die rivierloop gefokus het as langs die pad. Die gevolg was ‘n wipslag wat een van die sakke hout, op die kappie, ‘n ontmoeting met die sandpad laat kry het… en hy moes toe natuurlik uitklim om dit op te tel… As dit maar die laaste keer was wat hy moes uitklim.

Nossob kamp klip-naam
Ou Nossob hek

Ons moes eers bietjie rondhang, terwyl die ergste hitte oorgegaan het… Ons het met ‘n koue enetjie die uitkykpunt besoek en besef die oorspronklike hek was nie meer in gebruik nie. Dit was nou die deurloop na die uitkykpunt toe, met die welkom-in-Nossob bord so paar tree agter dit.

Ons eerste keer by Nossob se watergat was daar net ‘n swetterjoel van voëls wat in die boom by die watergat lawaai gemaak het, so nadat ons drinkbare versnaperings geledig was, het ons maar gaan tent opslaan.

Net voor ons gebraai het, was ons weer by die uitkykpunt en het gekyk hoe ‘n springbok-ooitjie die water kom toets het… Dit het die suipery vir die trop blou wildebeeste oopgemaak, hulle was gans te bang om dit eerste naby die water te waag.

Ons Nossob-staanplek

Terug by die staanplek het Christoff gaan vuur aansteek en ek het ‘n slaai aanmekaar gesnipper… en kort voor lank het die braaivleis-geure die lug begin vul. Ons het sommer so in die donker op ons skote die borde leeg gemaak en herkou aan die dag se gebeure.

Na ete het ons weer by die uitkyk gaan sit, net om rustig koffie te drink en te luister na die blaffende geckos… Daar het nie veel verder gebeur nie, so ons het maar gaan tande skrop en ons lywe gaan oorgee aan die slaapsakke en kampbedjies.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *