2016 Kgalagadi – Dag 9

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Sondag – 2016/09/25

Cubitje Quap se kudu bul

Sondagoggend is ons weer rondom halfsewe uit die kamp uit in ‘n noordelike rigting Kwang toe. Kort by Cubitje Quap het ons paaie met die pragtige kudu bul gekruis.

En toe sien ons die katspore in die pad.

Leeu spore in die pad

Dit was seker die langste stuk pad wat ek net in die pad gekyk het en niks wyer gesien het nie… Ons het die spore dopgehou wat mooi in die pad gestap het, Kwang se kant toe… en ek kon sweer daar was soms kleintjies se spore by… (En volgens wat ons gehoor het was daar mos ‘n ‘n leeuwyfie met kleintjies noord van Nossob.)

Ons het die spore hoopvol gevolg tot naby Kwang. Ons was nie seker of dit leeu of luiperd spore was nie en die keer kon ons nie my T-hemp raadpleeg om seker te maak nie… En ons kon toe ook nie uitvind nie. Die spore het nooit tot die trapper gelei nie.

Ons het maar druipstert omgedraai by Kwang en teruggery Nossob toe, nadat Kwang net weer ‘n paar aasvoëls opgelewer het. Maar, dit was tyd vir een deel van die avontuur om tot ‘n einde te kom, sodat ons in die pad kon val Bitterpan toe…

Terug by die huisie het Christoff die bakkie gepak, terwyl ek vir ons salami-en-kaas pitas gebou het. In my haas om alles gedoen te kry, sit ek die Butro bakkie op die toaster, sodat dit smeerbaar kon raak… en smelt dit so in sy kanon in. Gelukkig was daar ekstra seëlbare sakkies om dit soortvan te verpak en terug te kry in die yskassie in.

Christoff was bietjie ongelukkig met glase hierdie keer. My wynglas het ‘n paar dae tevore uit sy seephande geduik, terwyl ons in die kampterrein se opwasbak skottelgoed gewas het… En so, tjip hy toe ook een van die huisie se glase… Ons het gaan verduidelik met die inhandiging van die sleutel, maar R20 later was die probleem opgelos.

En toe was dit sulke tyd… Die hek is vir ons oopgemaak hierdie keer en toe wag die twee-spoor paadjie…

Bitterpan bord by Nossob – 54km

Die opgewondenheid was groot toe ons Nossob agterlaat…

Pad na Bitterpan

Oor elke duin het daar net weer ‘n uitgestrekte landskap voor ons gelê, wat soms ‘n bok of volstruis opgelewer het… Maar meestal ‘n diep sug…

Rooi sandspore

Buiten vir die ongelooflike vlaktes, het ons darem drie uiltjies langs die pad na Bitterpan gekry. Dit was nogal iets om te sien, die drie so by mekaar.

Ons het by Klein Stofpan ingedraai… Die watergat het bestaan uit ‘n bad… en daar het twee swartkopreiers in die omgewing rondgestaan.

Klein Stofpas se twee swartkopreiers

Ons het ook gestop om Tsammas (sand pampoene of Boesman waatlemoene) af te neem… Nie tsjammas of nammas nie.. Tsammas. 😉

En toe is die Bitterpan afdraai daar…

Bitterpan kamp

Ons was kort na een in Bitterpan en kon rustig aflaai wat kamer toe moes gaan.

Ons het die ander inwoners so op ‘n streep ontmoet. Claudia & Helmut, van Duitsland, was eerste daar en hulle het die huisie op die regter punt gekry. Hulle was maar redelik stil en eenkant… Ons is in die huisie op die linker punt ingeboek, alhoewel dit nie oorspronklik vir ons bedoel was nie… Ronnie & Trish, van Wildernis, het kort na ons arriveer en het in die huisie langs ons ingetrek. Hulle het genoem dat hulle voertuig ‘n vars 37 grade gemeet het oppad Bitterpan toe… en ons kon dit voel…

Koelte soekers

Die middagson bak reguit in die huisies in en die stoepies, wat uitkyk op die pan, ontwikkel omtrent in ‘n bakoond… So ons het die koelte agter die huisies gaan opsoek…

Natuurlik is die omgewing nie omhein nie, so ons moes maar die hele tyd die omgewing dophou vir moontlike gevaarlike diere wat dalk nader kom… Dis nou, ander gevaarlike diere as die kraaie wat gaap… en die muise wat hulle pensies op die sand afkoel.

In die kombuis het die luide geselsies opgeklink van ons bure wat met die laaste aankommers, Jo & Neil uit die UK, geselsies gemaak het. Ons het nader gestaan en ook gaan bladskud, net om te sien dit was mede toeskouers aan die parende leeus by Polentswa.

Onomheinde gemeenskaplike braai area by Bitterpan

Rondom vieruur het ons besluit om te gaan stort, terwyl ons wag vir die dag om koeler te raak. Dit was so warm, dat my hare drooggeword het in die tyd wat Christoff gestort het… Agter ‘n deur wat sy “nuwe status” aangemeld het.

Toe ons albei klaar was, het ons die driepoot en kamera kontrole ingespan en ‘n paar fotos van onsself op die stoep geneem…. Net om die oomblik te verewig…

Ons is bederf met ‘n mooi sonsondergang oor die pad, terwyl ons vuurtjie begin lewe kry het.. en toe begin die donkerte om ons vou.

Son sak oor Bitterpan
Son sak en vuurtjie brand
Bitterpan panorama

Daar het wolkies nader gedryf, maar ons kon darm die sterre sien uitkom in ons “tuintjie”, terwyl die vleis gebraai het. Na ete het ons weer in die afgekampte area gaan sit en probeer om die sterre vas te vang… Ons het besluit ons het nog nie heeltemal die regte toerusting vir dit nie.

Ons het wel ‘n hele ruk in ons “tuintjie” vertoef om die rustigheid van die omgewing te geniet… so in die donker. Dit was basies net ons huisies se vuurtjies wat te sien was… en die blaffende geckos wat die stilte verdryf het.

Ons het gaan inkruip, hoopvol dat ‘n nagtelike besoeker of twee ons sou wakker brul…

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *