2018 Kgalagadi – Dag 10

‘n Leeu van ‘n Vakansie!

Maandag – 2018/10/22

Kyk! As ons gedink het die vorige nag se wind was woes, was dit omdat ons nog nie geweet het hoe gisternag se wind sou waai nie. Ek was met tye benoud dat ons tent, met ons nog binne in, weggewaai sou word. Nodeloos om te sê is daar nie veel geslaap nie…

Die voordeel van dit was dat ons vir die eerste keer leeus in die nag hoor brul het. Vêr weg… Maar dit help as jy lig slaap, omdat jy bang is die tent skeur om jou in flarde, terwyl die reën om jou neer plons.

Voor ons in die pad kon val, moes ons eers bietjie agter sein aan ry, om boodskappe deur te kry huistoe. Die nag se weer het selfs die selfoon torings in die omgewing bygekom en daar was verjaardagboodskappies wat moes uit.

Bakoorvos wat wel stil gaan staan het langs die pad

Vanoggend het ons weer koers gevat Melkvlei se piekniek plek toe vir die eerste pitstop, maar dan wou ons terugdraai en die onderste duine pad ry. ‘n Bakoorvossie het ons pad gekruis, maar van die roofdiere van gister was daar nie ‘n teken nie. Dalk het hulle besluit om soos die vrou in Chocolat saam met die wind te trek.

Teen die tyd wat ons by Melkvlei aangekom het, was dit net springbokke, gemsbokke, wildebeeste en volstruise wat die wind trotseer het. In plaas van roofdiere, het daar plek-plek waterpoele gepronk na die nag se reën. Die stormwind het darem reën gebring…

Ons was net besig met ons koffie en beskuit, toe ‘n oom van die badkamer se kant af aangestap kom. Ons was vir ‘n oomblik verbouereerd, want die Oom het nie vir een van ons bekend gelyk nie en ons het gewonder of daar fout was.

Ek kom kyk net of my uil nog hier is, het die Oom so in die verbygaan gesê en koers gekies na die anderkant van die boom waaronder ons parkeer het… Ek en Christoff is agterna en jou waarlik! Daar, in die mik van ons koelteboom, met sy lyfie weggesteek van die pad af, sit die uil en slaap… Die koffie was vergete terwyl Christoff die nuwe verstellings op die kamera uit probeer het op ‘n dood-gewillige model wat knus in sy nessie bly broei het.

Kaapse ooruil broei by Melkvlei

Na ‘n draai in die badkamer het ons terug geglip in die grondpad en afgery Kij Kij toe, om in die onderste duine pad te draai… Die deining van die duine het my omtrent weer aan die slaap gesus. Daar was ‘n volstruis of twee en ‘n drie-tal gompoue te siene, maar verder nie veel nie. Die mooiste was die rooi kruine van die duine… maar ‘n foto wou dit net nie tot volle reg laat kom nie.

Terug in die Auob was ons hoopvol vir meer lewe… ons was egter steeds te hoopvol, want selfs die leeu wat ons te siene gekry het, was so katswink ek het begin wonder of die man nog in die land van die lewendes is. Die enigste opwinding was ‘n Pietertjie (lees bleeksingvalkie of klik hier vir ‘n verduideliking van Pietertjie op dag 6 van die 2016 vakansie) wat ‘n koggelmandertjie gevang het.

Ons het ons middagrit vroeër as normaal aangepak, want dit was maar lekker winderig en bewolk en die lig sou later net slegter geword het, as mens dalk iets sou kry om op te fokus.

Ons het weer ‘n Pietertjie gekry wat iets gevang het, maar tot kort voor Kij Kij was dit omtrent dit… Daar het twee voertuie iets gestaan en beloer en toe ons nader trek, sien ons die jong jakkalsie naby sy ma. Die outjie was nie meer ‘n babatjie nie, maar kon beslis nog deurgaan as ‘n puppy. Daar was verwoed aan al wat ‘n grasstingel is gekou wat rondom die gat uitgestaan het. Die ma het op ‘n stadium ‘n draai gaan loop en sy is skrikkerig agterna gekyk, maar die wagpos by die gat was volgehou – bietjie meer skrikkerig, maar op sy pos.

Klein rooijakkalsie by die gat

Tussen die wind en die weer het die vuurmaak in die kamp al hoe aanlokliker begin lyk en ek het net so onder die spoedgrens gebly oppad terug Twee Rivieren toe… Kort voor Leeuwdril het ek egter remme aangeslaan, toe Christoff meerkatte gewaar. ‘n Hele familie!

Deel van die meerkat familie aan die skrop

Ons het ‘n rukkie langs die pad vertoef, terwyl hulle in die sand gegrou en geskarrel het, vir aandete. Dit was te oulik om te sien hoe die ou kleintjies ook grou agter kossies aan en dan orent spring en die omgewing bekyk… miniatuur weergawes van die ouer meerkatte… almal saam aan die skarrel.

Terug in die kamp het ons net vuur aangesteek, toe ons nuwe bure arriveer. Dit was duidelik die tent opslanery sou ‘n vreeslike gesukkel wees, want die wind het net nie saamgespeel nie. Christoff het gaan hulp aanbied en later was daar drie ander kamp-gesinne aan die handgee om die tent opgeslaan te kry.

So ontmoet ons vir Tannie Alta en Oom Frikkie Lock. Oom Frikkie het nader gekom met self-gemaakte penne, spesiaal vir die harde klipgrond in die Kgalagadi. Dis beslis ‘n moet vir enige een wat probeer kamp in die Kgalagadi wanneer die Kalahari winde besluit om te waai.

Nadat die tent staan gemaak is het ons nog lekker geselsies gemaak met die egpaar wat boer in die Loeriesfontein distrik. Hulle het self ‘n storie gehad om hulle tent opgeslaan te kry. Nie as gevolg van die wind nie… maar dis nie my storie om te vertel nie.

Die wind het stelselmatig begin bedaar en ons was skaars klaar geëet, toe die druppeltjies begin val… vanaand slaap ons hopelik rustiger.

Hier is nog ‘n paar fotos van die dag:

Gemsbok aan die kop krap in die harde grassies
Rooihartebees
Melkvlei se uil
Klein rooijakalsie naby Kij Kij
Op wag by die gat terwyl ma gaan rondkyk
Swartkwas muishond langs die pad naby Kij Kij
Een van die meerkat kleingoed
Vinnige opkyk voor daar weer gegrou word

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *