2016 Kgalagadi – Dag 6

Kruis & Dwars deur die Kgalagadi! Rondte 2

Donderdag – 2016/09/22

Daar was geen nagtelike eskapades van enige leeus nie, so ons het heerlik deurgeslaap tot die dag gebreek het, maar voor ons ons eerste koppie koffie in ons slaapsakke kon nuttig, moes ons eers van die oornag-voggies ontslae gaan raak het.

Ons het nog ‘n koppie koffie vir die pad gebou en weer by die noordelike hek uitgery Qubitje Quap toe… Daar was maar min tot niks aan die gebeur. Toe rits ons verder Kwang toe.

5 van die 17 aasvoëls rondom Kwang se watergat

Daar was ‘n sametrekking van 17 aasvoëls in die boomtoppe by Kwang en al het ons die omgewing met die 600mm lens uitgekyk, kon ons geen beduidenis sien van hoekom daar soveel van hulle op een plek was nie. Dit was egter steeds interessant om hulle so in die boomtoppe te sien sit… Dit was soos teetyd by ‘n begrafnisondernemers-konferensie, waar hulle nie te ver van mekaar af nie, rondgesit het.

Christoff was lus om ‘n ent in Botswana in te ry, maar ons wou eers by Nossob gaan seker maak of ons mag. Ons het dus van Kwang af weer terug koers gekies kamp toe… En soos ons inry in die kamp in, sien ons die groep vriende staan gereed om pad te vat Mabuasehube toe.

Ons het gou ‘n draai geloop en toe self by die permitkantoor gaan aanklop… Die man agter die toonbank het my mooi ingelig ons ry op ons eie risiko in Botswana in… Maar as mens nou die dag avontuurlustig is, gaan sulke ydele dreigemente jou nie stop nie.

Dit was behoorlik ‘n ander ervaring in die 2 spoor paadjie en by die eerste redelike bult kry ons toe klaar die groep. Hulle het reeds begin stoei in die sand. Almal het die eerste bult suksesvol gemaak, maar by die volgende duin moes hulle mekaar uitsleep.

Ons het rustig by die agterosse gestop en Christoff het met hulle begin praatjies maak… En kiepie was natuurlik maar weer op die uitkyk vir wilde diere.

Toe al die voertuie weer uit die sand was, het hulle afgetrek en ons laat verbygaan.  Ons het rustig verder gery en Botswana begin verken. Die diere was egter skaars hier tussen die droë duine.

Op die kruin van ‘n hoë duin wou Christoff teen die sandwal uit om die konfooi af te neem soos hulle verbykom. Die sand was egter bietjie dikker as wat Escapé voor kans gesien het en ons moes maar verleë terugrol, voor Escapé dalk deur een van die groep se voertuie uitgesleep moes word. Gelukkig het hulle dit nie gesien gebeur nie.

Ons het net verder in die pad af gaan stop en Christoff het teruggedraf om fotos te neem, op die einste duin… En ek het begin vrede maak met die hoeveelheid kere wat hy toe al uit die bakkie uit was, blootgestel in die wildernis.

Ons het nog ‘n ent agter hulle aan gery in Botswana in, maar toe besluit om weer terug te draai Suid Afrika toe… Die gras was nie juis groener aan die anderkant van die grens nie. 🙂

Escapé langs die sandwal wat hom ondergekry het… en die uitsig…

Ons het weer op die hoërige duin gestop en rustig, op ons eie, die omgewing besigtig en die stilte en afgesonderdheid geniet. Daar was geen lewe in sig nie. Net ons – so ver soos die oog kon sien…

Daar was nie vreeslik in terme van dierelewe te siene op die pad nie. Ons het ‘n paar duikertjies tussen die grasbolle gesien, ‘n gemsbok of vier iewers op ‘n rant en ‘n hartbees in die verte… Ons het wel ‘n Pietertjie* gesien wat ‘n muis gevang het, maar hy was bietjie ver weg om ‘n mooi foto te kon kry.

*Daar is heelwat bleeksingvalke in die Kgalagadi en ons het hulle gereeld te siene gekry. Ons het later begin praat van Pietertjies, elke keer as ons ‘n bleeksingvalk te sien gekry het.

Duikertjies in Botswana
Botswana se rooi sandpad

Kort voor lank het ons Botswana se rooi sandpad weer verruil vir die park se “groot pad”.

Ons het bietjie by die skuiling gaan sit en die voël lewe al hoe meer begin geniet. Die Namakwa duifies is vollop in Nossob se omgewing, maar hulle is min in vergelyking met die ander klein voëltjies wat in massas in die bome rondgesit en kwetter het.

Swetterjoel kwetterende voëltjies by Nossob se watergat

Daar was ‘n kransvalkie wat die swerms voëls op hol gehad het – of eerder stil gehad het – elke keer as hy sy verbyvlugte by die watergat kom maak het. Hy’t wel op ‘n stadium ‘n voëltjie gegryp gekry, maar oppad na ‘n sitplek toe, het die outjie uit sy kloue ontsnap… Letterlik!

Die middaghitte het ons oge toegetrek en so met ‘n ligte briesie deur die tent, het ons onsself aan ‘n heerlike middagslapie oorgegee. Uitgerus het ons selfs kans gesien vir die skottelgoed en het ons oorgestap opwas area toe… en daar begin ons geselsies maak met ‘n mede skottelgoedwasser, wat toe uitdraai om ook van ons geweste af te wees. Hennie Roets woon in Wierdapark, maar het ook nog nie heimwee huistoe gehad nie. Dis te lekker in die bos.

Toe die son begin water trek het ons weer ‘n draai gaan ry. By Rooikop was dit net jakkals se kind wat water kom drink het, so ons gaan sit toe weer by Marie se Gat en kyk hoe die gemsbokke en springbokke moed bymekaar skraap om water te kom drink.

Marie se Gat se brawe springbokkie

Alhoewel daar niks opvallend gevaarlik in die omgewing was nie, was die diere baie versigtig. Selfs die jakkalsie het maar die omgewing bespied so tussen die slukkies water deur.

Versigtige smirre by Marie se Gat

Kort voor lank het ons heerlik gelag vir die diere-kaskenades…Die een ooitjie het ewe versigting gestaan en drink toe ‘n ander ooitjie besluit om haar teen die boud te gaffel met haar horing. Die arme ding het ‘n bokspring (springbok?) gegee tot in die watergat en toe nog een anderkant uit. Dit het amper gelyk of sy nie eers die watergat se bodem getref het nie, so vinnig was sy weer anderkant uit.

Grasbegroeide rooi duin tussen Nossob en Marie se Gat

Ons is kort voor hek-toe-maak-tyd terug kamp toe, met net ‘n lêende jakkals langs die pad.

Ons het weer ons Kalahari TV gaan aansteek en saam met daai geknetter, en die geckos se geblaf, gesels oor ons dag se draai deur Botswana en wanneer ons dink ons by Mabuasehube sal kan draai.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *