2018 Mafunyane – Dag 1

Woensdag – 2018/03/28

Escapé was gereed in die blokke toe die skool 12h uitkom. Juan het geklim en ons het pad gevat Pretoria Noord toe om vir Oupa Ampie op te laai. Oupa se goedjies het reg gestaan en dit was net vinnig inlaai. Ek en Juan het Oupa se padkosboks mooitjies tussen ons op die agterste sitplek laat rus…  Die rus was egter van korte duur…

Gereed-vir-aksie-Gouwse

Oupa het die boks se flap oopgeflip en gekookte eiers, frikkejafels, appelfyt-konfyt-en-koue-vleis broodjies het op papierborde aangesweef gekom… Gevolg deur blink-papier-soetstoppertjies wat in ons kieste kom bol het… En toe kon die padkosboks eers weer bietjie op die bank kom rus…

Juan het van die agterste sitplek af ge-DJ, met my cowboy-hoed op sy kop… Vol storietjies van Professor Bokdrol by die skool, wat alles weet en hoe hy in die bakkie gaan slaap, want hy wil nie kanse vat met leeus by die tent nie… maar hy sal darm vir Oupa in die tent gaan kuier.

En so tussen die musiek en stories en padkos, was die pad Phalaborwa toe sommer kort…

Met die in ry in die dorp in, lees ons gastehuis borde, op soek na ons oornagplek… “African Lily” lees ek… “A freakin Lily?” vra Juan… En van daar af was enige iets “African” nooit weer dieselfde nie.

By Amigahram aangekom was ons redelik gaar. Christoff merk op ons het ‘n lek in die linkervoorwiel, maar gelukkig kon ons die volgende oggend aandag daaraan gee… Ons was pootuit na die oggend se geskarrel en die dag op die pad en kon nie wag om ons vleisie op die kole te kry, met iets koud in ‘n glas nie.

Juan het dadelik die swembad gaan benut… en nadat ek skoene uitgeskop het, het ek besluit om ook my warm voete in die swembad te gaan druk… Wat ‘n katarsis! Die eerste trappie was dieper as wat ek van buite af gekorrel het en met die intrapslag gly my voet… Gelukkig was Juan naby genoeg om my val te stuit! Ongelukkig was my bene basies heeltemal nat en meer tragies was my selfoon in my broek se bo-been-sak. Juan het my op my voete teruggedruk en onmiddellik die foon gegryp en in ‘n handdoek gaan druk… maar dit was te laat… Die ou stukkie tegnologie wou vir die res van die paasnaweek nie veel weet nie.

Juan en Odi, die gastehuis se Jack Russel, het mekaar vir ‘n ruk vermaak terwyl ons met die vleis besig geraak het, maar toe span hy en Oupa die pool tafel in. Hulle het ‘n paar potte ingekry, voor ons geroep het vir ete.

Pierre, die eienaar van die gastehuis, het deur die loop van die aand by ons aangesluit. In sy privaat lewe geniet hy om te jag en hy spog met menige bok-trofees. Wat sy jag indrukwekkend maak, is dat hy met ‘n boog jag.

Maar, so tussen die kuier, speel en smul deur het Klaas Vakie ook sy draai kom maak en is ons almal op ‘n streep kamer toe.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.