2019 Boesmanland

Boesmanland! Vat my hart!

Tydens ons vakansie in die Kgalagadi in 2018, het ons en die Locks mekaar raak-gehelp, waar ons almal probeer keer het dat ander kampeerders se tent nie deur die wind weggedra word nie… Die ontmoeting het gelei tot ‘n koffie-kuier wat ons laaste middag in die kamp laat verbyvlieg het.

Toe die eerste lang naweek in 2019 begin wink en ons besef dis in die skool vakansie, het ek die selfoon nadergetrek en gehoor of die Pietersfonteiners daardie naweek tuis sou wees – en natuurlik lus vir die Gouwse uit Pretoria.

Met tipiese plattelandse gasvryheid is ons navraag onmiddellik omgeskakel in ‘n uitnodiging en het die beplanning vir die naweek begin… en toe ons sien waar dit is, het ons sommer besluit om dit ‘n behoorlike LANG naweek te maak.

Ek het ondersoek gaan instel na plekkies langs die roete wat goeie oorslaap-plek kon wees, want 1 000km plus, een rigting, moet darm opgebreek word met ‘n oorslaap iewers.

Van Pretoria na Pietersfontein en terug

Dag 1 – 2019/03/20 – Pad na Prieska

Dag 2 – 2019/03/21 – Prieska na Pietersfontein

Dag 3 – 2019/03/22 – ‘n Dag op Pietersfontein

Dag 4 – 2019/03/23 – Pietersfontein na Modderrivier, via die Windpomp Museum

Terug by die huis was die eerste oefening om die ongeveer 80 fotos nader te trek, want die beligting in die Karoo kon net sorg vir ongelooflike fotos en Christoff was op sy pos om so veel as moontlik van die gebeure vas te vang… Maar helaas, die Chinese SD kaart het ons ingedoen. Die fotos was nie herwinbaar nie.

Gelukkig het Tannie Alta ‘n foto of drie aangestuur en ons het darm met ons selfone ook ‘n paar mooies kon kry om te help om die herinneringe vas te vang… Ongelukkig was daar ‘n paar oomblikke wat nie met fotos vasgevang is nie.

Ons het moeg teruggekom, na die lang pad, maar elke kort-kort verlang ons terug na Pietersfontein se stilte en oopte… en die mense! Volgende keer gaan ons langer!