2019 Boesmanland – Dag 1

Woensdag – 2019/03/20

Woensdagoggend, 20 Maart 2019, vat ons pad Prieska toe. Ons het oorslaapplek gereël by Excelsior River Cottages, met ‘n eenheid wat uitkyk op die Oranjerivier… so dit was die eerste skof Boesmanland toe.

Die rit se vermaak was verskaf deur Juan wat vir ons ge-DJ het met behulp van Apple Music – soos wat die selfoonopvangs toegelaat het… Google Maps het ons ook met ‘n zig-zag van die N14 af na die N12 toe gekry en ons het vir die eerste keer in ons lewe met plekkies soos Dominionville te doen gekry.

Kort na ons oor die Vaalrivier is, ry ons deur Warrenton en glip van die pad af by die Quest vulstasie in. Met die eerste oogopslag sien ek die “donkies” in die kamp en roep heel opgewonde uit hoe “fluffy” die “donkies” is… net om ‘n paar sekondes later te besef dis toe lamas, van verskillende groottes, wat daar staan en wei…

Bordjie by die vullisdrom
Badkamerdeur-dekor in die dames badkamers

My blaps het my ‘n paar keer ingehaal deur die naweek, maar was vir ‘n oomblik vergete toe die oorspronklikheid by die vulstasie ons aandag getrek het… en met oorspronklikheid bedoel ek die waarskuwingsbordjies en badkamer dekor.

Net anderkant Warrenton het die interessantste wolk formasies die blou lug na ‘n “alien invasion” toneel laat lyk…

Wolke buite Warrenton

Ons moes egter vinnig ons aandag op die paaie vestig toe ons Kimberley inry en besef fase 4 beurtkrag maak dit minder lekker om deur dorpe te stoei…

Na ‘n bietjie kophou is ons met Google se instruksies deur Kimberley se strate en op ‘n stiller pad uit Prieska se kant toe, via Douglas. In Douglas omgewing kom die Vaalrivier en Oranjerivier bymekaar, maar al wat mens kan sien is die groen streep wat so entjie van die pad af kronkel… Tot jy oor die Oranjerivier ry… en dan kronkel die groen weer verder aan op jou regterkant.

Musiek-gewys het ons wyd gedraai en lank in die tagtigs vertoef, maar onder begeleiding van Battery 9 en Rammstein het ons by ons slaapplek aangekom… Eers voor ‘n geslote hek en toe ry ons by die amptelike hek verby…

Ons was vir ‘n paar minute voor dooie-mans-deur, totdat Marius terug was om voor ons uit pad te vat na ons River Cottage toe… Ons is gewaarsku dat hulle beurtkrag rondom sesuur sou inskop, maar met die braaipakke, braaibroodjies en slaai wat hulle vir ons voorberei het, het ons net vuur en lampies nodig gehad… Ons was nie gepla nie.

Aangesien hierdie nie ‘n kamp-naweek was nie, was daar ‘n paar dinge wat ons nie ingepak het nie… soos fire lighters en speserye… Braai speserye was daar in die kas en Marius sou ons uithelp om die vuur aan die gang te kry, maar toe hy na ‘n halfuur nog nie terug is nie, het Christoff werk gemaak om vuur aan te steek met dooie gras wat rondom die huisie was… Toe Marius kort na dit arriveer, nadat hy by sy huis moes gaan fire lighters haal, het ons baie sleg gevoel oor sy onnodige moeite.

Nadat hy weg is het ons langbeen op die stoep gesit, met die vuurtjie aan die een kant en die omgewing aan die verkleur aan die anderkant. Tussen die sakkende son en Eskom was die omgewing vinnig in duisternis gedompel.

Verkleurende horison oorkant die oewer van die Oranjerivier

Ons het gewonder oor die moontlikheid van seekoeie en krokodille, maar ook of daar visarende in die rivier kan jag… Net om te besef die Gouws-manne het nog nooit ‘n visarend in lewende lywe hoor roep nie…

Maar voor Eskom die ligte weer aangesit het, was die Gouwse platgetrek, sommer almal in een kamer…

En so begin ‘n nag van min slaap… met die krag wat af was het ons die vensters oopgemaak vir vars lug en natuurlik het die muskiet-populasie langs die rivier die uitnodiging geruik en gehoor gegee… Ons was later van kop tot tone gesmeer, maar van Peaceful Sleep was daar steeds min…

Nadat die beurtkrag verby is, wou ons vensters toemaak en die lugversorging aansit, maar iewers met die aankom van die krag het iets foutgegaan, want die lugversorging en kragskakelaars wou niks weet nie… Toe is dit maar so…

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *