2019 Boesmanland – Dag 4

Saterdag – 2019/03/23

Saterdagoggend het ons maar traag opgestaan, want ons het besef dis ons laaste tydjie op die plaas. Ek en Christoff het weer in die Locks se slaapkamer gaann plaasneem, met ons eerste bekers koffie en ‘n ekstra lang kuier ingesit, voor die inpak geskarrel moes afskop.

Ons het egter ‘n stewige stuk pad voor ons gehad en ons wou nog by die Windpomp Museum in Loeriesfontein ook aangaan, so die horlosie het begin praat.

Terwyl ek nog besig was om klaar te maak, was die manne natuurlik lank reeds gereed en Christoff tel toe een van die kitare in die sitkamer op… En kort na dit skuif Tannie Alta agter die klavier in en word daar met oorgawe saam musiek gemaak.

Musiek in die voorhuis

Na ‘n deuntjie of twee aangepak is, is daar egter maar opgegee. Die pad het geroep! Maar Oom Frikkie het een laaste bederf vir Juan gehad. Met die uitstap kar toe, word ons ingelig dat hulle sommer met Henkries, die enkelkajuit bakkie, gaan saamry tot by die plaashek… en die sleutels word na Juan uitgehou.

Manne sit koppe bymekaar voor Juan se eerste bestuur

Tannie Alta het by ons ingeklim en ons het vooruit gery, sodat Oom Frikkie rustig vir Juan aan die gang kon kry. So gesels-gesels kom ons by die hek aan en ons was skaars uit, of Henkries kom ‘n entjie agter ons tot stilstand… Dit was een van die breedste glimlagte op Juan se gesig in ‘n lang ruk! Oom Frikkie weet net hoe om die stadsgefolterde jong manne te laat asemhaal.

In ‘n kwessie van twee dae het die twee mense so diep in ons harte gekruip, dat ek maar vinnig die knop in my keel moes afsluk toe dit by groet kom! Gelukkig is daar nog vir oulaas grappies gemaak oor Juan se pienk vakansie-hare en die feit dat hy maar ‘n bandiet-kop moet kry voor hy teruggaan skooltoe. Dis makliker om ‘n traan weg te knip as jy ‘n glimlag op jou lippe het!

Ons is weg, oppad Loeriesfontein toe, met die belofte om te laat weet wanneer ons daar is en met ‘n groter belofte dat daar weer in Boesmanland gekuier sal word.

Ongeveer ‘n uur later het ons in Loeriesfontein ingery en eers gewonder of ons sou moes vra waar die Windpomp Museum is… maar dit was nie nodig nie… Soos die grondpad in die dorp inkom, is daar ‘n bordjie wat aandui die Museum is in die volgende straat regs… en daar is dit toe!

Panorama van die windpompe by die museum

Ek het geweet ons is haastig, so ek wou nie te veel tyd daar spandeer nie… Ons sal beslis weer hierdie wêreld kom besoek as ons meer tyd het, maar ek was steeds soos ‘n kind in ‘n speelgoedwinkel… Ek verkies om nie te veel alleen voor die kamera te wees nie, maar hierdie was een van my “bucketlist” oomblikke…

Windpomp Museum – check!

Toe ons uit Loeriesfontein uitry, het dit sommer gevoel of die wegloop nou klaar is… Ons het teerpad gery Nieuwoudtville toe, tussen klipperige koppe deur, met kokerbome wat plek-plek pronk. Van Nieuwoudtville af is ons Calvinia oor Williston, Carnarvon en Vosburg deur, voor ons op die N12 geklim het… en iewers voor ons op die N12 geklim het, was Tannie Alta se braaibroodjies al verslind.

Ons het anderkant Hopetown in die Modderrivier omgewing by Wag ‘n Bietjie Lodge gaan slaap. Ons was die lodge se enigste gaste vir die nag, so ons het die terrein vir onsself gehad… Ons het skoene uitgeskop en die kroegman het gesorg dat ons elkeen iets te drinke kry, terwyl ons vir aandete gewag het…

Langbeen op die stoep

Die omgewing was lieflik groen en bebos, maar ons het skielik terugverlang na die stilte en kliprantjies van die Karoo… Daar waar jy die maan se opkoms kan inwag en dit jou nie skielik van after ‘n berg of boomtop verras nie.

Na ‘n heerlike ete het ek en Christoff nog so bietjie op die stoep vertoef om ons wyn klaar te drink, maar Juan het die kooi gaan tref… en ‘n kort wyle later het ons ook onder die gesuis van ‘n lugversorger ons kamerlig afgesit.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *