2019 Boesmanland – Dag 3

Vrydag – 2019/03/22

Ek het geslaap soos ek lanklaas geslaap het. Die nag was geluidloos! Nie eers ‘n muskiet wat kom fluister het in die nag nie.

Kort voor dagbreek het ek ‘n hekkie hoor oopgaan en toe sagte spore oor die gruis… Ek sou bietjie later uitvind dit was die honde se hokke se hekkie wat sommer so per tou van die hoofslaapkamer se venster af oopgetrek word, sodat die honde kan uitkom.

Ek wou nog bietjie lê en broei, maar ek moes eers ‘n draai loop voor ek weer gemaklik sou kon lê. Terug in die kamer het Christoff begin roer en ons het besluit om eerder met ‘n beker koffie te gaan kyk hoe die son oor die rantjies opkom. Die Locks was reeds wakker en het in hulle kamer nuus opgevang – reeds met ‘n beker in die hand. Ons het vinnig gegroet en teruggeglip kombuis toe om vuur te maak onder die ketel op die gasstoof.

Maar selfs so met die wag vir die koffie het ons uitgeglip buitentoe om ons te verkyk aan die diep rooi en oranje wolke wat teen die oorkantste horison die lug ingekleur het… Dit was behoorlik ingekleur. Nie skaam-skaam met sagte potlode nie, maar helder en met oorgawe soos ‘n kleuter met vetkryt inkleur!

Lappies en Nancy was ook buite, maar dit was duidelik ou Lappies se bene was maar stywerig na die vorige dag se rondhardlopery.

Die teelepel het teen die beker se wand begin klingel in die kombuis, soos Tannie Alta met die koffie doenig geraak het. Dit was ons teken om in te gaan vir ons eerste koppie boeretroos… Maar ons het dit nie weer buitentoe gemaak nie. Ons is met ons bekers ingenooi kamer toe en daar het ons saam met haar en Oom Frikkie onsself tuisgemaak en die dag se kuier afgeskop.

Nou moet ek myself eers in die rede val en bietjie meer detail oor Pietersfontein gee. Pietersfontein is nie gepla oor Eskom (of Evkom, soos die Locks nog daarna verwys) se beurtkrag nie. Oom Frikkie wek hulle eie krag op met ‘n reeks sonpanele en batterye waarvan die hele huishouding af hardloop. Hulle het hulle eie ondergrondse waterstoor waar reënwater opgevang word vir huis-gebruik en vir die res draai die windpompe… En die geyser is natuurlik sonverhit en as die outjie leeg is, skop die gas in… Lekker ingerig!

Terwyl ons Gouwse besig was om klaar te maak, het Tannie Alta aangegaan om die kospotte vir middagete in die sonoonde reg te kry. Dis nog ‘n manier waarop hulle die son kosteloos aanwend. Hulle het sonoonde wat in die son staangemaak word, die lig van die son opvang en weerkaats teen die potte, met ‘n deurskynende deksel. Baie effektief! Blykbaar beskikbaar by die Landbou Kooperasie. Oom Frikkie het dit net bietjie meer blink gemaak.

Vlakhaas, die dubbelkajuit bakkie, het gereed gestaan met die voer en honde agterop, toe ons op ‘n streep uit die huis kom en by die deure in wriemel. Oom Frikkie het ons so gesels-gesels weggery van die werf af en kort voor lank het ons stadsjapies ons verkyk aan hoe die eerste trop skape agter die bakkie begin aandraf, vanuit ‘n aangrensende kamp.

Tannie Alta het agter Vlakhaas se stuurwiel ingeklim, nadat Oom Frikkie die eerste paar korrels uit die hand uit vir ‘n ooi gevoer het. Toe hy gemaklik op die bakkie se flap plaasneem, strooi hy ‘n spoor korrels soos Vlakhaas stadig vorentoe beweeg… en die trop skape val in tou agter die voer aan.

So in die geskarrel agter die bakkie aan, het ‘n ooi gaan lê en toe Vlakhaas langs ons tot stilstand kom en Oom Frikkie weer agter die stuur inskuif, het sy steeds gelê. “Sy gaan lam”, was die uitslag soos ons weggery het en die vretende skape agtergelaat het.

By die tweede trop skape was dit dieselfde storie en hierdie keer was ek gereed met my selfoon om ook ‘n paar fotos te neem, al het Christoff die kamera beman. Van ‘n selfoon af kan jy mos dadelik fotos aanstuur. Dis nie eers aflaai en dan verklein voor jy dit met almal kan deel nie… en hierdie was deel-oomblikke… Ook maar goed.

Hierdie rondte het Juan saam met Oom Frikkie uit die hand uit gevoer en toe ook stelling ingeneem agter op Vlakhaas se flap, soos Tannie Alta haar rondte begin maak.

Tweede trop skape op loop agter die vallende voer aan

Nadat Vlakhaas sy draai gemaak het, het ons nog so vir ‘n wyle rondgestaan en die toneel ingedrink… Die lig was oop en blou met die son van agter, maar as mens in die son ingekyk het, was die toneel heel anders…

Lekker aan die vreet aan die korrels

Daar was ‘n verdwaalde lammertjie, wat deur sy ma agtergelaat was, in haar haas om by die voer uit te kom. Die dingetjie het so keel opgesit, dat Tannie Alta dit toe maar loop naderbring het, maar toe steek dit verbouereerd by die mense vas.

Oom Frikkie het egter weer vir Vlakhaas aangewakker en ons het gespring. Daar het nog ‘n ding of twee oorgebly wat ons moes sien, so die lam moes maar self weer die ooi vind…

So stop ons eerste by die son-aangedrewe radio wat tussen niks en nêrens staan en kliphard geselsies maak… Om die jakkalse weg te hou, my kind!

Oppad na die volgende stopplek, word ons beloon met een van Pietersfontein se inwonende uile, wat sommer reg langs die grondpad op die heining gesit het. Toe ons egter stilhou het dit afgevlieg grond toe en daar tussen die klippe en bossies gaan wegsmelt in die omgewing… Maar darm nie sonder dat daar ‘n foto van die kalant geneem was nie.

Pietersfontein se plaaslike uil – met komplimente van die Locks

Die volgende stopplek was ‘n lieflike plaasdam, gevoer deur ‘n windpomp, met ‘n vye boom wat pronk met ryp en amper ryp vrugte. Daar is sommer vinnig ‘n handvol gepluk van die onderstes en ons is almal met ‘n vars vy beloon… Heerlik!

Tannie Alta was van plan om ten minste ‘n bak of twee se vye te pluk, sodat dit saamgestuur kon word Gauteng toe, want daar is ‘n Ma of twee wat redelik stout is oor vars vye… Dus is Juan nadergehark en kon hy van die damwal af nog ‘n paar vye in die hande kry wat pluk-gereed was.

Juan ingespan om van die boonste vye te pluk

Voor ons weer ons plekke in Vlakhaas ingeneem het, moes die soet honde agterop die bakkie darm net eers bietjie liefde kry.

Oubaas se honne

Met die terugry het ons weer by die eerste trop skape gaan stop om te kyk of die ooi gelam het en jou wrintiewaar, sy was nog besig om die nageboorte van die splinternuwe lammertjie af te verwyder.

Ooi en haar lam – met komplimente van Tannie Alta

Maar met die aankom van die bakkie, het die res van die trop skape gedink dis kersfees en het hulle sommer weer nadergehardloop in die hoop vir ‘n tweede happie… Hulle was egter maar dikbek toe ons daar weg is sonder dat hulle enige iets verder gekry het.

Terug op die werf het Christoff gaan skuinslê, terwyl Tannie Alta die sous vir die pampoenpoffertjies gemaak het en Oom Frikkie ‘n paar aartappels bygedam het om skyfies te maak… Maar toe die kospotte van buite af inkom, was almal weer voltallig in die kombuis en het ons monde gewater… Die sonoonde het gekrummelde skaaptjops opgelewer, met rys en die pampoenpoffertjies. Laasgenoemde is toe verdrink in die heerlikste sous.

Ons het so lekker geëet dat ons almal eers bietjie moes gaan rus na ete…

Na ‘n uitgerekte middagslapie het ons onsself weer gaan tuismaak op die grasperk voor die huis. Hierdie keer is daar teiken geskiet met Oom Frikkie se gaspistooltjie… En selfs ek het ‘n beurt gekry om die teikens raak te skiet.

Kort voor die son die rantjies begin kleur het, het ons saamgestap na waar die twee hanslammers moes koskry. Hulle het omtrent in die opgekapte beet en pampoen ingeklim.

Na die hanslammers kos gekry het, moes die mense se aandete natuurlik ook weer aandag kry, so ons is terug huis toe… maar die kos was eers bietjie vergete toe die son die rantjies begin verkleur… en met ‘n windpomp op die toneel, hoe kan mens dan nou die kans gebruik om ‘n foto of twee te neem nie…

Een van die windpompe op die werf teen sonsondergang

Ons het almal weer gaan stelling inneem op die grasperk voor die huis, terwyl die vuur aangesteek is en die vleis en braaibroodjies uitgedra is. Ons het twee stelle braaibroodjies gebou, want volgens Tannie Alta is daar min dinge so lekker vir padkos, soos ‘n oorstaan-braaibroodjie… en ons moes saamstem.

Die maan het later opgekom as die vorige aand en ons het die kans gekry om die melkweg in al sy glorie te bewonder… Wat ‘n besonderse gesig! As ons in die stad opkyk, is jy gelukkig as jy ‘n handvol sterre te siene kry. Hier beloon die hemelruim elkeen wat opkyk, met ontelbare sterre en konstellasies… En dan besef mens maar net weer hoe ver ons verwyder raak van die natuur, wanneer ons ‘n stadslewe moet voer.

Ons laaste aand het te gou verbygeglip en voor ons ons kon kry was dit slaaptyd.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *