2019 Boesmanland – Dag 2

Donderdag – 2019/03/21

Donderdagoggend het ons hier by sesuur eers lewe gekry. Ons is almal met bekers stoep toe, waar Juan die verskafde beskuit verorber het. Nadat Christoff se beker leeg was, het hy verkas stort toe… En ‘n paar minute na hy weg is, sien ek ‘n swart voël aangevlieg kom uit die weste. Dit het op die oorkantste oewer op ‘n wiegende tak kom land…

Ek het skaars vir Juan genoem dat dit dalk ‘n visarend kan wees, toe klink die onmiskenbare roep op. Ek moet bieg, dit was ‘n halwe poging, want die jongerige arend het duidelik sy balans op die tak verloor en die roep was meer ‘n glips as die normale trotse roep.

Christoff is ingelig, maar hy het skaars sy voete op die stoep gesit, of die vlerke aan die oorkantste oewer is gesprei en die arend het verder ooswaarts gevlieg… Nou is dit net Christoff wat nog nie ‘n eerste-handse visarend roep beleef het nie.

Terwyl ek deur die stort is het die manne die kar gepak en kort voor lank was ons gereed om die rivier aan die een kant en die toringende mielieland aan die anderkant agter te laat.

Met ons rivierkykery wou Christoff op ‘n stadium iets deur die kamera se lens bekyk en het toe besef die kamera is sonder ‘n SD kaart ingepak, as gevolg van my gewoonte om die kaarte in die rekenaarsak te sit, as die fotos afgelaai is… en die spesifieke rekenaar was nie ingepak vir hierdie kuiertjie nie…

Ons wou op Prieska stop vir brandstof en Christoff vind toe sommer uit van moontlike winkels waar ons dalk ons hande op ‘n SD kaart kan kry… So is ons van die vulstasie, na die Spar, na ‘n algemene handelaar en toe na ‘n obskure Chinese winkeltjie op die dorp, waar ons toe wel ‘n mini SD kon kry, wat in ‘n standaard SD inslot… Ons was gereed vir 4GB se fotos, dankie Sandisk en Chinese winkeltjies. .. min het ons geweet…

Ons is uit Prieska in die Copperton rigting en kort anderkant Copperton het die teerpad oorgeskakel na grondpad Vanwyksvlei toe… Dit is ‘n mooi grondpad, so mens ry heel lekker, maar daar was geen sein tussen die bewoonde areas nie… en bewoonde areas is basies net by die dorpies…

Ons is by twee groot sonpaneel-plase verby in die Vanwyksvlei omgewing. Die plat, dor wêreld verleen hom beslis uit aan sulke tipe ontwikkelings.

Tannie Alta het gewaarsku dat ons nie onsself moet dik eet aan die padkos nie, want sy wag ons in met middagete. Gelukkig was daar maar min broodjies van die padkos oor, so met die uitry uit Vanwyksvlei, het ons afgetrek en die laaste broodjie of 2 gehap.

Die twee ure se grondpad van daar tot in Brandvlei het redelik goed afgeloop en ons was kort voor twaalf op Brandvlei. Die instruksie was dat ons op Brandvlei moes skakel… maar op Brandvlei was daar geen selfoon sein nie… Selfoontorings word nie met kragopwekkers aan die lewe gehou as Eskom beurtkrag toepas nie… Nie in hierdie kontrei nie!

So gebeur dit dat ons maar agter Tannie Alta se location pin aanry in Calvinia se rigting… Dit was weer teerpad, so dit het mooi op spoed geloop… So 80km uit Brandvlei kry ons weer sein en ek klim dadelik op om met Tannie Alta te gesels… Daar maak ons toe maar ‘n U-draai terug Brandvlei toe, want die alternatief was omtrent ‘n Kaapse draai… Terug Brandvlei toe en met die grondpad, links agter die begraafplaas, Loeriesfontein toe…

Die 80km terug Brandvlei het verbygevlieg, want die man agter die stuur se voet was woes swaar teen die tyd. In Brandvlei was daar weer sein, danksy Eskom, so ons kon weer op die foon klim en die afdraai Loeriesfontein toe bevestig… so ook die bakens op die grondpad, sodat ons kan seker maak ons ry by Pietersfontein se hek in.

Bietjie later as beplan, maar darm in een stuk, is ons ingewuif rondom die plaashuis en het ons bagasie afpakplek in verskillende kamers gekry. Die kos was lankal reg, maar ons moes eers bietjie bene rek, voor ons om die tafel kon gaan plaasneem. Die manne het so bietjie die plaaswerf gaan verken.

Pietersfontein se plaaswerf teen sonsondergang

Tannie Alta het ons bederf met die heerlikste cannalloni en so deur die smullery deur het die geselskap sommer net aangegaan waar dit maande gelede opgehou het.

Na ete het Tannie Alta my deur die huis gevat en verduidelik hoe die huis oor tyd “gegroei” het tot waar dit nou is. Sy het buite gaan wys waar die mure en pleister reggemaak moes word, wat gesorg het vir die lieflike klipafwerking wat nou daar pryk… en so hak ons toe op die bankie in die voortuin vas.

Die manne het later by ons aangesluit, terwyl Lappies en Nancy baie ingenome was met die feit dat Juan se arm meer as bereid was om gereeld iets in ‘n koers in te slinger, sodat hulle dit kon gaan haal en terugbring vir nog ‘n rondte… en nog ‘n rondte…

Toe Oom Frikkie egter met sy punt 22 uitkom en hulle ‘n paar bottels met water gaan staan maak vir teikens het die honde bietjie verdwyn en Juan se oë het ‘n nuwe vonkel gekry… So tussen die klap van skote deur het kwinkslae geval wanneer die bottels nie geval het nie… Van mikpille in die kluis, tot die verdoemenis van die verloorder as die braaier vir die aand.

Ek is saam met Tannie Alta in kombuis toe, sodat sy kon skottelgoed was en ek die braaibroodjies kon aandurf – met hulle spesiale speserye… maar toe die verpligtinge klaar was, het almal weer buite vergader, terwyl die vuurtjie lewe gekry het en ons die horison begin dophou het vir die maan wat moes opkom.

Oom Frikkie het ons vroeër met trots gewys hoe hy die vorige aand se maanopkoms vasgevang het… en die wat hom volg op Facebook, sal weet waarvan ek praat… en vir die wat nie doen nie, probeer hier kyk.

So tussen die eerste proesels van die vuur af, het ons die horison begin dophou vir die skynsel wat stelselmatig helderder begin raak het. Kort voor lank het die maan die Karoo rantjies agtergelaat en sy pad oor die hemelruim begin vat… en in die proses die ander sterre verdof… Daar was egter nog genoeg sterre te sien dat Christoff sy selfoon bo sy en Tannie Alta se kop uitgelig het om sterre te identifiseer.

Daar was ook ‘n gecuddle aan die gang op die grasperk, nadat Tannie Alta vir Juan ‘n deken en kussing uitgegooi het… en Nancy haar by hom gaan tuismaak het.

Soos die vleis afgekom het van die vuur af, het die braaibroodjies hulle plek gevat, maar voor die laaste broodjies afgekom het van die vuur af, het daar al meer as een in Juan se maag in verdwyn… Die spesiale speserye was beslis ‘n treffer!

Na die middag se heerlike ete en die gepeusel van die vuur af, was ons nie regtig meer honger teen die tyd wat ons om die tafel gaan sit het nie, maar die braaibroodjies het so lekker gelyk, ons moes maar nog bietjie deurdruk met ‘n broodjie en ‘n klein stukkie vleis, net om die bord nie te leeg te laat lyk nie.

Maar ons borde was skaars leeg, toe die beddens baie hard en duidelik begin roep het uit die kamer uit. Ons het onsself verskoon, tande gaan krap en onsself gaan regmaak vir ‘n nag van soete rus in die stilte van Pietersfontein.

Vir meer gebeure, loer gerus na die ander dae se plasings van die inleiding af. Of blaai hier na die volgende dag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *